Vergeet van jou Ouma se knooptrui! Die nuwe knooptrui-of ooptruistyle is volop, veelsydig, kleurvol en gepas vir elke uitstappie en seisoen. Hier’s 5 knooptrui-style wat tans trend plus handige knooptrui-wenke en stileerraad daarby. Deur Justine Kroes
21/06/2024
Hierdie 5 knooptrui-style trend:
1. Kies ’n “coatigan”
Hierdie jaar is die “coatigan” groot nuus – ’n kruis tussen ’n jas en ’n knooptrui. Effens langer en dikker geweef as ‘n kort knooptruitjie en het ook gewoonlik nie knope nie. Hier is ‘n paar gunstelinge:
2. Hoe rooier hoe mooier
Soos jy seker teen die tyd al weet…is dit ’n reuse mode tendens om ‘n tikkie rooi te dra. Van handsakke tot skoene en selfs ‘n rooi knooptrui sal jou laat uitstaan as ‘n in die kol modekenner.
3. Swart en wit luukse streeptrui
Die gestreepte trui voorkoms is ’n kledingstuk wat oorvloei van die “old money aesthetic” aantrekstyl. Hierdie swart en wit streep knooptrui met goue knope is vanjaar die moet besit trui en is tans volop in die winkels oral oor!
’n Veelsydige kopie wat vir nog lang jare ’n tydlose item in jou klerekas sal wees. Dra dit by denims, winterrompe en selfs vir somer oor jou gunsteling wit, swart of helderkleurige somersrokkie.
4. Knooptrui met tekstuur
Hierdie seisoen is tekstuur ‘n gonswoord – dink aan geweefde luukse teksture tot boucle, en donsige truie. Kies hierdie winter ‘n knooptrui in ‘n interessante tekstuur.
5. Kies ‘n kraag
Truie met ‘n v-halslyn kraag is die afgelope ruk gewilde trui-keuses. Daar is selfs baie knooptrui style met ‘n kraag wat ons graag sal wil besit.
Hou dit in gedagte wanneer jy ‘n knooptrui kies:
As jy die oorgroot/ lospassende knooptrui styl kies, pas dalk ’n kleiner nommer aan. Ja ons weet die oorgroot-tendens is steeds groot nuus, maar té groot en té lank mag jou dalk net groter laat lyk as wat jy werklik is.
Let op waar jou knooptrui eindig – dit sal afhang van jou lyfvorm. Met ’n kleiner middellyf is die cropped cardigan-styl vir jou gemaak.
As jy ’n driehoekige lyf het (peervorm), wees versigtig dat jou knooptrui nie rondom jou bobene (die wydste deel van jou liggaam) eindig nie – kies eerder ’n langer of korter styl.
Onthou om jou proporsies te balanseer: lospassende truie met noupassende klere onder. Maak seker dat die onderste laag wat jy dra effens meer noupassend is. ’n Lospassende knooptrui bo-oor ’n lospassende uitrusting kan slordig en bonkig lyk wat ook maklik visuele gewig tot jou silhoeët kan toevoeg.
Loer altyd na jou agterstewe met jou knooptrui aan. Ja die voorkant mag dalk vleiend lyk, maar moenie van agter vergeet nie. Maak seker dat die knooptrui (hetsy lank of kort) op ’n vleiende gedeelte val en nie ekstra visuele gewig onnodig bysit nie.
Slim-stileertruuks met jou knooptrui:
Gebruik jou knooptrui om te “layer”. Die knooptrui is gemaak vir elke seisoen! Altyd maklik om lag-op-laag te dra, afhangende van die weer. Rolnektrui (poloneck) onderaan op koue dae, oor ’n lenterok, selfs by ’n T-hemp en jeans met opgerolde moue vir warmer dae. Die “layering” truuk werk selfs met ‘n lospassende knooptrui bo oor ‘n kleiner knooptrui en warm jas hier bo oor.
Beklemtoon jou middel – indien jou knooptrui knope het, maak die knope rondom jou middel vas en los die boonste en onderste knope oop – dit skep daardie gewenste uurglasfiguur-illusie.
Nog ’n manier om jou middel te beklemtoon – dra ’n gordel rondom die knooptrui. Dit aksentueer jou middel en verhoed dat die klere onder jou knooptrui te bonkig lyk.
’n Oorvou-knooptruistyl is vleiend vir die meeste vroue omdat dit jou middel intrek en weereens ’n uurglasfiguur skep.
Eksperimenteer met verskillende lengtes, byvoorbeeld ’n korter romp met ’n langer knooptrui lyk altyd stylvol.
Die meeste lang (longline cardi’s en coatigans) knooptruie wat voor oophang skep ’n lang regaf vertikale lyn wat jou skraler laat vertoon.
Hou jou klerekas in gedagte wanneer jy jou knooptrui koop – probeer visualiseer waarby jy dit sal dra en of die snit, styl en skakering by die inhoud van jou klerekas gaan pas.
Jy kan selfs jou langer toeknoopstyl-oortrui as ’n rok dra, ’n korter leerbaadjie en enkelstewels daarby sal fantasties werk!
Dit is selfs nou hoogmode om jou knooptrui om jou skouers vas te bind in plaas van ‘n serp.