Hierdie beddegoed is nou op ons wenslysies! Van linne tot wafeltekstuur en warm aardse skakerings met kleur wat effens uitgewas lyk. Deur Suzanne Kotzé
2022 se beddegoed gaan alles oor lae. Vanaf kleurlae (dink aan verskillende skakerings en tone van ’n kleur wat saam gebruik word) tot lae van tekstuur. Moenie bang wees om verskillende teksture en kleure saam te gebruik nie.
Beddegoedkleure wat nou in is
Ons is moeg vir neutrale grys en wit en hierdie beddegoed in warm, aardse skakerings het ons oog gevang. Die kleure is nou volop te sien in die winkels en ons was glad nie verbaas om te lees dat hierdie aardse skakerings, van terracotta tot verskllende pienke, rooibruin en mosterdgeel nou baie in die mode is nie.
Die skakerings skep glo ’n koesterende, warm gevoel, presies wat jy in jou slaapkamer wil hê.
Beddegoed met wafeltekstuur
Ons het verlief geraak op die wafeltekstuur toe ons japonne van hierdie materiaal begin dra het. En nou is hierdie wafeltekstuur natuurlik in beddegoed ook beskikbaar.
Linne beddegoed
Ons het hierdie mooi linne beddegoed by Mungo se winkel in Plettenbergbaai raakgesien en absoluut verlief geraak daarop! Ons gaan nog lank moet spaar hiervoor, maar eendag! Linne is natuurlik anti-allergenies, en is bekend daarvoor dat dit jou liggaamstemperatuur kan help reguleer. Dink maar net hoeveel beter ’n linnerok op ’n somersdag voel. Mmm, dalk moet ons minder linneklere koop en eerder linnebeddegoed, want ons bring immers langer in ons bed deur as in dagklere!
Kwilt
’n Kwilt is goeie en maklike manier om tekstuur by jou beddegoed in te sluit. Kwilts met geometriese stikpatrone is veral in aangesien dit tekstuur en diepte skep. Jy kan dit natuurlik net op die voetenent van jou bed gooi of heeltemal bo-oor jou bed. Dit is ook ’n goeie manier om kleur in te bring; veral as jy steeds wit beddegoed verkies.