Ons sien al hoe meer meubels en dekor met kurwes. Dit skep ’n warm, gesellige atmosfeer en pas by so veel dekorstyle. Deur Suzanne Kotzé
08/03/2024
Gewelfde meubels
“Meubels met kurwes is steeds in en ons gaan net nog meer daarvan sien. Verwag nog meer rondings, soos halfmaanbanke en ronde rugleunings op stoele en beddens met sagte rondings,” sê Lize Barnard, meubelaankoopbestuurder vir @home.
Gesellige atmosfeer
“Gewelfde meubels of meubels met rondings skep ’n warm, uitnodigende gevoel,” sê Lize. Dit is ’n wonderlike manier om warmte in veral minimalistiese huise (wat geneig is om meer van ’n koue atmosfeer te hê) te skep.
Interessante lyne
“Die buitelyne van gewelfde meubels skep ’n interessante silhoeët en lyne vir jou oë om te volg. Dit kan dadelik ’n vertrek meer interessant maak,” verduidelik Lize.
Dit kan ’n meer informele gevoel skep
Die kurwes en rondings is meer speels, en kan ’n meer onstpanne, informele gevoel skep.
Dit werk saam met verskeie dekorstyle.
Van die minimalistiese styl, of saam met die Quiet Luxury styl (veral as jy hierdie meubels in ’n geweefde tipe materiaal soos bouclé of linne gebruik) of selfs saam met die Maksimalistiese dekorstyl. Ons sien nog nie vreeslik baie meubels in kleur in Suid-Afrika raak nie, maar jy kan altyd ’n neutrale bank opkikker met helderkleurige strooikussings.
Gekleurde kurwes
Hierdie mooi meubels en ontwerpe is van Rana Gunes, ’n interieurargitek en meubelontwerper. Loer gerus na haar Instagram blad hier.