Het jy geweet ongeveer 80% van vroue koop of dra die verkeerde styl of grootte bra? Die meeste van ons mag dalk dink ’n bra pas ons goed, maar kenners meen bra koop en kies is meer tegnies as wat jy dalk dink. Hier is raad: wenke om die regte bra te kies, plus 7 foute om te vermy wanneer jy jou volgende bra-inkopie doen. Deur Justine Kroes
05/04/2024
Jy besit te min bra’s
In die ideale wêreld hoort elke vrou ten minste drie bra’s te besit wat op rotasie gedra kan word. Een aan die lyf, een in die was en een in die kas.
Liza Clifford
Liza van the Liza Clifford Bra Studio sê “Hierdie rotering van bra’s sal vir elk van jou bra’s ’n ruskans gee en ook verseker dat die elastisiteit nie konstant uitgerek word nie. Onthou jou bra is ’n kledingstuk wat hard werk en moet ’n tydjie af geniet tussen dra”.

Jy kies die verkeerde skakering
Volgens Liza is ’n wit bra nie eintlik ’n baie veelsydige kleur of praktiese skakering vir ’n bra nie. Eerstens bly dit nooit regtig wit nie, want sweet en sonrome laat jou wit bra gou vaal lyk. Plus, ’n wit bra staan baie uit onder ’n wit hemp, meer as wat ’n velkleurbra (nude) byvoorbeeld doen.
Liza sê: “Ons bra skakering raad is om een nude, een swart en een rooi bra te koop. Om mee te begin is ’n nude bra skakering die mees veelsydigste omdat jy dit onder wit, kleur asook swart kan dra.

Ons sou dan ’n swart bra en ’n rooi skakering voorstel. Indien jy meer klere in baie ligte skakerings besit – belê eerder in twee nude bra’s. Indien jy baie meer swart of donker klere dra – belê dan eerder in twee swart bra’s, verduidelik Liza.
Rooi is ’n prettige kleur om in jou bra-arsenaal in te sluit, en jy gaan dit dalk nie glo nie, maar is minder opsigtelik onder ’n wit hemp of bloes as jou wit bra.
Jy sorg nie vir jou bra nie
As jy ’n goeie kwaliteit bra-inkopie maak is dit belangrik dat jy mooi na jou bra kyk.
Die reël is eintlik om al jou bra’s met die hand te was, maar ons weet in werklikheid gebeur dit nie altyd nie.
Indien jy jou bra in die wasmasjien was, koop ’n onderklere wasgoed sakkie “lingerie wash bag” waarin jy jou bra plaas voordat jy dit in die wasmasjien was. Dit sal verseker dat jou bra en bandjies nie uitrek of die koppies van jou bra hul vorm verloor nie.

Moet wel NOOIT jou bra in ’n tuimeldroër droogmaak nie, die hitte beskadig die rekband en dit verloor dan elastisiteit. Moet ook liewers nie jou bra in direkte sonlig hang om droog te word nie.
Ons het ’n oulike wenk raakgesien – stoor of pak jou bra’s binne in mekaar, so behou die koppies hul vorm en die drade buig nie onnodig nie.

Jy let nie op na hoe jou bra sit nie
Dink so daaraan, wanneer jy tuiskom na ’n lang dag en jy wil dadelik jou bra uittrek, let ’n slag op wat jou pla. Is dit die bandjies wat jou skouers seer maak, sit die band onder jou borste te styf of maak die draad in jou bra jou seer?
Soms is ons so besig, ons besef nie eintlik hoekom ons bra ongemaklik sit nie dan maak ons die fout om weer dieselfde styl, grootte en koppiegrootte te koop.

Jy dink jou bra-bandjies (straps) behoort al die werk te doen
Die bra-band verwys na die band wat rondom jou lyf pas (nie daardie bandjies oor jou skouers nie). Liza sê: Jou bra-band moet reg pas onder jou borste, reg rondom jou lyf tot waar jy die bra vasgespe op jou rug. Hierdie band bied ondersteuning en is ook verantwoordelik vir ’n “lig” effek. Jou bra-bandjies (straps) moet nie gebruik word om jou borste te lig nie, dit is die band rondom jou lyf se werk. Die bra-bandjies (straps) is bloot daar om stabiliteit te bied.

As jou bra-band (om jou middel) opkruip, sit dit te los en jou bra is te groot.
Wenk: wanneer jy jou bra koop, maak seker jy kan hom ook gemaklik op die eerste of tweede verstelling van die hakies dra. Onthou ’n bra rek uit hoe meer jy hom dra.
Jy dra die verkeerde grootte bra
Hier behoort jy die bandgrootte asook jou koppiegrootte in ag te neem.
Liza sê die meeste vroue dra nie die regte bragrootte nie, omdat hulle óf nie die regte grootte (32/34/36) band dra nie en daarby kies hulle ’n koppie grootte (A/ B/ C/ D) ook verkeerd.

Volgens Liza is daar vir vroue met groter borste min verskeidenheid in die winkels beskikbaar wat nie juis die soekproses vergemaklik nie. Vroue met klein borste fokus weer op die koppiegrootte eerder as hoe die band rondom hul lywe pas. Hulle kies gereeld ’n A-koppie, met ’n band wat te los pas, wat dan gapings in jou bra veroorsaak. Liza sê dit is dus belangrik dat sowel vroue met groot as die met klein borste ’n bra-passing/ konsultasie oorweeg.
Jy gaan nie vir ’n professionele brakonsultasie nie
Volgens Liza is die heel grootste bra-fout as jy nie vir ’n ordentlike bra-aanpas konsultasie gaan nie.
“’n Goeie brakonsultasie behoort ten minste 30 minute tot ‘n uur lank te neem, dit beteken nie net ’n vinnige meet en pas nie”
Liza Clifford
By ’n Liza Clifford Bra Studio-konsultasie gebeur die volgende:
- Assessering; om heel eerstens vas te stel wat die kliënt se behoeftes is en wat sy verwag van haar konsultasie.
- Passing: Hier word die kliënt gemeet en gepas. Die konsultant neem ook die vorm van jou borste, jou liggaamsvorm, leefstyl en vele meer aspekte in ag voordat die regte bra vir jou voorgestel word.
- Opvoeding: Tydens hierdie stap word daar vir die kliënt meer geleer oor groottes, koppie- groottes, wat vir haar werk en wat nie vir haar werk nie. Ons leer ook vir kliënte hoe om hulle bra reg aan te trek en daarvoor te sorg, verduidelik Liza.
Met die meeste konsultasies is ’n uur amper nie genoeg nie. Die konsultasie kos R350 en is gratis indien jy ’n bra koop by Liza Clifford Bra Studio.