Het jy al van die ‘balletcore’ modetrend gehoor? Of dalk opgelet hoe baie balletskoene (pumps), en tulle rompe daar tans oraloor beskikbaar is? Hierdie verskynings is danksy die “balletcore” mode tendens, wat natuurlik deur ballet geïnspireer word. Lees meer oor hierdie modetrend, wat dit behels en hoe om dit reg aan te pak. Deur Justine Kroes & Suzanne Kotze
26/04/2023
Geïnspireer deur ballet
Balletcore as modetrend is natuurlik deur ballet, en die mode daarvan, geïnspireer. Die middelpunt van die tendens fokus op sagte materiale, pastel of effe skakerings en vroulike silhoeëtte.
Die kleurpalet is gewoonlik sagter, dink aan pastel skakerings, meer neutraal, monokroom of swart. Hoewel die trend nie beperk is tot neutrale skakerings nie, is daar ook heelwat “balletcore” mode-items in helder skakerings beskikbaar – sou jou stylpersoonlikheid dit verkies.

Balletcore stilering
Die “balletcore” voorkoms wissel van ’n danser in ’n eenstuk (dink aan ’n leotard), tulle/ net/chiffonromp en ’n strik in die hare tot ’n danser wat op pad is na ’n dans toe, of klaar gedans het. Meer gemaklik in ’n oorvou (wrap-styl) truitjie, balletskoene (pumps) met arm of beenverwarmers aan.
Hoewel daar baie uitrustingidees met die balletcore tendens is, is die belangrikste om jou stylpersoonlikheid in gedagte te hou wanneer jy graag die trend wil aanpak.

Maak die tendens jou eie – as jy ’n meer gemaklike voorkoms verkies, dra jou tulle/net romp met tekkies en ’n t-hemp. Of dra jou denims saam met ’n oorvou truitjie en ’n paar ballet pump-styl skoene. Of as “meer is meer” jou mantra is dra die balletcore trend van kop tot tone asof jy werklik op pad is na ’n modieuse balletklas.
6 Moet-hê items vir jou Balletcore uitrusting:
1. Net, tulle, chiffon rompe
Lank, of kort, valle of deursigtig, 2024 is beslis die jaar van die netromp.
Of jy dit nou wil dra à la Carey Bradshaw in Sex and the City of meer ‘grungey’ (saam met bonkige skoene), meer sportief (saam met tekkies en ’n sweetpaktop) of wil lyf wys met onderklere wat wys.
Suzanne het tydens ’n onlangse vakansie in Japan gesien hoe groot netrompe aan die modefront is. “Gelukkig het ’n vriendin wat ook onlangs daar was, my reeds hiervan vertel en ek kon sorg dat ek ’n netromp of twee inpak. Ek het veral daarvan gehou dat jy nie noodwendig jou netromp ‘girly’ hoef te laat lyk nie. Die monokroom voorkoms, byvoorbeeld ’n room jas saam met ’n room netromp, of enkellaag netrompe wat bo-oor jeans of broeke gedra word, was beslis van my gunsteling maniere hoe die mode-bewuste Japanese dit gedra het. Dit het my laat besef hoe veelsydig so ’n romp kan wees, want saans kan jy dit weer saam met hakke en ’n baadjie dra of selfs balletskoene en ’n truitjie (vir die vroulike balletvoorkoms).

Ons het beslis nou ‘n paar op ons modewenslysie:





2. Rokke met volume

As netrompe nie vir jou is nie, is ’n rok of romp met volume die volgende moet-hê kledingstuk. Ultra vroulike silhoeëtte in uitklokontwerpe of selfs bubble-styl pofrokke. Hier is ’n klompie opsies:
3. Balletskoene (ballet pumps)

Skoenerakke in die winkels is tans volop met hierdie gemaklike, plat en stylvolle skoen. Kies een in silwer of rooi om ’n stelling te maak. Of neutraal in nude of bruin wat by als sal pas. Ons hou veral van die met die vierkantige voorpunt of die mesh (deursigtige) style vir daardie tikkie #ekstra!
4. Eenstuk (bodysuit)
Die eenstuk (of bodysuit) is soortgelyk aan ’n ballet leotard. Hierdie eenstuk bodysuits is ’n wen onder ’n tulle romp, niks meer gesukkel met ’n hemp wat optrek, of moeilik en bonkig is met die insteek nie.
’n Eenstuk werk net so lekker by ’n paar denims en daar is deesdae so baie verskillende ontwerpe beskikbaar. Van langmoue, mouloos, en selfs eenstukke met valle en frille.
Wenk: wanneer jy ’n eenstuk koop, maak seker daar is gespe aan die onderkant – indien nie, sal jou badkamerbreke lank raak met al die aan en uittrek!
5. Oorvoutruie
Onthou julle daardie pragtige pienk oorvou-styl ballettruitjies? Hierdie oorvou-truistyl is net so eie aan die balletcore trend. Dra dit by jou denims, rompe of selfs oor rokke.
6. Balletbykomstighede

Dink aan al daardie bykomstighede wat ballet spesiaal maak, van strikke (op klere of in jou hare), 3 dimensionele blomme en haarscrunchies in ’n bolla. Selfs daardie pastelpienk arm en beenverwarmers, of lang sokkies by jou balletskoene/pumps.
As jy dalk onseker is oor die beenverwarmers, armverwarmers en knippe by dosyne – kyk net hoe stylvol lyk hierdie:
