Hiberneerweer het aangebreek en indien jou huis ook yskoud raak tydens winter deel ons 8 verwarmer kies wenke om jouself en jou huis warm en knus te laat voel.
Met soveel verskillende verwarmer opsies beskikbaar is dit belangrik om die volgende in gedagte te hou voordat jy jou verwarmer kies. Deur Justine Kroes
8 Verwarmer kies wenke:
Hou hierdie in gedagte voordat jy jou volgende verwarmer koop:
1. Ken jou verwarmer
Olie-verwarmers
Ideaal vir slaapkamers en leef-areas waar jy konstante, langdurige warmte wil hê. Dit neem ’n bietjie langer om die spasie warm te maak, maar behou hitte uitstekend en werk stilletjies.
Waaierverwarmers
Kompak en bekostigbaar om te koop. Hierdie tipe verwarmer verhit vinnig jou spasie en is perfek vir kleiner ruimtes. Ideaal vir badkamers of tuiskantore, maar kan effens raserig wees en minder energie-doeltreffend oor tyd.
Infrarooi- / paneelverwarmers
Moderne keuse hierdie verwarmers verhit mense en voorwerpe direk eerder as die lug. Infrarooi verwarmers bespaar jou energie verbruik en werk effektief in goed-geïsoleerde ruimtes of vir geteikende verhitting.
Gasverwarmers
’n Kragtige opsie vir groter, oopplan ruimtes. Gasverwarmers lewer goeie hitte en werk vinnig. Hou in gedagte hierdie verwarmer vereis goeie ventilasie en versigtige gebruik en is meer geskik vir ervare gebruikers.
Keramiek verwarmers
Bly die sinvolle opsie, dit word vinnig warm, die energie verbruik is meer doeltreffend en oor die algemeen ‘n veiliger keuse danksy die ingeboude temperatuurbeheer. Ideaal vir mediumgrootte vertrekke.
Konveksieverwarmers
Hierdie verwarmer verhit die lug wat dan deur die vertrek sirkuleer, wat ’n egalige en konstante vloei van warmte skep. Dit is ideaal vir medium tot groter ruimtes, maar werk die beste in goed-geïsoleerde kamers aangesien hitte maklik kan ontsnap.
2. Hou die spasie van jou vertrek in gedagte:
Die grootte van jou ruimte teenoor die van jou verwarmer maak saak. Pas altyd jou verwarmer by jou ruimte aan. ’n Klein verwarmer sal nie ’n groot vertrek effektief verhit nie, terwyl ’n te groot een binne ’n kleiner ruimte nie koste effektief sal wees vir energie verbruik nie.
3. Energie/kragverbruik:
Kies modelle met verstelbare termostate en energie/ krag-besparende stellings. Sommige verwarmers is goedkoper om te koop, maar duurder om te gebruik.
4. Veiligheidskenmerke is noodsaaklik
Gee voorkeur aan verwarmers met omvalbeskerming, oorverhittingsafskakeling en koel-aanraaking oppervlaktes, veral as daar kinders of troeteldiere in die omtrek van jou nuwe verwarmer sal wees.
5. Geraas vlakke
Hou die klank/ geraas wat jou verwarmer maak in gedagte. Vir slaapkamers of stil ruimtes is olie- of paneelverwarmers ideaal. Waaierverwarmers kan steurend wees in ruimtes waar rus belangrik is.
6. Draagbaarheid & ontwerp
Gaan jy die verwarmer tussen kamers rondskuif? Hou dit in gedagte voordat jy jou heater kies. Indien jy gaan, kies gerus ligte ontwerpe met wiele of handvatsels, ‘n praktiese ontwerp.
7. Bedryfskoste
Hou die bedryfskostes van jou nuwe heater in gedagte. Elektriese verwarmers is oor die algemeen makliker om te beheer, maar moontlik ook duurder op jou kragverbruik. Terwyl gasverwarmers meer koste-effektief kan wees vir groter ruimtes maar meer toesig en aandag verg.
8. Kies ‘n stylvolle ontwerp
Jou verwarmer hoef nie noodwendig soos ’n seer duim in jou vertrek uit te staan nie, kies ’n ontwerp wat by jou huis se styl inpas. Verruil jou reuse ou verwarmer vir ’n moderne weergawe, een wat nie so baie spasie opneem nie, beter kragverbruik het en boonop mooi lyk in jou spasie.
Die beste verwarmer is nie noodwendig die grootste, duurste of kragtigste nie, dit is die een wat by jou ruimte en leefstyl pas. Fokus op doeltreffendheid, veiligheid, effektiewe kragverbruik en gemak.



















