Warmer weer is vir ons sinoniem met ‘n pragtige somerrok. Ons deel 8 somerrok style op die stylvol radar, van plooie, patrone tot slooprokke en boonop dramatiese rokke wat AL die aandag geniet! Een ding is wel verseker, al hierdie verskillende rokstyle is tans volop in helder skakerings, Ons moedig jou aan – kies ’n slag iets bonts en vroliks! Deur Justine Kroes
11/11/2022
1. Die uitgesnyde (cut-out) rok
Enige rok met uitgesnyde gedeeltes op die rok sal die somer oral te sien wees. Te danke aan ontwerpers soos Proenza Schouler en Stella McCartney is hierdie negatiewe spasie tendens besig om al hoe meer gewild te raak.
Wenke: Die sleutel hier is om ’n rok te vind wat vir jou werk – as jy nie graag jou maag wil wys nie kies dalk ’n ontwerp waar die uitgesnyde gedeelte op jou rug of sy is.
2. Die drama faktor
Hoe meer kleur, plooie, pofmoue, valle, patrone en detail hoe beter – rokke wat in hierdie kategorie val is die tipe rok wat jou asem wegslaan en jou dadelik die gevoel gee – “sjoe ek wil ook so ’n rok in my klerekas hê”.
Wenk: Onthou met so ’n rok om die rok met selfvertroue te dra – onthou, jy dra die rok, nie andersom nie!
3. Die denim somerrok
Daar was hope deniminspirasie op die internasionale modeloopplanke vir somer 2022. En denimrokke en -rompe is nou weer groot (dankie y2k jare!). Hoewel die denimrok seker nie een van die ligste en koelste somerrok-opsies is nie, dink ons wel dit is ’n baie cool trend wat al hoe meer gewild gaan raak.
Wenk: Kies ’n denimrok met materiaal wat effens rek, glo ons, dit is meer gemaklik!
4. Die outyds maar modern mooi
Die trend staan ook bekend as “regencycore” dink aan moue wat ’n stelling maak, blompatrone, kant en korset bo-stukke. Eintlik enige romantiese elemente maar met ’n moderne verskil.
Wenk: Hou jou hare hierby meer sjiek (dalk reguit of teruggekamde lae bolla) in plaas van krulle – dit sal die hele voorkoms dadelik ’n meer moderne fokus gee.
5. Die eenskouer
Die rok snit bly nou maar eenmal sjiek en die assimetriese eenskouerlyn is vleiend en verslankend aan die meeste liggaamsvorme. Midi, maxi of minilengtes in die rok, kies vir jou ’n lengte waarin jy mooi en gemaklik voel.
Wenk: ’n goeie bra hierby bly belangrik!
6. Die slooprok
Hierdie stylvolle satynrok is nou al vir ’n rukkie oraloor te sien en volop in die winkels beskikbaar in helder skakerings en patrone. Hoewel ons definitief groot aanhangers van kleur is, is ’n tydlose slooprok in neutrale skakerings net so treffend.
Wenk: dra die rok met ’n wit T-hemp onderaan met tekkies daarby vir ’n gemaklike cool dag voorkoms.
7. Die plooie rok
Plooie is terug – plooirompe en rokke veral (vintage liefhebbers nou’s die tyd om al jou Ouma se plooi rokke af te stof!). Weereens is helder skakerings hier die gewilde opsie.
Wenk: Hou jou bykomstighede simplisties vir ’n moderne minimalistiese voorkoms omdat die plooie reeds treffend genoeg is.
8. Die blompatroon
Hoe sê Miranda Priestly van die fliek Devil Wears Prada – “Florals for spring? Groundbreaking”. Nes Miranda is ons nie juis verbaas nie want ons weet elke somer is die blompatroon terug. Hoewel dié jaar is die patrone – veral op somerrokke – piepklein en fyn of groot en bont – ons hou veral van die groot en bont patrone.
Wenk: Groter blomme werk gewoonlik vir groter lywe en klein blomme vir meer petite lywe. Hoe groter die patroon, hoe kleiner laat dit jou vertoon, dus as jy sekere areas wil laat slanker lyk, dra ’n groter blompatroon.