7 Modewenke om jou voorkoms te verhef

Wanneer ons self in ’n modegroef verval (glo ons, dit gebeur gereeld!) en ideeloos voor ons klerekaste staan gebruik ons hierdie staatmaker stileerwenke om ons nuut te laat dink oor ons modekeuses en hoe ons blitsvinnig ons voorkoms kan verhef. Hier is 7 maklike modewenke om jou voorkoms te verhef en op te dateer

Partykeer het jy net daardie idee-hupstoot nodig om iets nuuts te probeer. Ons is hier om jou te herinner jy behoort nie jou modekeuses te ernstig op te neem nie, jy mag pret hê met jou modebesluite. Deur Justine Kroes

Fotograaf: Anrie Swan

04/04/2025

7 Modewenke om jou voorkoms te verhef

1. Hou staatmakeruitrustings in jou mode-arsenaal

As ons terugkyk deur al die jare in mode is ons dit eens – dit bly belangrik om klere-items te kies wat jou stylpersoonlikheid en liggaam goed pas en waarin jy goed voel. Wanneer jy klere-inkopies doen – kies juis kledingstukke wat jou vol selfvertroue laat en van goeie gehalte materiale gemaak is. Hier’s hoekom:

Op dae wanneer jy onseker is wat om aan te trek, is dit veel makliker om na daardie goedvoel rok, denim, of pak uitrusting te gryp.  Daardie staatmaker-uitrusting waarin jy vlymskerp voel en wat die komplimente deur die loop van die dag inryg.

Van links na regs: Aktrise Donnalee Roberts, Stylvol se Justine Kroes en Suzanne Kotzé.

Kies hierdie kledingstukke en uitrustings op dae wat jy graag modieus wil voel en lyk maar sonder al die ekstra moeite van meng, pas en allerhande stileertruuks.

Identifiseer twee tot drie van hierdie staatmaker uitrustings en hou hul in jou mode-arsenaal. Vir ons is dit ’n goedvoel somersrok, ’n paar wyepyp denims en goeie gehalte wit T-hemp, ’n pak wat gemaklik sit en ’n wit kraaghemp en romp kombinasie.

2. Waag met kleur

Kleur sorg vir daardie onmiddelike dopamiene hupstoot, en is ’n blitsvinnige manier om jou voorkoms te verhef.

Twee dinge gebeur wanneer jy daardie helder skakerings dra, jy voel dadelik meer gelukkig en mense rondom jou glimlag vir jou en gee dalk vir jou ’n mooi kompliment oor jou uitrusting of die kleur daarvan. Wat in ruil sorg vir daardie ekstra dopamiene hupstoot!

Indien helder skakerings glad nie vir jou is nie, kies ’n monokroom uitrusting kop tot tone (in dieselfde kleurfamilie) in ’n meer neutrale kleur, soos wit, beige, swart, grys of selfs boergonje (wynrooi), die seisoen se top skakering. Die eenvoud daarvan om een skakering van kop tot tone te dra is nie net sjiek nie maar ook vleiend aan die meeste liggaamstipes. Boonop lyk jy dadelik afgerond, netjies en stylvol, sonder die moeite en sukkel van meng en pas.

3. Kies kleurblok

Indien jy graag kleur dra en nie huiwerig is om helder kleurkombinasies bymekaar dra en stileer nie, dan is die kleurblok stileertruuk vir jou!

Met kleurblok kan jy bykans enige twee (of meer) skakerings saam stileer.

As jy onseker is oor hoe om te “kleurblok”, loer na ’n kleurwiel en kies twee of meer skakerings wat naby aan mekaar op die wiel is, óf kies skakerings direk oorkant mekaar op die kleurwiel vir ’n meer dramatiese effek – byvoorbeeld pienk en groen.

Vir meer subtiele kleurblok idees, dra jou aksentkleur keuse by neutrale skakerings soos wit en beige – dit sal ook die aksentskakering meer laat uitstaan.

4. ’n Jas of baadjie

Werk strategies met “layering” as ’n stileertruuk. Deur ’n baadjie of jas by jou voorkoms te voeg, skep jy diepte en ’n interessante stylelement in jou uitrusting. Eksperimenteer met verskillende teksture, byvoorbeeld leer of denim, by jou somersrok, wat dadelik jou voorkoms ’n herfsgevoel gee.

Eksperimenteer ook met verskillende skakerings van jasse en baadjies, dit skep verder ’n interessante styl-element wat jou voorkoms verhef en opdateer.

Dink sommer aan jou trenchstyl jas of helder blazer baadjie wat moeiteloos oor jou skouers gedrapeer word, dit is die toonbeeld van sjiek, afgerond en stylvol en ons glo natuurlik dit verhef jou voorkoms vinniger as wat jy 1, 2 ,3 kan sê!

5. ’n Prettige handsak

Unieke handsakstyle was (en is) die afgelope seisoen groot nuus, boonop is dit ’n “min moeite” styltruuk om jou hele uitrusting bymekaar te trek en meer modieus te laat lyk.

Nes Suzanne se mooi rooi lippe handsak haar voorkoms prettig afrond, is daar ’n klompie ontwerpe daar buite wat jou volgende uitrusting net so sal komplementeer. Nog ’n gunsteling hier by ons is die “clam” handsak van Bach Shoes; kyk net hoe mooi!

Me & B Hard Red Lip Bag (R499)
Ayana Mbali Heart Sling Bag (R299)
Bach Clam Bags

As unieke vorme dalk nie vir jou is nie, kies ’n handsak in ’n helder skakering of uitstaan afwerking (soos blink silwer byvoorbeeld).

Cotton On Rubi Tory Scrunch Crossbody Bag (R449)

Jy kan ook natuurlik jou handsak versier met “handbag charms” nog ’n groot trend wat hierdie jaar die modewêreld omtrent oorneem!

Cotton On Rubi Bag Charms (R149)

Onthou om pret te hê: Eerder as die ekstra moeite met “matchy matchy” handsakke wat perfek by die res van jou uitrusting pas, dra dit wat vir jou natuurlik voel. Niks hoef ooit presies by mekaar pas nie, omhels jou uniekheid en persoonlike flair!

6. Meng informeel met formeel

Hierdie stileertruuk staan ook bekend as die high-low aantrekstyl.

Nee, die “high-low” aantrekstyl verwys nie na die lengte van soomlyne aan jou rok nie – eerder ’n aantrekstyl waar jy duurder of meer netjiese en luukse klere-items meng en pas by informele klere items vir ’n vars, treffende en trendy voorkoms, Soos byvoorbeeld hoe ons dit hier stileer het, dink aan ’n meer netjiese pak gekombineer met jou T-hemp en tekkies.

Hierdie is ’n maklike konsep indien jy die goue formule onthou – kies meer formele items en kombineer dit met iets gemakliks, sportiefs, of minimalisties.

Met hierdie high-low metode van aantrek, kry jy ook meer dra uit jou duurder items wat wonderlik is as jy “cost per wear” in ag neem.

Ons lewe in ’n tyd waar ons baie mooi moet dink wat ons koop en waaraan ons geld spandeer, dus moet jou klerekas werk vir jou en jy moet ook jou netjiese of aandklere in die dag kan dra.

7. Juwele maak ’n reuse verskil

Daar is darem maar min dinge wat ’n voorkoms kan verhef soos ’n paar goeie gehalte oorbellle wat ’n duidelike stelling maak.

Oorbelle van Katy Rose SA

Ons topwenk, moet nie dink jou oorbelle gaan noodwendig jou uitrusting “red” nie, dink aan jou uitrusting en oorbelle as komplementerende spanmaats, die een moet gekies word om saam met die ander een te werk, een is nodig vir die ander een om te laat sprankel en andersom!

Kyk net hoe pragtig is hierdie handgemaakte soutache juwele en oorbelle van Katy Rose SA. Elke skepping word sorgvuldig gemaak met geweefde satynkoord wat deur delikate kristalle en kraletjies gekomplementeer word.

Ons het so lekker aan hierdie oorbelle gedra en ons was so verras oor hoe lig en gemaklik dit aan ons ore gevoel het. Wanneer ons hierdie dopamiene oorbelle dra, kry ons nimmereindigende komplemente, een na die ander!

Loer ook hier op Instagram by katyrose_sa.

Daar is 140 plus verskillende ontwerpe, groottes en skakerings van hierdie unieke oorbel ontwerpe beskikbaar wat beteken daar is beslis ’n oorbelstyl vir elkeen, loer na meer opsies hier: www.katyrosesa.co.za

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Ons beste pakwenke
error: Content is protected !!