’n Horlosie is vir so baie mense ’n belangrike deel van ’n uitrusting – boonop is die daar dié wat treë tel, of aan jou pols bewe om jou aan iets te herinner, en weer ander wat net vir jou die tyd gee. Of jy nou ’n slimhorlosie verkies of nie, hier is voorkomskonsultant Simone Lombard horlosie-kies wenke plus 15 horlosies tans op ons stylradar. Deur Simone Lombard; verwerk deur Justine Kroes
08/07/2022
Horlosie-kies wenke
1. Hou jou leefstyl in gedagte
Jou horlosie moet by jou leefstyl inpas – wil jy dit werk toe dra, of vir oefening gebruik?
2. Pas die horlosie by jou stylpersoonlikheid?
Dink aan jou persoonlike styl – as jy taamlik minimalisties is, sal ’n uitspattige horlosie nie by jou uitrustings pas nie. As jy ’n meer klassieke styl het, sal ’n bont en bonkige horlosie nie vir jou wees nie.
Dink dalk aan jou juwele en bykomstighede en hoe jy dit dra. As jy graag bonkig en groot juwele dra, sal ’n horlosie wat aandag trek vir jou meer gepas wees. Maar as jy ’n ‘minder is meer’ aanslag het tot bykomstighede vir elke dag sal iets klein, modern of simplisties meer gepas wees vir jou.
Meeste horlosies gaan jou ’n hele ruk lank hou – maak seker jy sal oor ’n paar jaar steeds met jou keuse om jou pols wil pronk.
3. Maak seker jou horlosie pas behoorlik
Vind die regte grootte vir jou gewrig. ’n Te groot of te klein horlosie kan jou voorkoms slordig laat lyk. Meeste het bandjies wat blitsvinnig deur ’n juwelier gestel kan word.
4. Hou metaalkeuses in gedagte
Kies ’n metaal wat jy weet jy gaan dra. Jy kan ook ‘n metaal kies wat die beste by jou veltoon pas. Dit sal afhang van elke persoon se unieke kleuranalise om te weet watter kleur die beste by hulle sal pas. Silwer en skakerings van silwer komplementeer mense wat onder winter- en somervelskakerings val, dan aan die ander kant sal goud en skakerings van goud mense wat onder herfs en lente val meer komplementeer.
Roosgoud is ’n metaal wat by alle mense pas. Dus, indien jy nie seker is wat om te kies nie, is roosgoud die veiligste opsie.
Die ander opsie is om ’n eenvoudige horlosiegesig te kies met ’n leerbandjie in ’n skakering van jou keuse (bruin of swart of pienk of wit – alle kleure van die reënboog is beskikbaar).
5. Die grootte en vorm van die gesig
Deesdae is horlosies met ’n groot skerm/gesig meer gewild. Rond, vierkantig of oval. Besluit eers op die vorm van die horlosie se gesig en daarna die grootte van die gesig. Pas ’n paar verskillende vorme en groottes aan as jy onseker is, jy sal dadelik ’n gevoel kry wat vir jou pols die beste werk.
6. Pas ’n klomp verskillende style aan
Gaan pas eers die horlosie aan voor jy besluit. Pas sommer ’n paar aan, dalk verras jy jouself met jou keuse, iets wat jy vooraf gedink het by jou sal pas, lyk dalk sommer vreemd om jou pols.
7. Stylvolle wenke vir slimhorlosies:
As jy graag slimhorlosies dra, is Simone se topwenk – “Jy kan verskillende bandjies vir jou slimhorlosie koop sodat jy nie soos ’n Power Ranger lyk nie. Dis ’n lekker en goedkoper manier om met jou horlosies te speel. Jy hoef dan nie ’n nuwe horlosie te koop nie, maar kan net die bandjies verander”
Slimhorlosie bandjies;