rokke
rokke

5 Wenke vir rokke kies

Na jare van rokke stileer, koop en self byna daagliks ’n rok te dra, deel ons graag ons 5 beste wenke vir rokke kies. Leer meer oor van watter styl rok die beste vir elke lyfvorm werk tot die materiale wat jy liefs moet kies. Plus 14 rokke wat nou op ons stylradar is. Deur Justine Kroes

17/02/2023

1. Kies ’n styl wat jou lyfvorm vlei

Die driehoekige/ peervormige lyfvorm:

Jou liggaamskenmerke;

Jou bloesgrootte is meestal kleiner as jou broekgrootte. Skouers is smaller as jou heupe; Jy het ’n gedefinieerde middel. Jy het voller bobene en heupe.

Kies die rok:

Dra liefs ’n rok wat balans skep – jy moet meer volume skep op die boonste deel van jou liggaam. Kies daarom rokke wat aandag trek na jou bolyf toe, byvoorbeeld rokke met ’n V-hals of bandjielose rokke. A-lyn of wyer uitklokrokke aan die onderste gedeelte van jou lyf sal ’n wyer heupmaat verbloem. Die “fit & flare” rokstyl is vir jou!

Erre Orange Flutter Sleeve Fit & Flare Dress (R2400)

Vermy:

Super kort rokkies, noupassende rokke en oorgroot, vormlose style.

Die reghoekige lyfvorm

 Jou liggaamskenmerke:

Jou middellyf, heupe en skouers is ewe breed. Jy het nie ’n duidelike middel nie. Jy dra dieselfde grootte bo en onder.

Kies die rok:

Dra rokke wat die ilusie van ’n uurglas lyfvorm skep. Jy kan dit doen deur gebruik van afwerkings, plooie en volume detail op rokke. Kies ’n rok wat effens uitklok en een wat ingetrek word rondom jou middel – dit balanseer wyer skouers en skep daardie gewenste uurglaskurwes.

Lazuli Cut Ou Knot Dress (R1400)

Vermy:

Regaf, “boxy” of “shift” styl rokke.

Die X of uurglas-figuur

Jou liggaamskenmerke:

Jy is dieselfde grootte bo en onder en jy het ’n goed gedefinieerde middellyf. Jou kurwes lyk vleiend op al die regte plekke. Jou skouers en heupe is in verhouding met mekaar.

Kies die rok:

Uurglasfiguur, kies rokke met ’n V-hals, of oop neklyne. Vroue met ’n uurglasfiguur het goed gedefinieerde middels. Rokke wat oorvou (wrap rokke) of een wat vasbind om die middel is ’n goeie opsie vir ’n uurglasfiguur.

Witchery Cotton Striped Wrap Dress (R1799)

Vermy:

Rokke wat vormloos sit, oorgroot of “babydoll” rokstyle.

Die omgekeerde driehoek

Jou liggaamskenmerke:

Jou skouers is wyer as jou heupe, jou skouers is reguit, vierkantig en lyk sterk, daarom lyk jy meer atleties. Jy het nie ’n gedefineerde middellyf nie. Min definisie tussen middellyf en heupe. Jou onderlyf is klein en jy dra meestal jou gewig rodom jou middel, arms en borste.

Kies die rok:

Een met detail aan die ondergedeelte van die rok, wat oё se aandag afwaarts trek om sodoende balans te skep tussen groter/wyer bolyf en kleiner onderlyf. Kies ’n rok wat uitklok vanaf heupe of middel met plooie, patrone of ligter skakerings aan die onderste gedeelte.

Country Road Cinched Shirt Dress (R2299)

Vermy:

Rokke wat aandag trek na jou bolyf/skouers toe, wat noupassend sit om skouers of ’n rok wat skouerkussings het.

2. Kies ’n kleur of patroon wat jou laat goed voel

As jy nog die frase Dopamine Dressing gehoor het nie mis jy uit. “Dopamine dressing” is gebaseer op die konsep van “ek lyk goed, daarom voel ek goed”. As jy ’n kledingstuk dra wat jy assosieer met geluk, leef jy daardie geluk uit en natuurlik laat dit jou dan gelukkig voel.

“Dopamine dressing” is vir geen twee persone dieselfde nie omdat dit uniek is tot jou goedvoel dopamien wat binne jou vrygestel word vir die spesifieke skakering, tekstuur of kledingstuk wat jy dra.

Kies gerus ’n rok in ’n kleur, patroon of tekstuur wat jou gaan laat goed voel.

3. Kies ‘n rok met ’n lang rak leeftyd

Lang rakleeftyd? Dit beteken ’n rok wat nog vir jare lank ’n stapelitem in jou klerekas sal wees. So ’n rok wat gewoonlik van goeie gehalte materiale bestaan se prysetiket mag aan die duur kant wees. Hoewel, as jy die “cost per wear” bereken (die prys van die rok verdeel teenoor die aantal kere wat jy die rok dra), sal jy vinnig die waarde van so ’n kopie agterkom.

4. Kies ’n rok wat gemaklik sit

Daar is niks erger om ’n rok te dra waarin jy heeldag ongemaklik voel nie, die rok sit te styf om jou middel of arms, of die rok sit te los en die bandjies val heeldag af. Dit gaan ongelukkig dadelik wys as jy nie gemaklik voel in ’n rok nie, jy gaan heeldag staan en regtrek. Kies eerder ’n rok wat perfek sit en goed voel aan jou lyf.

Die perfekte rok moet daardie een wees wat jy gryp as jy laat is en nie tyd het om te dink wat jy moet aantrek nie – jy kies hom want jy weet als werk, van die kleur, tot die snit tot hoe dit voel teen jou vel.

5. Vermy sintetiese materiale

Kies natuurlike vesels en materiale soos linne of katoen. Linne is lugtig en koel om te dra, perfek vir warmer somermaande. Dit voel koel omdat die vesels lank en wyd is en meer lug deurlaat asook vog afweer. Linne kan tot 20% van sy eie gewig in water opneem voordat dit nat of klam voel.

Ons kan getuig hiervan, op ’n snikhete dag in die Kaap by Mervyn Gers se keramiekfabriek (dink warm oonde op ’n reeds kokende somersdag) was ons baie dankbaar ons het ons Lazuli linnerokke gedra. Gemaklik, lieflik koel en sommer so stylvol!

Suzanne dra die Lazuli Ella Reversible Wrap Dress & Justine dra die Lazuli Grace Dress in Spice

Loer hier na somersrokke op ons stylradar:

Mareth Colleen Beck Dress (R1499)
Lazuli Grace Dress (R1800)
Harlow & Summer Aria Dress Pink (R1595 Purr Clothing)
Forever New Dream Ruched Bodice Dress (R1699)
Asha Eleven Mpishi Dress Green (R1600)
Poetry Mya Anglaise Dress (R1299)
Gold Bottom Africa Quest Dress idnight Black (R1790 Purr Clothing)
Asha Eleven Soma Dress Yellow (R1750)
Me & B Wrap Dress in Cerise Pink (R999)

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Kenners deel – hierdie 7 skoenstyle hoort in elke vrou se klerekas
error: Content is protected !!