Net omdat iets as ’n modetrend bestempel word, beteken dit geensins dat jy daardie trend moet najaag nie – hier is 5 van die seisoen se vreemdste modetrends wat ons eerder gaan vermy! Deur Justine Kroes
1. Crocs à la hakskoene

Kyk, asof Crocs alleen nie genoeg van ’n mode “nee” is van ons af nie, het bekroonde modehuis Balenciaga ’n Crocs-styl-hakskoen ontwerp. En ons weet nie regtig hoe om daaroor te voel behalwe om geskok te wees nie! Teen $625 (ongeveer R9 800!) dink ons daar is ’n hele paar ander items waarop ons eerder daardie geld sal spandeer!
2. Denims met uitgesnyde gedeeltes om die middel


Ons besef die skinny jean trend het doodgeloop, maar moet ons regtig hierdie nuwe tendens volg? Al waaraan ek kan dink is al die onaangename kersete rolletjies wat almal sal aanskou as ek van hierdie denims moet aantrek – iets so tusen ’n opgestopte kersfeesham of gammon! Ons is seker dit gaan pragtig lyk op size zero modelle, maar die res van ons sal eerder op die uitkyk wees vir iets meer vleiends op die oog!


3. Mikro (mikroskopies klein) handsakke

’n Kleiner handsak is beslis deesdae ’n moet – maar mikro-handsakke maak net glad nie vir ons sin nie. Wat presies kan jy hier inpas? ’n R5 muntstuk en los kougom is al waaraan ons kan dink!
4. Fênsie tokse

Miu Miu word geken aan hul unieke skoen silhoeëtte, maar dié is dalk een stappie te ver (letterlik en figuurlik!) Hierdie Nappa Leather Mid-Heel Sneaker word beskryf as die nuwe weergawe van “football” skoene. Ons sê liefs nee dankie vir die hak-tokse!
Voorkomskonsultant Susra Matthee sê “Ek hou van die “cocktail casual” tendens – dit is nou die nuwe athleisure voorkoms, waar jy skemerkelk rokkies saam met sneakers en baseball caps kan dra of netjiese rompe met hoodies, windbreakers en bomber-styl baadjies. Jy kan ook hierdie tokse met hakke daarby dra. My leuse vir die jaar is “never say never” want dit is dikwels die trends waaroor ek die onsekerste aan die begin is, waarvan ek later die meeste hou. Maar ek kan met redelike oortuiging sê dat ek nie hierdie skoene op my inkopielys gaan sit nie!!!


5. Arm-verwarmers
Hierdie kledingstuk is voorheen net deur dansers gebruik om hul arms en gewrigte warm te hou voordat hul dans. Maar vandag is dit ’n trend wat hierdie afgelope winter oor die waters groot nuus was, en ons vermoed dit is sterk op pad hierheen – ons het al ’n hele paar in die winkels raakgesien.
Hoekom ons dit nie sal dra nie
- Dit hou net ons arms warm?!
- Wat van die res van ons bolyf?!
- Spandeer eerder die klas van geld op ’n VOLLE truitjie.


Wat is die vreemdste modetrends wat jy al hierdie seisoen gesien het?