Elke vrou het daardie een tydlose LBD (little black dress) in haar kas nodig. Daardie rok waarna jy sonder twyfel gryp omdat jy weet jy goed voel en lyk daarin. Natuurlik lyk almal se resep vir hul perfekte swart rokkie anders; smaak, styl en lyfvorms verskil. Ons het 15 tydlose swart rokke opgespoor, almal deur plaaslike ontwerpers, en hier is beslis ’n styl en ontwerp vir elkeen. Watter een van hierdie tydlose swart rokke vang jou oog? Deur Justine Kroes
12/06/2024
1. Isabel De Villiers Winter Maxi Wrap Dress (R1 799)
Die materiaal is ’n luukse BonBon materiaal wat glad nie kreukel nie. Dit is rekbaar, en voel uiltra-luuks en die materiaal hang swaar af ondertoe wat beteken dit klou nie teen jou lyf vas nie, wat natuurlik baie vleiend en vergewend is.

’n Wrap rok styl pas by die meeste lyfvorms en die “balloon sleeve” moustyle is een van ons gunsteling stylelemente van hierdie rok. Die boonste gedeelte van die rok is gevoer, daarom hoef jy jou nie te bekommer oor iets wat gaan deurskyn nie.
Die rok is beskikbaar in groottes vanaf 32 tot 48. Ons het al vir Isabel gevra om haar jasse en rokke langer te maak vir ons. Hierdie is ’n wonderlike diens wat Isabel bied as jy by haar koop, (wonderlik vir lang en kort vriendinne!).
Ek het onlangs hierdie rok in ’n midi weergawe ontvang en ek kan nie wag vir die perfekte geleentheid om dit te dra nie. Ek weet sommer al hierdie rok gaan vir nog lang jare ’n tydlose stapelitem in my klerekas wees!

Flikker
By Flikker is daar ’n hele paar swart rokke en ons kon feitlik nie op net een besluit nie, hier is drie op ons stylradar:
2. Flikker Asymmetric One Shoulder Dress Pencil (R1 049)

Die rok is gesny uit ‘Bijou Rib’ lap, die asimmetriese mou en skouer detail is stylvol, modern en iets anders. Die noupassende potloodromp onderkant met ’n spleet in die romp lyk sjiek en gesofistikeerd. Die lap is glo rekbaar en voel baie gemaklik aan. Beslis ’n veelsydige nommer wat met tekkies meer gemaklik gedra kan word of meer formeel vir ’n aandgeleentheid.
3. Flikker Linen Rayon Sunday Dress LBD (R1 299)

Hierdie pragtige rok is beskikbaar in groottes 6 tot 16 en is gemaak uit ’n 100% linne en rayon kombinasie materiaal. Die v-nek, pofmoue en rug detail het dadelik ons aandag getrek.
4. Flikker The Olivia Dress (R1 099)

Die Olivia Dress is beslis ’n tydlose rok in ’n tydlose snit wat by baie vroue se lyfvorms sal pas. Die bandjies op die skouers kan verstel en die rok maak agter met ’n ritsluiter toe. ’n Aanwins tot enige vrou se klerekas.
Mareth Colleen
Twee ontwerpers wat al lang jare die allermooiste rokke maak, Mareth Colleen verstaan regte vroue sy lywe, en hoe om ’n veelsydige, maar steeds tydlose rok te ontwerp. Hier is drie van ontwerperduo Mareth Colleen se gunsteling tydlose swart rokke:
5. Mareth Colleen Daleen Dress (R1 590)

Die Daleen-rok is beskikbaar in groottes van xs to xxl, die rokstyl is noupassend met die allermooiste skouer en mou afwerking met ’n skouerkussing daarby ingewerk. Die rok is effens rekbaar wat toelaat dat jy meer gemaklik daarin kan beweeg. Die Daleen rok is na een van Mareth Colleen se kliente benoem (en nou ook ‘n stylvolle-Stylvol leser!).
6. Mareth Colleen Tam Dress (R920)

Die rok se hoë nek en rompgedeelte met plooie lyk terselfdetyd vir ons gesofistikeerd maar daarby ook speels en prettig. Dus is dit beslis ’n veelsydig swart rok vir dag, aand of naweekgeleenthede afhangend van hoe jy dit sou stileer.
7. Mareth Colleen Stash Dress (R1 590)

Hierdie moulose aandrok met ’n hoë nek en asimmetriese rompstyl is ’n stylvolle aanwins. Die bo- gedeelte en onder edeelte se materiale verskil, en hierdie tekstuurverskil skep diepte en gee ’n luukse gevoel aan die rok.
8. Michael Ludwig Studio Strapless Fin Dress (R2 500)
Hierdie besonderse ontwerp is ideaal vir daardie vroue wat graag wil uitstaan en nie skrikkerig is om nuwe silhoeëtte en interessante ontwerpe te probeer nie. Ons dink hierdie moulose noupassende rok met “ruffle” detail langs die kant af is uniek, stylvol en mits dit perfek pas sal byna enigeieamnd smeulend lyk hierin.

Die ontwerp is boonop beskikbaar in ligpers en wit ook. Die rok is gemaak uit ’n rekbare katoen vir ekstra gemak. Die ritsluiter op die rug is onsigbaar en daar is ’n mooie rokspleet aan die kant van die rok tot net onder die knie.
9. ERRE Black Switch Fit and Flare Dress (R2 400)
’n Veelsydige rok soos g’n ander. Ontwerpduo Carien en Natasha van ERRE is nie net bekend vir hul asemrowende ontwerpe nie maar ook omdat hul aan slim maniere dink om hul ontwerpe veelsydig te maak. Hierdie “fit & flare” rokstyl is vleiend aan byna alle figure.

Ons gunsteling deel, natuurlik die twee reuse strikke op die rok se skouers – maar wag dit raak beter. Die strikke kan losgemaak of verwyder word. Jy kan albei aanlos of een aanlos vir ’n eenskouer detail voorkoms of albei verwyder vir ’n meer militêr-geïnspireerde rokvoorkoms.
10. InSync Alchemy Dress (R1 350)

Dalk nie vir almal nie, maar hierdie ooprug rok met wye moue is ’n pragtige swart nommertjie. Die rok is gemaak uit 95% rekbare bamboes materiaal, wat sag, lugregulerend en vogbestand is. Hierdie materiaal is lieflik sag en gemaklik. Die snit en styl is boonop veelsydig vir ’n aand uit of vir ’n meer gemaklike dag voorkoms.

Daar is ook ’n moulose weergawe hiervan beskikbaar wat perfek is vir warmer maande.
Rethread
By Rethread (nes baie ander plaaslike ontwerpers), word elke item eers op bestelling gemaak, hierdie besluit is geneem met volhoubaarheid in gedagte en om die slaggat van oorskot materiaal en te veel voorraad te vermy.
Twee swart nommers by Rethread laat ons modeharte beslis vinniger klop:
11. Rethread Maya Dress Black (R2 500)

Die “drop waist” peplumstyl rokke is vanjaar al hoe meer gewild, die korset bogedeelte van die Maya dress het ’n dubbellaag materiaal met ’n onsigbare ristluiter langs die sy op. Die asimmetriese lyne oor die middellyf is interessant en boonop vleiend en die peplum afwerking skep ’n pragtige silhoeët. Die rok se onderste gedeelte skep ’n gevoel van beweging en lyk romanties en speels.
12. Rethread Serene Maxi Dress (R2250)

Nog ’n “drop waist” styl gemaak uit ’n linne, rayon materiaal. Hierdie rok lyk nie net gemaklik maar ook veelsydig is met bandjies wat maklik verwyder kan word. Dra die rok afmou sonder bandies, of met bandjies oor albei skouers of selfs gekruis voor of agter vir ’n unieke voorkoms.
13. SMUDJ Aude Puff Sleeve Dress (R1 899)

Die prag pofmourok met veiende v-halslyn is gemaak uit ’n katoen poplinmateriaal. Die v-bo-gedeelte het die mooiste “ruched” afwerking en die a-lyn uitklokstyl van die ondergedeelte is gemaklik, vleiend en vergewend. Die gedeelte om die middel is rekbaar, wat boonop beteken jy sal gemaklik kan sit en beweeg in hierdie rok.
14. Hannah Lavery Cascade Kaftan (R2 200)

’n Veelsydige kaftanstylrok wat lospassend is met ’n v-halslyn waarin jy gemaklik kan beweeg. Die gordel kan op verskillende maniere vasgebind word vir verskillende voorkomste – jy kan selfs die gordel verwyder en jou eie gordel hierby dra. Die pragtige afwerking op die lap gee vir hierdie kaftan ’n luukse gevoel. Die materiaal word beskryf as “europese viskose” wat net so sag soos sy voel en net so lugregulerend soos linne is.
15. Goldbottom Africa Quest Dress Midnight Black (R1 790)

Hierdie rok is al ’n ruk lank op ons stylradar. Die uitstaanmoue en silhoeët maak hierdie rok ’n stylvolle kopie. Die v-nek en drapering van materiaal aan die voorkant van die rok is ultravleiend. Die wye dramatiese moue skep dadelike ’n stylvolle indruk en die rekbare middel sal sorg dat jy gemaklik voel en kan beweeg. Die rok is gemaak uit ’n ultrasagte 100% viskose en is midilengte. Die rok is ook in 4 ander skakerings beskikbaar.