10 Styltruuks wat ons by Victoria Beckham geleer het

Met die David Beckham dokumentêr wat tans op Netflix wys, is ons sommer van vooraf geïnspireer deur styl-ikoon Victoria Beckham se stylevolusie deur die jare. Van Spice Girls se Posh Spice tot bekroonde mode-ontwerper. Ons het gaan loer na Victoria se styl deur die jare en die volgende 10 styltruuks het ons by Victoria Beckham afgekyk.  Deur Justine Kroes

29/10/2023

10 Styltruuks wat ons by Victoria Beckham geleer het

Terwyl ek aanlyn deur duisende fotos van Victoria se uitrustings deur die jare blaai, is daar ’n duidelike stylevolusie – van haar sexy uitrustings in haar jonger dae (kort styfpassende rokkies) tot die elegante, sjiek en minimalistiese aantrekstyl wat ons vandag ken.

Foto: Victoria Beckham Instagram
Foto: Victoria Beckham Instagram

Hier is wat ons van Victoria Beckham se huidige aantrekstyl geleer het:

1. Slim met vleiende silhoeëtte

Ons dink Victoria Beckham kan ’n swart sak dra en steeds mooi genoeg lyk vir die rooi tapyt, maar uit ’n stileringsperspektief is dit duidelik dat sy silhoeëtte kies wat haar lyf vlei. Victoria het ’n regaf, slanke figuur en sy gebruik klere om vir haarself vleiende kurwes te skep.

Sy beklemtoon veral haar klein middeltjie, en kies wyepypbroeke vir die illusie van langer bene. Sy werk ook slim met proporsies van kledingstukke, styfpassend gekombineer met lospassende items wat balans skep.

2. Monokromatiese uitrustings

Foto: Instagram

Monokromatiese uitrustings is onder ons eie gunsteling mode-truuks om blitsvinnig stylvol en sjiek te lyk – trek dieselfde skakering van kop tot tone aan. Victoria se gunsteling monokoroom skakerings om aan te trek is duidelik wit, swart, vlootblou, rooi en soms geel.

Kies gerus monokroom, dit is verslankend, laat jou langer vertoon en lyk dadelik minimalisties sjiek.

Fotos: Pinterest en Instagram

3. ’n Kraaghemp is ’n VB stapelitem

’n Kraaghemp en Victoria Beckham is sinoniem met mekaar. Hetsy die kraaghemp kraakvars wit is, of vol strepe is dit ’n item wat Victoria graag dra. ’n Kraaghemp (in jou gunsteling kleur of wit) behoort ’n tydlose stapelitem in enige vrou se klerekas te wees.

Foto: Victoria Beckham Instagram

4. ’n Staatmaker pak

Victoria word geken aan haar stylvolle staatmaker pakke – van neutraal tot wit, rooi of selfs pakke met patrone, dit is duidelik dat ’n staatmaker pak hoog op Victoria se mode moet-hê lysie is.

Fotos: Pinterest en Instagram

5. Minimalistiese rokke

En hier bedoel ons nie rokke met blomme, kant, krale-afwerkings en klomp versierings nie – eerder minimalistiese rokke in een skakering wat perfek, soos ’n handskoen, pas. Hierdie rokke is gewoonlik elegant, stylvol en aan die toppunt van ’n mode-trend soos assimmetriese lyne of “cut-out” detail. Minimalistiese rokke is beslis haar gunsteling tipe rok om te dra.

Foto: Victoria Beckham Instagram

6. Denims en ’n kraakvars t-hemp

Ons sien nie baie vir Victoria in ’n paar denims nie, maar wanneer ons wel doen is die denim óf ’n wye pyp óf lospassend. ’n Skoon (spierwit!) trendy voorkoms met ’n wit T-hemp (partykeer is daar geskryf op die hemp) en hoëhak skerppunt skoene of stewels daarby.

Fotos: Pinterest en Instagram

7. Hoëhakskoene

Dit is min wat ons vir Victoria in ’n paar plat skoene sien. Hoë, hoë hakskoene is haar gunsteling tipe skoen om te dra – skerp voorpunt veral. Victoria is 1.63m lank en hou van daardie ekstra bietjie hoogte wat hierdie hoëhakskoene vir haar gee. Natuurlik lyk haar bene asemrowend met (of sonder) hierdie hoë stewels.

8. Tekstuur

As mode-ontwerper is dit duidelik dat Victoria nie bang is om met tekstuur te eksperimenteer nie, sy dra graag truie met leerrompe, of satynrompe by katoenhemde.

Om verskillende tipes tekstuur in ’n uitrusting te kombineer skep met min moeite diepte en interessantheid in jou uitrusting.

9. Hou bykomstighede eenvoudig

Victoria dra nie graag hangertjies, groot oorbelle of armbande nie. Sy hou dit eerder minimalisties sjiek met ’n goue horlosie, ’n paar ringe en klein diamantoorbelle. Vir die rooi tapyt sal sy dalk ’n hang-oorbel oorweeg, maar nie sommerso vir elke dag se dra nie.

10. Oorgroot sonbrille

Vanaf Posh se Spice Girl dae is oorgroot sonbrille Victoria Beckham se sonbrilstyl van keuse. Dalk om van die paparazzi se flitsende kameras weg te kruip, maar nou ’n modebykomstigheid waarsonder sy min gesien word en ons kan haar nie daarsonder indink nie!

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Om te “puff” of nie; Pofbaadjies, hier is raad:
error: Content is protected !!