Met hierdie slim beutrkragoplossings het jy nie ten duurste sonpanele en omskakelaars (inverters) dadelik nodig nie (ons spaar solank!). Ons deel 10 slim beurtkragplanne met jou om jou dag tot dag takies makliker te maak. Deur Justine Kroes & Suzanne Kotze
07/10/2022
1. Sonkragligte
Sonkragligte met bewegingsensors is ideaal vir rondom jou huis. Die slim ontwerp verseker 270 grade van lig en hierdie LED ligte brand ekstra helder. Daar is drie verskillende helderheidsvlakke om van te kies. Ons het hierdie ligte getoets – en ons is beïndruk met die hoeveelheid lig wat dit reg rondom ’n donker huis skep.
Ons het die ekstra ligte (R749 vir 8 ligte by takealot) op die badkamer se vensterbank gelos om te toets of dit deur die venster sal herlaai – dit het! So handig saans wanneer ek die donker badkamer binnestap gaan die liggie aan te danke aan die bewegingsensor.
2. Sonkraglampies
Sonkraglampies is nog ’n handige opsie, dit lyk mooi en bied verbasend baie lig. Die enigste slegte deel is dat jy seker moet maak jy dra elke oggend jou lampies na ’n sonkolletjie toe om goed te herlaai.
3. Batteryliggies
Omtrent almal het daardie boks “fairy lights” iewers weggepak saam met al die Kersversierings – stof dit gerus af en pak dit uit. Die kans is goed dat jou “fairy” liggies dalk met batterye werk. Hang ’n string op in die badkamer, gang of slaapkamer. Skakel dit aan wanneer beurtkrag tref vir ‘n sagte lig effek (sommer romanties daarby!).
Ons het hierdie fyn koperliggies raakgesien en binne in ’n glas blompot gedruk, ’n mooi en morsvry alternatief vir kerse. Onthou net om dit af te skakel wanneer beurtkrag verby is om jou battery te spaar.
Hier is soortgelyke liggies:
4. Kerse sonder vlamme
Teeliggies en kerse sonder die kerswas wat oraloor mors, ja assebelief! Kyk net hoe slim is die battery- kerse en teeliggiekerse, wat selfs ‘n effense flikker afgee, nes ’n regte kers.
Die heel beste deel van die Eledea kerse – jy kan jou kerse aan- en afskakel met ’n afstandbeheerder. Boonop hou die kerse redelik lank. Teeliggiekerse – 8 uur; Taper candles – 200 uur; Pillar candles – 400 uur.
’n Veilige, volhoubare opsie om jou spasie stylvol op te helder.
5. Herlaaibare inskroef gloeilampies
Los die ligte aan en vervang in elke vertrek jou ligte met hierdie slim herlaaibare inskroef gloeilampies. Die liggie herlaai (solank die skakelaar aangelos word wanneer daar krag is) en as die krag afgaan skyn hierdie liggie nog helder.
Daar is baie verskillende opsies beskikbaar, maar die meeste benodig 8 tot 10 uur se herlaaityd en bied enigiets tussen 3 tot 11 ure se lig.
Vir koffie of tee:
’n Kamp gasstofie en ’n mooi ketel wat fluit – vir kookwater wanneer die krag af is.
6. ’n Warmwaterfles
So kan jy jy kookwater lank genoeg warm hou van een beurtkragsessie tot die volgende, plus dit spaar krag. En as dit te lou is, kan jy dit gebruik vir skottelgoedwas.
Die (duur) Stanley is van die bestes wat ons al gebruik het en hou jou water vir tot 2 dae lank warm!
Gelukkig is ons beurtkrag beurte darem (nog) nie so lank nie. Hierdie Manna Green Tropicals Design Retro Bottle (R239 vir die 590 ml bottel, Woolworths) is net mooi genoeg vir twee koppies.
7. Melkskuimer
As jy nie sonder jou cappucino kan terwyl jou koffiemasjie nie werk nie, werk hierdie melkskuimer goed. Dit maak veel meer skuim as die batterygedrewe skuimers wat jy kry. (Ons pak dit ook gewoonlik oor naweke in as ons weggaan, as ons nie weet of ons Airbnb of gastehuis ’n koffiemasjien het nie.)
8. Espressomaker
Bialetti Moka Express (R630-R1910, bialetti.co.za) is die klassiek Italiaanse manier van espresso maak (en is al vanaf die 1930’s ’n staatmaker produk). Nog iets waarsonder ons nie naweke/vakansies weggaan nie. Jy kry natuurlik goedkoper weergawes ook.
Vir toestelle laai
9. Battery/inverter
Hierdie is van die beste geld wat ons al uitgegee het. Wonderlik as jy wil TV kyk saans of jou skootrekenaar wil laai. Onthou net om dit weer te laai (minstens vir twee ure).
- 300W kragtoevoer
- DC Input: 24V / 3A
- 1x AC Outlet: 230V, 50Hz
- 2x USB-A Port: 5V / 3,1A
- 1x USB-A (QC3.0): 5-9V, 18W max
10. Vir fone/elektroniese toestelle laai
Ons (my man!) het hierdie gekoop voor ’n onlangse seilvakansie, en ons gebruik dit nou veel meer as op die seiljag. (En ja, ek het lekker gemor oor díe duur, ‘onnodige’ speelding, maar is nou baie bly ons het dit). Dit kan het twee USB gaatjies so jy kan twee fone (of ander toestelle) terselfdertyd laai. Onthou net om dit weer in die son neer te sit as jy klaar gelaai het.