Strepe bly nou maar eenvoudig ’n tydlose stapel in ons klerekaste, daardie streep T-hemp verhef dadelik ’n doodgewone uitrusting. Vanjaar is die nederige modestreep gewild in alle skakerings, rigtings en breedtes, boonop word verskillende streepitems ook bymekaar gedra vir ’n maksimalistiese effek. Hier is 6 maniere om strepe in 2025 te dra en stileer. Deur Justine Kroes
21/04/2024
6 Moet-hê streepstyle en uitrusting-idees, dra dit vanjaar so:
1. Strepe in all rigtings

Modestrepe word vanjaar in alle rigtings gesien, van horisontaal, vertikaal en selfs diagonale lyne oor kledingstukke. Ontwerpers eksperimenteer veral met strepe van verskillende breedtes en groottes vir ’n moderne maar steeds prettige aanslag tot streep-modes.

In 2025 is dit duidelik dat die dunner streep meer aandag geniet. Om ’n dunner/fyner streep by jou uitrusting in te werk is ’n maklike manier om kleur en ’n interessante detail tot aan jou uitrusting te gee.
2. Maksimalistiese strepe

Maksimalistiese mode verwys na die dramatiese “meer is meer” aantrekstyl, bont patrone, skakerings en ontwerpe wat gekombineer word in een uitrusting.

Vanjaar is nie net maksimalistiese mode groot nuus nie, maar spesifiek maksimalistiese strepe. Dink horisontale, vertikale en selfs diagonale strepe elk in verskillende skakerings wat saam gestileer word. Hoewel dit dalk baie uitdagend mag klink is hierdie trend eintlik ’n maklike een om saam te stel – hoe meer dramaties hoe beter!
3. Nauties-geïnspireerde mode/ sailor-core

Die “nautical” modetrend sal keer op keer bly terugkeer. Hierdie trend verwys na die groter “sailor-core” trend, dink aan vlootblou, wit en rooi strepe gestileer op ’n moderne manier. Dra jou breton styl T-hemp of boot-nek streepbloes by kabelgebreide truie en denims. Die matrooskraag (sailor collar) met strepe maak natuurlik ook groot opslae in die modewêreld.
4. Die bypassende stel

Ons kan natuurlik nie genoeg kry van ’n passtel nie – die veelsydigheid en eindelose stileeropsies van so ’n stel regverdig die koop van ’n streepstel ingeval jy nog nie een gekoop het nie.
’n Passtel is perfek vir daardie dae wanneer jy net geen idee het wat om aan te trek nie. Die pakkie is ’n volle uitrusting wat sjiek en afgerond lyk sonder dat jy enige dink of meng en pas moeite moet doen.
Wenk: pasop vir sagte pienke of pastelkleurige bypassende streep stelle, dit kan maklik soos pajamas lyk, mits jy dit nie met moderne elemente stileer nie.
Vanjaar se passtelle is veral streep onderbaadjie stelle wat voor vasbind of streep kraaghemde en broekstelle.
5. Sportdrag-sjiek, met strepe
Meer spesifiek, ’n gestreepte rugbytrui of polo-trui styl met ’n kraag is hierdie jaar ’n modegunsteling. In alle skakerings met nouer of breër strepe. Hierdie item is tans volop in die winkels.
Die gestreepte rugbytrui is natuurlik die perfekte alternatief tot daardie ou uitgewasde sweetpaktop. Kombineer met ’n paar jeans, tekkies en ’n keps vir ’n dag langs die sportveld.
6. Die cardi/ knooptrui

Hierdie bly nou maar ’n klerekasgunsteling! Verlede jaar het die swart en wit streeptrui met goue of silwer knoopafwerkings die kollig gesteel.

Vanjaar is die fokus op kleur, kleur en verskillende kleurkombinasie ontwerpe. ’n Maklike item om by ’n denim, katoenromp of selfs bo-oor ’n rok te dra.
