Om in ’n kleiner spasie te bly beteken allermins dat jy jou styl of gemak hoef prys te gee. Met ‘n paar slim keuses kan selfs die kleinste ruimte oop, georganiseerd en vol persoonlikheid voel. Deur Suzanne Kotzé
Dekorwenke vir klein spasies
1. Kies multifunksionele meubels
Wanneer ruimte beperk is, moet elke meubelstuk sy plek verdien. Kies meubels wat meer as een doel dien; ’n ottoman wat ook stoorplek het, ’n tafel wat ook ’n lessenaar kan wees of selfs ’n vuurput wat ’n buite koffietafel kan wees.
Koffietafel-en-lessenaar kombinasie

Hierdie oulik ontwerpte koffietafel het nie net stoorplek binne die koffietafel nie, maar kan ook as ’n lessenaar/tafel gebruik word met die blad wat kan oopskuif.
Yshouer-en-kroegtafel kombinasie

Hoe wonderlik is hierdie nie vir buitekuier nie. Onder is ’n ysbak en die opskietblad dien as neersitplek vir drankies.
Vuurput-en-koffietafel kombinasie
Behalwe dat hierdie beslis van die mees stylvolle vuurputte is wat ons al gesien het, maak die slim bykomstighede dat dit veeldoelig is. Van ’n braairooster wat netjies bo-op pas, tot ’n deksel wat dit in ’n koffietafel omskep.



Ottoman met stoorspasie
Ideaal vir jou slaapkamer, sodat jy beddegoed in die ottoman kan stoor.

2. Hou jou kleurskema lIg en neutraal
Sagte wit, beige en liggrys skakering kan ’n vertrek ligter en groter laat voel. Voeg kleur en karakter by met kussings, gooikombersies met tekstuur en kunswerke.
3. Meet voor jy koop
Dit klink dalk ooglopend, maar om jou vertrek (en deurgrootte) te meet is van kardinale belang. As jy weet jy ’n hele paar meubels vir verskillende vertrekke moet koop, hou sommer ’n foto van die vertrek met sy afmetings op jou foon. (iPhone se Note’s is ideaal hiervoor.) (Sit ook sommer die name van jou verfkleure hierby sodat jy alles saam het).
4. Kies vaartbelynde pote
Bonkige bal-en-klou tipe meubels kan ongelukkig ’n klein spasie nog kleiner laat voel. Kies pote, soos die van mid-eeuse of Skandinawiese meubels, wat vaartbelyn en dun is.
(Jy kan selfs die tipe pote los koop, en die pote van ou meubels vervang).

5. Laat jou vertikale spasie hard werk
Hou jou vloerspasie oop deur jou vertikale spasie te gebruik; dink aan swewende boekrakke, ’n tafel/lessenaar wat teen die muur vas is (in plaas van op pote staan) en lang, maer stoorkassies.





6. Kies ’n tafel wat groter kan verstel
So kan jy steeds meer mense nooi vir ete, sonder dat jou daaglikse ruimte opgeneem word.


7. Gebruik ’n spieël om jou spasie groter te laat lyk

Plaas ’n spieël oorkant ’n groot venster of deur sodat dit lig en die buite-area kan weerkaats.

8. Versigtig vir klotter
Hou klotter onder beheer, deur stoormandjies of weggesteekte stoorruimte (soos laaie onder ’n bed te gebruik).

9. Speel met skaal

Alles hoef nie noodwendig klein te wees omdat jou spasie klein is nie, een oorgroot bank of stoel kan byvoorbeeld jou area anker.
10. Laat lig in
Vermy donker swaar gordyne en kies eerder ligte gordyn, waardeur lug steeds skyn en wat effens deurskynend is. Kies blindings agter die gordyne





