Stel jou dit voor, jy toer die wêreld vir 9 maande op ’n luukse passasierskip en sien ’n totaal van 65 van die heel mooiste lande. En ja, as jou werk dit toelaat, kan jy steeds werk so tussendeur jou wonderlus wêreldreis. Instagram-bekende Amike Oosthuizen deel meer oor haar en haar familie se besonderse wêreldreiservaring. Lees meer hier: Deur Justine Kroes
29/03/2024
’n Droom-familievakansie
In 2020 kon Amike en haar wonderlusgesin wat graag reis, weens COVID en inperking, nes die res van die wêreld, nie reis nie. Dit is toe dat Amike se Pa ’n advertensie vir The Royal Caribbean se 2023 Ultimate World Cruise vir 9 maande raakgesien het. Amike se Pa het beoog om teen daardie tyd af te tree en sy gesin saam te neem op ’n droomvakansie om saam die wêreld te toer vir 9 maande lank.


Hoe lank neem die beplanning?
Amike verduidelik “Ons het reeds vanaf 2021 begin beplan. Wat die langste geneem het, was om ons visas in orde en agtermekaar te kry vir al die verskillende lande wat ons beplan het om te besoek. Die proses het omtrent ’n jaar geneem.”
“Al ons reisreëlings is deur The Royal Caribbean afgehandel. Vanaf vlugte tot hotelbesprekings, vervoer van die boot af na die binneland, verblyf, etes en selfs van die World Wonders ekskursies word deur The Royal Caribbean gereël en is ingesluit in jou bespreking se prys”
Hoeveel lande sou jy besoek teen die einde van die wêreldreis?
Amike sê 65 lande in totaal, hoewel daar onlangs ’n paar veranderinge aan die roete gemaak is omdat dit tans onveilig is om deur die Rooi See te vaar weens die onrus in daardie areas.
“Ons gaan nou ’n paar nuwe lande in Afrika sien en ’n klompie eilande wat ons nog nie besoek het nie, insluitend Seychelles, Madagaskar en daarby ook in Suid-Afrika stop, waarna ons baie uitsien.”



Volgens Royal Caribbean se webtuiste is die “Ultimate World Cruise” nog nooit voorheen aangebied nie, ’n reisavontuur vir 274 aande vanaf 10 Desember 2023 tot 10 September 2024. Die reis sluit al 7 kontinente in en besoeke aan 65 lande, daarby ook besoeke aan die 8 Wonders van die Wêreld. Klik hier vir meer oor die wêreldreis.

Is werk steeds moontlik?
“Beslis, dit is die ideale omstandighede vir iemand wat aanlyn kan werk en as jou werk dit toelaat”, sê Amike. “My broer is ’n vlieënier en hy kon ongelukkig nie by die toer aansluit nie omdat die aard van sy werk dit nie toelaat nie.”
Amike sê “Ek en my man Gustav werk albei steeds aanlyn. My man is ’n ingenieur (met sy Meestersgraad in datawetenskap) dus is die meeste van sy werk aanlyn. Ek het finansiële bestuur studeer en die maatskappy waarvoor ek ’n paar jaar gelede begin werk het, is toe al in kennis gestel van die beplanning van ons 9 maande wêreldtoer, en dat ek steeds graag sou wou aanhou werk.”

Amike verduidelik “Ons werk tans nie na 100% kapasiteit nie, omdat ons nie fisies daar is nie, maar ons werk steeds suksesvol aanlyn. Die dae wat ons op die skip deurbring, sal ons byvoorbeeld heeldag werk en ook natuurlik tye wanneer daar dringende versoeke is of aandag gegee moet word sal ons inspring en werk”.
Amike se wêreldreishoogtepunte tot dusver:
“Daar is al so baie hoogtepunte”, sê Amike, “elke land is so anders en uniek daarom is dit moeilik en byna onmoontlik om hoogtepunte te bepaal.
Elke dag voel soos ’n hoogtepunt, om nuwe plekke te sien en nuwe kulture te ervaar.
Amike Oosthuizen
Maar tot dusver sluit spesiale oomblikke in om: Christ The Redeemer in Brasilië self te kon sien. Antartika was nog ’n hoogtepunt, prentjiemooi met walvisse wat al langs die skip af geswem het. Hawaii was nog ’n hoogtepunt en so ’n mooi land om te besoek,” sê Amike.



Enige laagtepunte?
“Die enigste laagtepunte, as ek een moet kies, sou wees om so lank weg van die huis af te wees, weg van vriende en familie af te wees, gelukkig reis ek saam met my ouers.”
Hoe gemaak met pak? 9 maande vir winter- en somerbestemmings:
Dit was glad nie maklik nie, vertel Amike, “Ek het probeer om die kapsuleklerekas metode van pak te volg en daarvolgens te pak. ’n Kapsuleklerekas help veral vir dae en bestemmings waar ek graag net ’n broek en ’n hemp wil dra. Ek het seker gemaak die meeste van hierdie klere pas bymekaar.



Maar, daarby gesê, het ek ook ’n klomp helder en vrolike rokke ingepak sodat my uitrustings nie almal vervelig is nie. Ek is nog altyd mal oor rokke dra, dit is eenvoudig om aan te trek – jy gooi dit net aan – en jy lyk super vinnig mooi. My een tas was omtrent net vol rokke!



Ek het deur die verloop van die reis tot dusver besef – jy hoef eintlik nie so baie klere in te pak nie. Jy kan altyd iets koop soos benodig. In van die lande het ek selfs goedkoper reggekom as wat ek in Suid-Afrika sou.”
Pakplek in kamers?
“Die kajuite is so klein (omtrent die grootte van ’n klein karavaan). Daarom het ons ’n klomp planne gemaak soos byvoorbeeld om magnetiese hakies te koop. Ons plak dit teen die dak vas en hang van handsakke tot klere daaraan. Gelukkig is daar ook spasie onder ons bed, wonderlike stoorplek vir packing cubes vol klere.”
Ek hou nog altyd baie van mode en mooi aantrek en ek besef ek het dalk meer klere ingepak as wat ’n ander vrou sou. Boonop is my man ongelooflik netjies, daarom het ons dit maak werk met slim stoorplanne”
Loer hier hoe Amike en haar man hul kajuit ingerig het.
Wat het jy van jouself geleer tot dusver op hierdie wêreldreis?
“Die ervaring het my perspektief van die wêreld kom verbreed, en dit het my laat besef hoe baie geleenthede daar regoor oor die wêreld is vir ’n mens.
Ek het beslis ook geleer ’n mens kan meer minimalisties lewe en met soveel minder klaarkom as wat jy dalk gewoond is. Ons bly in ’n piepklein kamertjie, en dit is nie aaklig, nie, dit is eintlik heel lekker!”
Volg gerus die volgende gedeelte van Amike se wêreldreis op Instagram hier.