Foto Mr Price

Serpe teen die koue!

Enige winterklerekas is nie volmaak sonder ’n lekker winterserp of twee nie. Ons is alewig op soek na daardie staatmaker serpe wat stylvol lyk en jou warm hou. Vervang hierdie seisoen jou uitgewaste serp wat reeds begin rafel (ons weet ja, ons het ook ’n paar sulkes) met iets meer moderns – hier is ses van ons gunsteling serpe: Deur Justine Kroes & Suzanne Kotze

Luukse syserpe

Jy kan taamlik wild omgaan met skakerings en motiewe wanneer dit kom by jou serpe, kyk net hoe mooi is hierdie syserpe

Sitting Pretty Printed Silk Scarf (R950)

Hierdie gedrukte syserp van Sitting Pretty is lieflik groot, ons sal dit op verskeie maniere kan stileer, as ’n neckerchief rondom die nek, bandana-of tulbandstyl om ons koppe of selfs om ons middel as ’n stylvolle gordel. Die skakerings en patrone van dié plaaslike vervaardigde serp het ons harte gesteel!

Zara Silk Scarf with Initial (R539)

Kyk net hoe oulik is die syserpie met letters op, ons dink dit is ’n stylvolle en tydlose geskenk-idee vir enige vriendin met die voorletter van haar naam! Bind dit om jou nek, kop of handsak vas vir ’n sjiek serpvoorkoms.

Warm en snoesige serpe

Mr Price Fluffly Snood (R80)

Vir daardie ekstra yskoue dae is hierdie donsige snood van Mr Price ’n sakpas aanwins vir enige klerekas. ’n Snood is altyd lekker om te dra omdat die punte van die serp nie heeltyd in jou pad is nie. Hierdie snood lyk lieflik warm, snoesig en sag en die neutrale kleur sal boonop by enige uitrusting pas.

Trenery Rhian Alpaca Scarf (R699)

Ek het onlangs hierdie wol serp in die winkel aangepas. Ek het gedink die wol sal krapperig voel teen my vel, maar dit is sysag en snoesig! Ons is natuurlik steeds gaande oor pastelle vir die winter, en so ’n pienk pastelserp is een van die maklikste maniere om die pastel trend te dra. Daar is selfs ’n bypassende beanie wat so oulik saam met die serp sal lyk.

Serpe soos komberse

Just Cruizin Treading Lightly Roald Dahl Scarf (R950)

Hierdie lieflike serp-soos-’n-kombers word in Kaapstad handgebrei. Die allermooiste woorde op die serp lees; “He said, ‘Above all, watch with glittering eyes the whole world around you because the greatest secrets are always hidden in the most unlikely places. Those who don’t believe in magic will never find it.’ – Roald Dahl”

Ons weet sommer hierdie 100 % katoenserp sal ons lekker warm hou, boonop pas die skakerings maklik in by enige uitrusting.

Die Millecolines Kichana Wrap (R1780) is by Purr beskikbaar

Suzanne sê: Hierdie swart-en-wit gebreide sjaal is soos ’n kombersie, maar ’n stylvolle een. Een waarin jy kan opkrul voor die TV of wat jy oor ’n gewone uitrusting kan gooi, en siedaar, jy lyk sommer sjiek.

Ek vind sulke tipe sjaals gewoonlik irriterend, want hulle val die heeltyd af. Hierdie een het ’n gat waardeur jy jou een arm kan steek en so bly dit aan. Dít en die swaar breistof maak dat dit mooi drapeer.

Lees ook: 7 Mooiste truie op ons wenslysie

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
skoonheidsprodukte
Nuut op die Stylvol-spieëltafel
error: Content is protected !!