Die sonbril is ’n handige mode-item wat elke seisoen maklik vervang kan word om jou voorkoms daardie hupstoot te gee. Ons sê nie jy hoef honderde rande elke seisoen op ’n sonbril uit te gee nie, maar hier by Stylvol raak sonbrille gereeld verlore, daar word op hulle gesit en deur kleuters aangepas en uitmekaar getrek – dus is sakpas sonbrille die antwoord! Probeer vanjaar een van die trendy style, ’n katoog-, oorgroot- of selfs hartjie-vormige sonbril. Hier is ’n paar almal onder R450! Deur Justine Kroes
Sonbrille vir nou
Genadiglik is die mikro-sonbril trend iets van die verlede (dit het by baie min gesigvorms gepas!). Daar is ook ’n paar prettige style uit die verlede wat vanjaar weer groot nuus is. Reghoekige sonbrille (90’s!), oorgroot deursigtige sonbrille en selfs katoog sonbrille – maar ’n nuwe gunsteling vanjaar is die prettige hartjie-styl sonbril.
Sonbrille uit die 70’s
Hierdie oorgroot styl pas by die meeste gesigvorms en lyk altyd stylvol. Vanjaar is die modeneiging om ’n meer deursigtige styl te kies met lense wat net so effens getint is. Hier is nou nog ’n maklike manier om kleur by jou uitrusting in te werk.
Hartjie-styl sonbrille
’n Prettige sonbrilkeuse vir 2020, selfs al is dit net om daardie perfekte Instagram selfie te neem!


Ouwêreldse glans
Die katoogstyl is een van die maklikste maniere om ’n doodgewone uitrusting ’n sjiek hupstoot te gee, dit bly klassiek en pas ook by vele gesigvorms. Vanjaar is die styl effens oordrewe en groter as vante- vore. Eksperimenteer met kleurvolle, groter of kleiner weergawes van hierdie brilstyl totdat jy een vind wat die beste vir jou werk.
Reghoekige sonbrille
Die reghoekige sonbril is vanjaar die plaasvervanger vir die mikrosonbril trend uit die vorige seisoen. Hierdie styl wat groot was in die 90’s lyk sjiek in swart en bruin skakerings. Hoewel hierdie styl nie by almal pas nie, is dit dalk die moeite werd om ’n paar voorbeelde aan te pas en sien of dit vir jou ’n stylvolle ja of nee is!
Lees ook: Sandale wat jy nou wil dra