Die meeste van ons is versigtig om ’n ware gesigskrop te gebruik nadat daar bevind is dat hierdie tipe afskilfering moontlik klein skeurtjies op jou vel kan veroorsaak. Dus verkies ons liefs ’n chemiese-tipe afskilferingsproses wat vinniger werk en ook meer gesond is vir jou vel. Ons albei gebruik graag daagliks ’n microfoliant/rys-ensiem poeierafskilfering, ’n chemiese afskilering wat bestanddele soos vrugtesure en salisielsuur bevat wat die boonste lagie van die vel sagkens afskilfer.
Wat is microfoliant/fyn rysbasis-poeier nou eintlik?
Dit is ’n baie fyn poeier gemaak van rys-ensieme wat in ’n smeer (pasta) verander wanneer jy dit met water meng. Die water aktiveer ook die chemiese bestanddele in die microfoliant en hierdie ensieme en vrugtesure skilfer dan sagkens jou vel af.
Justine gebruik:
Die W Beauty Enzymatic Cleansing Powder (R130)
Hierdie spesifieke afskilferaar bevat rys-ensieme en salisielsuur wat die vel sagkens afskilfer en skoonmaak
Ek gebruik W.Beauty Enzymatic Cleansing Powder so:
Maak jou jou hande nat met ’n paar druppels water en plaas ’n klein hoeveelheid poeier in die palm van jou hand.
- Meng dit met die water totdat daar ’n pasta vorm
- Vryf dit met klein sirkelbewegings aan jou gesig- en nekarea (minstens vir ’n minuut lank sodat die ensieme tyd kry om ordentlik af te skilfer).
- Spoel jou gesig met lou of warm water af.
- Jy kan hierdie afskilferaar daagliks gebruik.


Dit laat my gesig werklik soepelsag voel, ek kan die verskil agterkom as ek die poeier vir ’n paar dae nie gebruik het nie; my swartkoppies het ook al hoe minder geword.
Suzanne gebruik:
Dermalogica Daily Microfoliant (R275 vir 13g)
Ek beskou Dermalogica Daily Microfoliant as deel van my skoonmaakroetine saam met ander Dermalogica produkte. Ek dubbel-reinig met Dermalogica Pre-Cleanse (R255) (’n oliebasis reiniger wat grimering en vuiligheid laat ‘wegsmelt’) en Cleansing Gel. En dan skilfer ek af met die Daily Microfoliant. Om dit so as deel van my ‘roetine’ te doen, maak dit vir my makliker om dit daagliks te doen. As ek ’n afskilferaar gebruik wat jy twee tot drie keer per week moet gebruik, vergeet ek dikwels.
Die Microfoliant is ’n ou gunsteling. Ek onthou nog goed hoe ek jare gelede vir Dermalogica moes twiet vir hulp een laat-aand. Een van my seuntjies was toe ’n baba en het heerlik geëet aan die Microfoliant.
Die fyn rysbasis-poeier skilfer dooie velselletjies liggies af terwyl Papaïen, salisielsuur en rys-ensieme jou vel poleer. Dit bevat ook bestanddele wat help om jou velkleur meer eweredig te laat lyk en bestanddele om dit te streel.
Lees ook: Gesigsproei: gebruik dit so