Me & B
Me & B
Me & B. Model: Alexa Corlett Fotograaf: Cass Collette

Die plaaslike maskers wat ons nou wil dra

Maskers is hier om te bly. Ons koop plaaslik om mode-ontwerpers wat werk skep en die ekonomie aanhelp, te ondersteun. Hier is van ons gunsteling plaaslike maskers wat ons nou wil dra, van agter-die-ore-rekkies of agter-die-kop-bandjies, tot sport- en mode-maskers. Deur Justine Kroes

Agter-die-ore maskers wat ons nou wil dra

Almal se voorkeure rondom masker-style en hoe hul vasgemaak moet word verskil. Justine sê: “Ek verkies ’n masker wat met rekkies om my ore sit, dit glip maklik aan en af en maak nie my hare deurmekaar nie”.

Plaaslike ma & dogter ontwerp duo Me & B het ’n stel van drie maskers bekendgestel teen R100. Jy kan nie die patrone self kies nie, die rede hiervoor is dat hul glo in volhoubare produksie en enige oorskiet- materiaal van hul klerevervaardiging gebruik om hierdie maskers te maak.

die-plaaslike-maskers-wat-ons-nou-wil-dra
Foschini

Die Foschini gesigmaskers word plaaslik ontwerp en vervaardig. Elke masker sluit ses herbruikbare filters in, en is ontwerp om vir 30 dae te hou as jy die filter elke sesde dag vervang. Verwyder die filter voor jy die masker in die wasmasjien gooi terwyl jy die filter in kokende warm water week. (R69 per masker).

die-plaaslike-maskers-wat-ons-nou-wil-dra
Miladys

Miladys se maskers bestaan uit vier lae en is beskikbaar in ’n verskeidenheid patrone en skakerings. ’n Gedeelte van die verkope van die maskers word geskenk aan die MRP Foundation. (R59 vir een masker & R99 vir twee).

agter-die-ore-maskers
Fashion Unites

#Fashionunites bestaan uit ‘n dinamiese trio van bekende ontwerpers Stephen van Eeden, Gabi Rosenwerth en Lace Blossom. Hul maskers met die allermooiste patrone is van vier lae material vervaardig met ’n filter by. (R190 sluit ’n stel van twee maskers en twee filters in).

Agter-die-kop maskers wat ons nou wil dra

Vir ander is die vasmaak-agter-die-kop-opsie ’n wenner. Suzanne sê: “Ek verkies agter-die-kop, want agter-die-ore skaaf my vel, en en as ek gou my masker moet afhaal, kan dit net om my nek bly hang, so ek besmet nie ander oppervlakke deur ’n vuil masker af te haal en neer te sit nie.

Agter-die-kop maskers
Janita Toerien Tie Cloth Face Mask

Janita Toerien en haar span het tydens die inperking navorsing gedoen en gevind dat ’n vyf-laag masker die beste opsie is om te maak. Die lap vir die pragtige blom-ontwerpe deur Fleur Le Cordeur verskaf en al die wins daarvan is aan die Bowl of Africa-liefdadigheidsorganisasie geskenk. Janita en haar span is tans besig om scrubs vir mediese personeel en dokters te ontwerp.

Agter-die-kop maskers
Elsje Designs Mask

Elsje Designs se maskers word in Stellenbosch gemaak. Verkope van die maskers word aangewend om die personeel en hul gesinne te ondersteun. Die tweelaagmaskers is maklik om te beheer en in plek te skuif agter op jou kop met ’n rekband en skuifbare skakeltjie. Pryse wissel van R100 tot R120 per masker.

die-plaaslike-maskers-wat-ons-nou-wil-dra
RuffTung Sequence Mask

Suzanne sê: Ek geniet dit so om met hierdie RuffTung masker aan te stap in die oggend, net om te sien hoe klein dogtertjies se gesiggies ophelder as hulle die blinkers sien. Die masker is verbasend gemaklik, met ’n sagte lagie binne-in. Die toutjies wat agter jou kop vasmaak is rekbaar, so jy hoef dit nie elke keer te knoop nie.

Serpmaskers wat ons nou wil dra

Die serpmasker se slim ontwerp is prakties en lyk so stylvol. Baie maklik om te gebruik – plaas eenvoudig die masker gedeelte bo oor jou neus en mond, haak die rekbandjies om jou ore en buig dan die kleppie om bo-oor die brug van jou neus te pas. Vou die een kant van die serp en draai dit om jou nek.

Justine sê: hierdie serpmasker is op my moet-koop-lysie – wanneer jy alleen is kan jy die rekbande van jou ore afhaal en dan word jou masker net ’n serp. Ek sit altyd my masker op my skoot neer, klim dan uit die kar en verloor my masker iewers langs die pad!

Serpmaskers
die-plaaslike-maskers-wat-ons-nou-wil-dra
Serpmaskers

Die Four Siistrs is naamlik Andree Bender, Karen Du Plessis, Mandy de Klerk en Cindy Bam. Saam het hierdie vier dames die slim serpmasker in die allermooiste patrone en skakerings geskep. Beskikbaar in groottes klein tot groot, bestel aanlyn by www.siistrs.co.za (Vanaf R295 tot R495).

Satynmaskers wat ons nou wil dra

Satyn is minder absorberend as katoen, word vinniger droog en voel lieflik sag op jou gesig. Boonop staan satyn bekend as ’n anti-bakteriële materiaal en is ook hipo-allergenies. Satynmaskers word spesiaal ontwerp vir mense wat sukkel met die velsensitiwiteit wat deur katoenmaskers veroorsaak word. Die satyn wat gebruik word is sag op jou gesig en beloof om rooiheid en vel-irritasie te verminder.

satynmaskers
Active Spirit Femme Collection

Die Active Spirit drielaag-maskers is beskikbaar in 4 skakerings teen R150 per masker en word verkoop met ’n gratis scrunchie (rekkie vir jou hare). Active Spirit het ook ’n groot verskeidenheid katoen-maskers beskikbaar. Justine sê: Active Spirit se masker-vorm pas die heel beste op my gesig en dit bly my heel gunsteling.  Dit sit gemaklik en die rekkies maak glad nie my ore seer nie. Die kinder-grootte maskertjies pas my dogtertjies soos ’n handskoen, val glad nie af nie en lyk pragtig.

satynmaskers
Satyn Masker Dear Deer

Chelle Lovatt van Dear Dear stik persoonlik elke masker om seker te maak die kwaliteit is op standaard. Die masker het ’n klein opening om ’n herbruikbare filter in te plaas. Beskikbaar in ’n groot verskeidenheid van skakerings en kleutergroottes ook beskikbaar. (Vanaf R200 per masker)

Sportmaskers wat ons nou wil dra

Maskers met minder lae, materiaal wat vinnig droogword en bandjies wat lekker styf kan vasbind weens die beweging van jou oefenroetine.

sportmaskers
Janita Toerien Sports Cloth Mask

Drielaag-masker spesiaal ontwerp vir die sportliefhebber. Die spesiale materiaal wat vog absorbeer en maklik droogword, die skuifbare-skakeltjie hou die masker op sy plek en met die rits aan die voorkant kan jy dit vinnig oopskuif om lekker diep asem te haal of ‘n sluk water te neem. Om te sien hoe die masker werk klik hier. (R350 per masker).

Die-plaaslike-maskers-wat-ons-nou-wil-dra
#FashionUnites Buff Mask

Die #fashionunites buff-masker bestaan uit twee lae en is ook omkeerbaar. Suzanne sê: “Hierdie buff is so lekker sag dat ek dit gereeld net om my nek dra om my warm te hou. Ek gebruik dit meestal vir buite stap in die natuur. Ek is gaande daaroor dat dit alkant selfkant is”. Met die rekband en skuifbare skakeltjie is dit maklik om die buff op sy plek te hou. (R185 per buff, kinder-groottes ook beskikbaar).

Modemaskers wat ons nou wil dra

Waag ’n slag en probeer ’n bypassende masker-en-uitrusting voorkoms! Ons hou baie van die volgende:

modemaskers
The Romantic Collective Catwalk Mask (R60)
modemaskers
The Romantic Collective Elle Polka Mask (R60)
die-plaaslike-maskers-wat-ons-nou-wil-dra
The Romantic Collective Vanity Fair
Mask (R60)

Aktrise Donnalee Roberts se plaaslike handelsmerk The Romantic Collective het die allermooiste maskers (en buffs) ontwerp wat prentjiemooi by hul nuwe reeks “The Romatic Original” reeks pas.

modemaskers
Desray Multi Paisley Mask (R119)
modemaskers
Desray Red Paisley Mask (R119)
modemaskers
Desray Navy Tie Die Mask (R119)

Desray  se maskers is ontwerp en word handgemaak deur haar span in Kaapstad. Dis nie net pragtig nie maar bestaan ook uit vier lae vir ekstra veiligheid. Die slim span by Desray het ’n 2mm buigbare koper-pypie binne-in die masker ingewerk sodat die masker kan vasknyp bo-oor die brug van jou neus.

5 Beste masker wenke:

  1. Was altyd jou nuwe masker in koue seperige water voordat jy dit vir die eerste keer dra.
  2. Verwissel altyd jou masker met ‘n nuwe skoon masker na elke uitstappie.
  3. Verwyder altyd jou masker van agter af – moet nie aan die voorkant van die masker raak nie.
  4. Hou ‘n skoon stel maskers in jou kar (en vergeet daarvan!) vir ingeval jy jou masker by die huis vergeet.
  5. Hou twee bakke by jou voordeur, een met jou gesin se skoon maskers en ‘n ander een waarin almal hul vuil maskers kan gooi sodra hul by die deur instap. Suzanne se top waswenk: “Ek gooi kookwater net so in die plastiekbak oor die vuil maskers en laat staan vir vyf minute en hang dit dan op.”

Lees ook: Is jy seker jy maak jou pantoffels reg skoon?

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
7 Wenke vir ’n volhoubare klerekas
error: Content is protected !!