Die nuutste modegier van die oomblik is die “ou geld”-voorkoms (meer bekend as “old money aesthetic”). Die trend verwys na ’n klassieke, gesofistikeerde en luukse aantrekstyl sonder om spoggerig te wees.
Ons deel ons gunsteling inspirerende “old money aesthetic” bloggers, klere-items wat jy benodig vir jou eie ou geld-klerekas. Plus jy hoef nie noodwendig ’n miljoener te wees om “ou geld”-luuks te lyk nie. Ons deel ons top ‘ryk lyk’ wenke hier. Deur Justine Kroes
02/06/2023
Maar eers, wat is die ou geld-trend?
Die ou geld (old money aesthetic) modetrend verwys na ’n klassieke, tydlose en gesofistikeerde mode-voorkoms met spesifieke fokus op luukse kledingstukke wat duur is (of duur lyk). Dink aan kasjmiertruie om jou skouers gebind, wyepyp broeke en goeie kwaliteit skoene. Daarby ook ’n netjiese en goed afgeronde skoonheidsvoorkoms van kop tot tone. ’n Goeie voorbeeld is dalk die modes te siene in TV reekse soos Succession en Blair Waldorf in Gossip Girl. ’n Paar ikoniese voorbeelde van die aantrekstyl is Lady Diana en Jackie Kennedy Onassis.
Die idee agter hierdie tendens is om ’n voorkoms te skep wat sukses, welstand en klas uitstraal, sonder om “flashy” en spoggerig te wees.
Hoekom is die tendens so popular, wonder jy dalk? Tik Tok gebruikers sal weet – die ou geld tendens het behoorlik vlam gevat op die platform en die hutsmerk (hashtag) #OldMoneyAesthetic het al 25 miljard views op Tik Tok ontvang. G’n wonder hierdie modetrend is tans op almal se lippe nie.
Die ou geld-tendens het ook gelei tot die geboorte van “Quiet Luxury”, ‘n trend wat die teenoorgestelde is van “fast fashion”. Die konsep is gebaseer op ’n minimalistiese kapsuleklerekas met kwaliteit items, daar word ook nie sigbare handelsmerke op klere gesien nie.
’n Paar van ons gunsteling Instagrambekendes en hul inspirende Old Money uitrustings:
![](https://stylvol.co.za/wp-content/uploads/2023/06/4-1-819x1024.jpg)
![](https://stylvol.co.za/wp-content/uploads/2023/06/7-1-819x1024.jpg)
![](https://stylvol.co.za/wp-content/uploads/2023/06/14-1-819x1024.jpg)
![](https://stylvol.co.za/wp-content/uploads/2023/06/9-1-819x1024.jpg)
7 Wenke om die ou geld-trend aan te pak op ’n begroting
1. Materiaal is belangrik
Teksture en kwaliteit materiale is belangrik. Wanneer jy jou volgende mode-inkopie maak, dink aan materiale wat lank sal hou, wol, kasjmier, tweed, katoen, linne en vermy sintetiese materiale wat op die oog af goedkoop lyk. Hierdie materiale beteken nie dat dit duurder sal wees nie, kyk na materiaal “blends” wat steeds duur lyk maar goedkoper is.
![](https://stylvol.co.za/wp-content/uploads/2023/06/8-1-819x1024.jpg)
2. Vermy duidelik handelsmerke
Koop kledingstukke sonder duidelike handelsmerke. ’n Item moet goeie kwaliteit wees, maar dit beteken nie noodwendig dat dit ’n peperduur handelsmerk moet wees nie. Boonop is die doel om minder spoggerig te probeer lyk, eerder net klassiek en gesofistikeerd.
![](https://stylvol.co.za/wp-content/uploads/2023/06/13-1-819x1024.jpg)
3. Kies neutrale skakerings
Hou by neutrale en gedempte skakerings vir klere-items, dink aan wit, bruin, beige, grys, swart en vlootblou. Om so ’n klerekas te bou, maak dit makliker om items bymekaar te meng en pas wat boonop op die lang duur jou sak ook sal pas.
4. Minimale bykomstighede
Hou jou bykomstighede minimalisties en klassiek. ’n Mooi paar oorbelle en oorgroot sonbrille (sonder die logo natuurlik), haarbande en syserpies (dink Blair Waldorf), is al wat jy nodig het vir hierdie voorkoms.
![](https://stylvol.co.za/wp-content/uploads/2023/06/6-1-819x1024.jpg)
5. Hou hare, naels en grimering netjies
‘Lyk ryk’ en wees altyd afgerond, netjiese skoon hare, minimalisitiese grimering en daarby ook netjies versorgde naels. Om netjies en afgerond te lyk behoort nie die bank te breek nie!
![](https://stylvol.co.za/wp-content/uploads/2023/06/3-1-819x1024.jpg)
6. Duur winkels is nie ’n moet nie
Maak ’n lys van dit wat jy benodig, jy hoef nie noodwending by duur winkels te koop nie; H&M en Superbalist het byvoorbeeld wonderlike sakpas klere-opsies wat steeds van goeie gehalte materiale gemaak is. Jy kan ook natuurlik goeie gehalte klere tweedehands koop, yaga.co.za is byvoorbeeld ’n wonderlike platform.
7. Cost per wear, hou dit in gedagte
Partykeer is daardie goeie kwaliteit item op jou wenslysie effens duur – onthou hier die cost per wear konsep. Deel die aantal keer wat jy daardie kledingstuk gaan deur sy prys. As jy ’n duur kledingstuk baie dra, gaan is sy cost per wear laag.
Moet-hê items vir jou eie ou geld-klerekas:
Blazer en jasse
’n Baadjie (blazer), dra dit by denims of meer netjies by ’n romp. ‘n Effense oorgroot/boyfriend snit skep dadelik daardie ou geld-gevoel. Die trench/soldatejas is beslis ook ’n moet en naturlik ’n wol of tweed materiaaljas.
Trui of cardigan
Truie, V-nek, cardigan style en selfs polonektruie is ’n belangrike bestanddeel vir jou ou geld-klerekas. “Layer” jou trui met ’n oopknoophemp en trench/soldatejas of bind jou trui rondom jou skouers.
Kraaghemp
’n Opknoop kraaghemp, wit en blou strepe is tans ’n gewilde keuse maar ’n tydlose wit hemp werk net so goed.
Neutrale broeke en rompe
’n Klassieke blou denim in ’n regaf snit. Broeke in neutrale skakerings, wyepypbroeke lyk veral gesofistikeerd. Tennisstyl rompies is ook ’n gewilde ou geld-uitrusting keuse.
Kwaliteit skoene
Kwaliteit skoene, dink aan leer loaferstyl skoene, ’n netjiese klassieke hakskoen, kniehoogte stewels of ballet pumps.
T-hemde
’n Goeie kwaliteit katoen T-hemp in wit, beige of swart – kies die skakering wat jy die meeste sal dra.
Minimalistiese handsak
Kies ’n tydlose handsak wat nog lang jare lank sal hou. ’n Tote bag styl is altyd klassiek en tydloos.
Bykomstighede
’n Sonbril (sonder handelsmerke wat wys), syserpe, goue juwele, haarbande en selfs moderne styl pêrels skep daardie ouwêreld/ou geld glansryke gevoel.