Ons gunsteling oorbelle, alles plaaslik vervaardig!

Hier by Stylvol het ons (Suzanne & Justine) albei ‘n hele paar gunsteling oorbelle in ons bykomstighede- laai, en boonop is ons gunstelinge almal deur plaaslike ontwerpers gemaak of ontwerp (koop lekker Suid-Afrikaans!).

Suzanne se gunsteling oorbelle:

My vriendinne weet hoe baie ek van oorbelle hou, en al hierdie gunstelinge was toevallig verjaarsdag-geskenke van vriendinne.

Missibaba

Ek hou van bonkige oorbelle, maar dit is dikwels swaar en ek haal dit iewers deur die dag af. Missibaba se oorbelle word egter van leer gemaak en is lekker lig. Die ontwerpe verander gereeld en hierdie presiese paar is nie meer beskikbaar nie, maar loer gerus hier vir nog mooi, bonkige leeroorbelle.

Missibaba bonkige leer oorbelle

Jane Valken

Ek is gaande daaroor om nou en dan te ontsnap en ’n dag op my eie of saam met ’n vriendin Kalkbaai toe te gaan.  Dit bestaan gewoonlik uit ’n vroegoggend-swem, gevolg deur ontbyt terwyl jy vir die see kyk en dan rondsnuffel in winkeltjies. Een van my gunsteling winkels is Jane Valken en dit is waar die oorbelle vandaan is. Ek hou van die vierkantige ontwerp van hierdie paar. Vinnig spring, dié weergawe van hulle is nou op uitverkoping vir slegs R100

gunsteling oorbelle
Jane Valken oorbelle

Kirsten Goss

Ek het ’n groep skool-ma-vriendinne en dit het nou al tradisie geword dat met die meeste van ons se verjaarsdae almal saam vir die verjaarsdagmeisie iets by Kirsten Goss koop. Glo my, dit bring kinderlike opgewondenheid oor jou verjaarsdag mee, al beteken dit jy is nog ’n jaar ouer.

Kirsten Goss oorbelle

Suzanne se toekomstige kopies:

Famke

Ek hou baie van Famke se ontwerpe, dit is minimalisties en stylvol. Ek het hierdie paar al gehad en dit was my elke-dagse paar oorbelle. Ek het hulle egter iewers verloor en ek wil beslis ’n nuwe paar hê.

Famke Cirscle Stud Earrings (R295)

Obtuse

Ek het hierdie mooi paar Dancing Disc oorbelle (R320) van Kaapse ontwerper Obtuse by Purr raakgesien en ek hou van die eenvoudige ontwerp.

Obtuse Dancing Disc Earrings (R320 by Purr)

Justine se gunsteling oorbelle:

Ek dra nie gewoonlik baie bykomstighede nie, maar oorbelle is lieflik om mee te eksperimenteer, hier is ’n paar van my gunstelinge:

Voorstad Studio

VoorstadStudio is die breinkind van Xtine, ’n juweliersontwerper van Kaapstad wat graag vroue (of mans, selfs tieners) in haar ateljee leer hoe om hul eie juwele te maak.

Hierdie pragtige Simba-tjippie (R550) oorbelle laat my altyd vrolik en vroulik voel, en boonop sommer spesiaal omdat ek so baie van die unieke trots-Suid-Afrikaanse ontwerp hou. Lyk die nie nes Simba tjippies nie? Besoek Voorstadstudio hier om te loer na al Xtine se pragtige ontwerpe, of om jou juweel-ontwerpklas te bespreek.

Voorstadstudio Simba Tjippie oorbelle (R550)

By Cara

By Cara se Mis-matched Shell and Pearl Statement Drops (R175) is beslis ‘n gunsteling wat ek keer op keer dra. Ek het van my tienerdae ’n vreemde liefde vir onpaar-oorbelle, style wat nie identities is in elke oorgaatjie nie. Dit is ’n klein styl-element wat baie min mense eintlik agterkom, maar dit is uniek en anders.

Ek dra graag hierdie oorbelle na spesiale geleenthede soos troues, maar deesdae dra ek dit sommer saam met ‘n wit T-hemp en ’n denim, dit gee so ’n uitrusting ’n stylvolle hupstoot. Hierdie styl is nie meer beskikbaar nie maar loer hier vir nog By Cara ontwerpe.

By Cara Mismatched Pearl Earrings (R175)

Life Jewellery Design

Hierdie helder en vrolike klei-polymeer oorbelontwerpe van Life Jewellery Design is soveel pret! Elke ontwerp word met die hand gemaak en elke blaartjie en detail self gevorm, beslis ’n gunsteling omdat nie enige van die ontwerpe dieselfde is nie – so uniek. Loer na Life Jewellery Design se Facebookblad hier vir nog vrolike ontwerpe.

Ek dra nie gewoonlik helder bykomstighede nie maar hierdie jaar is ek gereed om ’n verandering te maak en meer uitdagend te wees met my bykomstighede-keuses.

gunsteling oorbelle
Klei-polymeer oorbelle Life Jewellery Design

Justine se toekomstige kopies:

Pichulik

Die Pichulik Mithra oorbel is op my wenslysie – hierdie oorbel maak beslis ‘n stylvolle stelling!

Pichulik Mithra Earring (R1150)

Naledi by Woolworths

Ek hou baie van die Naledi Interest Hoop (R79,95 Woolworths). Die Naledi reeks wat by Woolworths- winkels beskikbaar is, word trots op Suid-Afrikaanse grond gemaak – gebore uit Botshabelo, ’n klein dorpie in die Vrystaat. Naledi beteken ‘plek van toevlug’, hoe gepas vir die kreatiewe hande agter die ontwerpe wat nou deur hierdie geleentheid ’n volhoubare inkomste kan verdien.

Woolworths Naledi Hoop Earrings (R79,95)

Lees ook: Handonsmettingsmiddels van mooi tot prakties

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
4 van ons gunsteling kettingwinkel-kopies
error: Content is protected !!