Lospassende somersrokke wat ons nou wil dra

Die warm weer en tuisblydae maak dat ons leef in lospassende somersrokke en sandale. Hierdie rokke is nou op ons wenslysies.

Ons droom van hierdie lospassende somersrokke

Suzanne kies:

Desray Multi Print 2-Tiered Dress (R1350)

Ek is gaande oor die helder patrone! Die ronde hals is hoër as wat ek gewoonlik dra, maar ek hou so baie van die driekwart moue en sakke dat dit nie saak maak nie. Die los snit is ideaal vir warm somersdae of ek kan dit sommer net oor my swembroek gooi. Ek is baie lief vir swem, en met so baie dae net by die huis is ek meeste van die dag in my swembroek.

Ek sal die rok dra saam met bruin leersandale of helder espadrille-styl skoene en ’n oorgroot hoed en ’n sonbril.

Merwe Mode Parachute Dress Long (R1680 beskikbaar by Purr)

Kyk net hoe mooi val die pragtige sagte moue van díe rok. Gedurende die hittige somersdae sal ek die boonste knopie ooplos. Die beste van alles is natuurlik dat die rok sakke het!

Ek hou van die bonkige sandale wat die model op die foto saam met die rok dra. Dit keer dat die rok te ‘romanties’ lyk. Wanneer die weer koeler is, sal my Docs dalk selfs goed werk hierby.

Poetry Stevie Waffle Loungewear Dress (R499)

Hierdie rok lyk amper soos ’n elegante weergawe van ’n oorgroot T-hemp. Die V-nek is altyd vir my ’n wenner en ek hou ook van die moue se lengte. Mooi leersandale of pastelkleurige Birkenstock-plakkies of sliders sal mooi lyk daarby. Bonkige tekkies en ’n keps hierby sal dit ’n meer sportiewe voorkoms gee.

Justine kies

Country Road Linen Crinkle Tiered Dress (R1199)

Hierdie rok lyk lieflik koel en asof dit lekker gemaklik sal sit. Hoewel my hart na die wit- weergawe hunker, weet ek daar sal binne twee minute daarop gemors word, selfs gevlek wees. Veral tuis saam met die kinders se roomysmondjies en tjippie-handjies sal wit nie meer wit wees nie. Die helder geel skakering sal my beslis laat goed voel.  

Ek kan die rok met ’n wit paar tekkies dra vir ’n uitstappie winkels toe en sommer met plakkies tuis.

Me&B Large Spot Tiered Sundress (R899)

’n Polkakol bly ’n gunsteling en die oorgrootkolle op hierdie rok het my hart gesteel (oukei, én die strik-detail op die rug ook!). Ek weet sommer hierdie sal vir jare nog ’n stapel-somersitem in my klerekas wees, die wit-en-swart bly tydloos en polkakolle nog meer so.

Op warm dae by die huis sal ek my hare met ’n kleurvolle haarscrunchie vasmaak en selfs dalk ’n paar helder slider-sandale aan my voete dra.

Country Road Modern Logo Tank Dress (R699)

Hierdie T-hempstyl rok is beslis ’n gunsteling om by die huis te dra op warm somersdae. Dit herinner my aan my skooldae toe ek vakansies in my broer se oorgroot-T-hemde deurgebring het; ek het gedink dit was “cool” maar dit was boonop van die gemaklikste klere wat ek nog gedra het. Ek weet sommer ek sal hierdie rok as ’n slaaphemp ook gebruik.

Kombineer met ’n paar sportsandale en ’n bofbalpet vir ’n uitstappie so reg uit die 90’s!

Lees ook: Gemaklike tuisbly sandale

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Aqualis
Aqualis se Steyn Grobler; van Pretoria na Harrods
error: Content is protected !!