Die vakansie is om die draai, en of jy land uit of kuslangs beweeg, hierdie vakansie is dit dalk ’n goeie idee om te begin dink oor jou pakproses. Hier is ons 13 beste pakwenke om jou inpak, uitpak en reis- proses maklik en eenvoudig te maak, ons hoop dit help sodat jy lekker vakansie kan hou! Deur Justine Kroes
10/12/2023
1. Begin vroegtydig
Een van ons beste pakwenke; begin vroeg. Maak eers ’n lysie van wat jy dink jy nodig het om te pak en wat jy dalk nog moet koop. Begin die pakproses stelselmatig ’n week voordat jy met vakansie vertrek – pak alles wat jy met vakansie wil saamneem eenkant uit. Dit sal vir jou ’n goeie idee gee van dit wat jy dalk nog nodig het en of jy minder klere of meer klere moet pak.
2. Kyk na die weer
Ja ons weet – die weer kan ’n blitsvinnige draai maak. Maar dit help steeds om jou kop rondom dit te kry wat jy gaan inpak. Min of meer hoeveel sonnige dae, of as daar dalk koeler reënweer gaan wees.
3. Beplan uitrustings en pas aan
Ons vrouens se lywe verander byna weekliks, daardie denim wat jy 3 maande laas aangehad het mag dalk nou te los of te knap sit. Pas liefs van die klere vooraf aan om seker te maak dit pas voor jy dit inpak.
Hier kan jy ook ’n uur of twee neem om ’n paar uitrustingopsies bymekaar te sit – veelsydige items wat apart en as ’n stel gedra kan word. Jy kan ook foto’s neem van uitrustings om jouself te herinner wat jy ingepak het. Hierdie is veral handig as jy uit ’n tas leef op jou vakansie en nie in ’n kas kan loer na jou klere-opsies wat agtermekaar hang nie. Dit spaar ook natuurlik tyd soggens as jy nie ‘n idee het oor wat om aan te trek nie.
4. Kies klere in materiale wat nie maklik kreukel nie
Kyk ons weet klere kreukel – maar jy wil ook nie die heel vakansie lyk asof jy uit die bed uit opgestaan het nie en asof jy werklik uit ’n tas leef nie. Dit is ook dalk ’n goeie idee om ’n klein stoomyster in te pak.
’n Slim wenk is om die stoom van ’n oop ketel in jou hotelkamer te gebruik om kreukels uit te stoom. Psst, jou haaryster werk net so goed om daardie kraag of soom uit te “stryk”.
5. Gebruik packing cubes
Hierdie is die heel slimste uitvindsel! Dit hou jou tas netjies met alles op sy plek. Jy kan kies om soort by soort in ’n “cube” te pak, byvoorbeeld, rokke by rokke, broeke by broeke, OF volledig vooruitbeplande uitrustings bymekaar te pak om ekstra georganiseerd te wees.
Nie alleen hou dit jou tas super netjies nie, jy kan makliker iets vind as jy vinnig op soek is na iets in jou tas. Dit maak ook natuurlik die uitpakproses makliker – skuif eenvoudig jou “cubes” van die tas tot die laai of kas.
6. Rol jou klere
Rol gerus jou klere, dit skep meer spasie in jou tas, plus jy kan makliker sien wat waar lê. Dit sorg ook dat jou klere nie so maklik kreukel nie. As jy packing cubes gebruik, rol jou klere voordat jy dit hierin pak, jy sal verbaas wees oor hoe baie jy kan inpas.
7. ’n Wasgoedsak in jou tas
Hou jou skoon klere skoon en stoor jou vuil klere eenkant. ’n Wasgoedsak is ’n lewensredder vir wanneer jy heel vakansie lank uit ’n tas leef. Bêre saans al jou vuil klere in jou “wasgoedsak” of totdat jy kans kry om klere uit te spoel of te gaan was. Dit hou jou skoon klere skoon, en soos die sak voller raak het jy ’n goeie idee van wanneer dit ’n tyd is om dalk ’n wasgoed wassessie aan te pak.
8. Netjiese bykomstighede en juweliersware
Hou jou juwele mooi netjies en stoor dit in ’n slim houer. Hierdie houers van The Box Fashion is ideaal hiervoor – jou kettinkies sal nie aanhoudend bly saamkoek nie.

Plus dit is ’n veilige plek waar jy elke aand voor slaaptyd jou juwele kan bêre, wat maak dat jy dit nie sommer sal verloor of agterlaat nie.
Vir jou sonbrille;
nie alleen is hierdie handig as jy met meer as een paar sonbrille reis nie – dit is ook ’n ideaale stoorplek vir sonbrille tuis. Ons sonbrille lê gewoonlik die wêreld vol en die lense bly natuurlik krap.

Tuis kan jy hierdie slim sonbrilhouer ophang om maklik by jou sonbrille uit te kom. Of rol dit eenvoudig op en stoor die houer in jou reissak.
9. Hoed as handbagasie? Nie nodig!
Sukkel jy ook nog altyd met jou vakansiehoed wat heel laaste in die kar ingedruk word? Of as hand- bagasie op die vliegtuig waar die hoed eintlik net heeltyd in die pad is?!

Kyk hoe oulik is hierdie slim pakwenk – plaas jou hoed omgekeer in die middel van jou tas – en pak rondom, in en bo op die hoed. Hierdie proses sal verseker jou hoed by in een stuk sonder seerkry en sonder sukkel as handbagasie.
10. Vind jou tas
Om jou vakansietas of sak voor of na ’n vakansie te verloor kan blitsvinnig vakansieplanne versuur. Ons het dit nog nie self probeer nie, maar “luggage trackers” is die nuwe moet-hê reisbykomstigheid.
Die “tracker” wat met jou foon verbind word, maak gebruik van “Bluetooth” en “gps” seine wat die ligging van jou tas direk na jou foon toe stuur. Jy kan te alle tye sien waar jou tas is en hoe hy beweeg (mits die “tracker” steeds in die tas is.)
Hier is ’n paar opsies wat ons raakgesien het:
11. Slim plan met tech
Selfoon herlaaierdrade wat alewig koek, jou oorfone wat jy bly verloor, klink dit bekend? Probeer gerus ’n toeritshouertjie wat al jou tech-items netjies en bymekaar stoor. Dit vereenvoudig nie net die pak-proses nie, maar so ook die uitpak en onthouproses as jy weer aan die ander kant inpak.
12. ’n Waterdigte smuktassie
Al ooit vergeet om daardie sjampoebotteltjie ordentlik toe te draai voor jy dit in jou skoonheid-smuktassie pak? Die resultaat is katastrofies – veral as jou sakkie nie waterdig is nie – sjampoe oor ALLES, klere, skoene die lot! ’n Waterdigte sakkie sal natuurlik keer dat al jou klere in jou skoonheidsprodukte swem.
Nog ’n wenk – ’n deursigtige smuktassie werk wonders – jy loer sommer regdeur om te sien wat jy waar nodig het sonder om rond te krap en soek.
13. Goeie kwaliteit tasse en sakke
Hierdie kan natuurlik die pakproses maak of breek.
Met tasse verkies ons iets wat maklik genoeg rondgestoot/getrek kan work – ’n mooi ontwerp is natuurlik nie ’n slegte idee nie.
Oornag- of naweeksak –
’n Ruim, goeie kwaliteit naweeksak wat ook kan werk as handbagasie op ’n vlug is ’n moet. Ons hou so baie van hierdie egte leer The Sleepover sak van Stonecamp Leather (R3 960) 52cm x 30 cm x 25 cm, 100% leer met ’n voering aan die binnekant.
Handbagasie/ reissak
As jy dalk gaan rondtoer is ’n rugsak wat sommer dubbeldiens doen as handbagasie en handsak die antwoord. Dit is min dat mens vir vrou ’n goeie kwaliteit rugsak kan opspoor – boonop nog een wat groot is met lekker pakplek.