Van mideeus tot minimalisties, amber en rokerige kleur tot keramiek blompotte. Hierdie is die blompotte en style wat nou groot nuus is. Deur Suzanne Kotzé.
29/04/2022
Hierdie blompotte wil gesien word
(en moenie skaam wees om sommer ’n hele paar saam uit te stal nie).
Organiese onperfekte vorms
Organiese vorms en groottes soos wat ons in die natuur kry, is die inspirasie agter hierdie trend en die blompotte van Hertex Haus vang dit perfek vas. Dit is van handgeblaasde glas gemaak en is effens ondeursigtig met ’n ‘frosted’ afwerking. Glas met hierdie tipe tekstuur-afwerking is groot nuus in dekor.
Om dieselfde styl en materiaal blompotte in verskillende kleure en groottes te gebruik is ook op die oomblik baie in.
Gekleurde glas blompotte
Gedempte, rokerige kleure soos amber, grysblou, grys, swart en donkergroen is van die kleure wat gewild is. Hiermee saam is retro of mideeuse vorms ’n wenkombinasie.
Jy kan blompotte ook leeg uitstal.
Klassieke keramiek blompotte
Keramiek is klassiek, maar dit is vandag veral die handgemaakte gevoel wat keramiek skep, wat dit so relevant maak.
Moenie bang wees om ’n paar van dieselfde blompotte in verskillende groottes te koop en dit saam te gebruik nie. Dit werk veral goed as jy enkele takke of blomme gebruik om ’n minimalistiese gevoel te skep.
Verkies jy egter ’n meer minimalistiese en gladde voorkoms keramiek is die Dane Ceramic reeks van Country Road ’n goeie keuse.