’n klein bietjie Viktoriaans, ’n klein bietjie 70’s, maar sommer baie stylvol is die kragtige krae-tendens wat steeds hoogmode bly na hierdie winterseisoen. Verruil gerus hierdie somer jou doodgewone wit kraaghemp vir een met ’n verskil, een met skerp punte, frille en valle en selfs met interessante borduurwerk. Loer hier na ’n paar van ons gunsteling kraagkopies. Deur Justine Kroes
Kragtige krae
Hierdie groot “maak ’n stelling” styl krae is eerste op die looplanke gesien by modehuis Chanel en daarna by Ganni. Die verskillende kraagstyle voel soos ’n kombinasie van die prairie styl en ook ’n bietjie Victoriaans met afwerkings van kant en frille, maar dan is daar ook die wat meer 70’s lyk met skerp punte en ander met die mooiste borduurwerk.
Krae met borduurwerk:
Kyk net hoe mooi is hierdie pragtige vrugte wat op hierdie krae geborduur is. Hierdie Me and B hemde met die allermooiste krae laat ons sommer dadelik stylvol voel. Beslis ’n tydlose item met ’n verskil vir enigiemand se klerekas.
Patrone
Die ruitjiespatroontrend (gingham) bly steeds groot nuus. Kombineer hierdie patroon met ’n “peter pan”-styl kraag, en jy is sommer dadelik in die kol met jou modekeuses vir die seisoen. Loer hier na ’n paar gunstelinge;
Frille en valle
Wie onthou Prinses Diana se oorgroot krae met die frille en valle? Hierdie somer is die frille en valle daar maar meer minimalisties met skoon lyne daarby.
Rokke met krae
Baie van ons verkies eerder rokke bo hemde en broeke – loer na hierdie kraagdetail op die rokke – elk is ’n ware gunsteling in ons boeke, hoe besluit ’n mens net op een?!
Lees ook: Sakpas haarbykomstighede