Tekkies is ’n moet-hê in enige klerekas, en klassieke wit tekkies nog meer so, dit is veelsydig, pas feitlik by alles en is boonop gemaklik. Deur Justine Kroes en Suzanne Kotzé
Probeer gerus ’n laeprofiel tekkiestyl as jy huiwerig is vir tekkies dra, hierdie “slimline” tipe styl pas die meeste mense.
Stylvol wenk: Kies eerder leertekkies, dit is super maklik om skoon te maak, jy vee dit eenvoudig net skoon.
Justine kies
Superga 2750 NapIngCotu (R1399)
Na jare van hakskoene dra voor daar kinders was, het tekkies nou my gunsteling plaasvervanger geword. Wit tekkies gemaak van leer of ’n materiaal wat maklik kan skoonvee is vir my ’n moet. Ek leef byna elke dag in my Supergas, ’n klassieke kanniedood-tekkiestyl. Ek hou van vroulik aantrek en dra graag my wit tekkies by rokke en rompe.
Woolworths Lace-up Platform Sneakers (R299)
Omdat ek jare lank graag hakke gedra het, hou ek van ’n tekkie met ‘n tikkie ekstra hoogte – hierdie Woolworths platform-tekkie doen presies dit. Ek voel ook die bietjie ekstra hoogte skep die illusie van langer en slanker bene. Hoër tekkies lyk veral vir my mooi by sagte rompe en rokke.
Suzanne kies
Country Road Ray Sneaker (R899)
Ek hou van die klassieke, skoon lyne van hierdie tekkies. Die bo-kant is van sweedsleer gemaak. Ek verkies leer omdat dit gemakliker en minder sweterig is.
Trenery Emma Sneaker (R1099)
Die platformsool met aangestikte taanleer-detail verander gewone wit leertekkies in ’n meer moderne keuse. Ek sal hierdie paar beslis saam met my jeans dra.
Fitflop Rally Sneaker in Urban White (R1999)
Vir lank het ons aan FitFlops as ‘ouma-skoene’ met spesiale binnesole gedink, maar ek was so verras met die mooi ontwerp van hulle tekkies en skoene. ’n Hele paar mode-stilis vriendinne het hierdie tekkies, wat soos outydse tennistekkies lyk, aanbeveel omdat dit mooi en prakties is, veral as jy baie tyd op jou voete moet deurbring tydens fotosessies. Hierdie gemaklike tekkies is ’n moet vir enige ma, juffrou, verpleegster, sjef, kelnerin of enige beroep waar jy op jou voete moet wees. Behalwe dat dit mooi is, het dit heerlike sagte binnesole, die snit pas my effense breër voete goed en die sole is anti-glip, wat goeie ondersteuning bied.