Al ooit gewonder wat huurmode is en hoe dit werk? In hierdie artikel verduidelik ons die voordele asook die moontlike nadele van mode-uitrustings huur. Ons vertel jou ook meer oor hoe die proses werk en lys ’n klompie plaaslike aanlynplatforms om jou eie huurmodeproses te begin. Deur Justine Kroes
Waarom trend huurmodes?
Daar is ’n groot bewustheid onder modeliefhebbers om meer volhoubare modekeuses te maak. Die “koop”-mark het nou verskuif na ’n “huur”-mark, en om klere te huur word tans gesien as ‘n slim en stylvolle alternatief tot fast fashion. Boonop is dit ’n goedkoper alternatief tot duur uitrustings koop vir glansgeleenthede.
Dink aan huurmode as die “Netflix van mode”; jy kry toegang tot fantastiese styl-items sonder om jou klerekas te klotter.
Voordele van huurmode:
1. Dra dit eenkeer sonder skuldgevoelens
Ons almal ken die gevoel, jy koop ten duurste ’n aandrok, net om dit een keer te dra en dan vir ewig in jou kas te laat hang en skuldig te voel daaroor. Die huurmode alternatief laat jou toe om teen die helfte van die prys van ’n nuwe item een te huur vir ’n aand, terug te gee, en glad nie skuldig daaroor hoef te voel nie.
2. Toegang tot ontwerpersuitrustings
Huurmode bied die geleentheid om duur ontwerpersuitrustings te dra vir’n fraksie van die prys. ’n Begrotingsvriendelike manier om premium handelsmerke en trends te probeer sonder om ’n hoë prys daarvoor te betaal.

3. Beter vir die omgewing
Elke uitrusting wat gehuur word verleng die lewensiklus van so ’n uitrusting en verminder mode-afval, klere wat nie herwin word nie en op rommelhope land. Hierdie is een van die maklikste maniere om volhoubaar aan te trek sonder om jou goeie styl op te offer.
4. Ongeklotterde klerekas
Deur minder te koop en meer te huur het jy nie nodig om onnodige formele aandrokke hoef te stoor nie. Om uitrustings te huur skep spasie in jou klerekas.
5. Groot verskeidenheid style
Daar is ’n groot verskeidenheid style en skakerings beskikbaar, van die doodgewone LBD (klein swart rokkies) tot helder en blink en rokke wat ’n stelling maak. Opsies vir elke stylpersoonlik en elke ouderdom. Van pakke tot rokke en selfs ontwerpers-handsakke op party platforms beskikbaar om te huur.

Nadele van huurmode:
1. Beperkte voorraad
Jy gaan moontlik nie altyd jou grootte vind en die presiese kleur en styl wat jy in gedagte gehad het nie.
2. Pas-risiko
Die huurmode-uitrusting mag dalk nie pas soos wat jy gedink het dit gaan nie. Die rok of materiaal lyk dalk anders in persoon teenoor wat dit aanlyn lyk. Party platforms het wel ’n aanpas studio – waar jy kan pas voor jy huur.
3. Skade-angs
Jy is dalk angstig dat die huurrok iets gaan oorkom, ’n glas wyn oor die hele rok, of ’n skeur.
So werk huurmodes:
Begin die soektog:
Daar is ’n hele klompie aanlynplatforms wat rokke en uitrustings bied, soek volgens kleur, grootte en styl.
Probeer dit aan:
By die meeste van die aanlynplatforms kan jy ’n afspraak maak om rokke aan te pas ingeval jy wil dubbel seker maak van die grootte, styl of snit.

Bespreek dit:
Kliënte kan uitrustings aanlyn bespreek, by party platforms al ses maande vooruit.
Aflewering:
Die meeste huurmode-platforms lewer landswyd af.
Teruggee:
Rokke/uitrustings word na die geleentheid weer opgelaai en met die meeste huur-platforms is droogskoonmaak ook by die prys ingesluit.










