Handsakke bly nou maar eenvoudig een van ons gunsteling modebykomstighede: ’n praktiese item wat jou hele uitrusting kan verhef en een wat jy werklik kan geniet. Loer gerus hier na die 9 grootste handsakstyle tans op ons (en die modewêreld) se radar plus ’n paar gunstelinge op ons kooplysie. Deur Justine Kroes
31/06/2024
1. Palmtas (clutch bag)
Hoewel die Afrikaans vir clutch bag “palmtas” is, is hierdie seisoen se “clutch” effens groter as een wat jy gemaklik in die palm van jou hand sal kan vashou.
Vanjaar is die trendy manier om dit so nonchalant as moontlik onder jou arm te dra (selfs die oorgroot handsakstyle word nou so gedra).
By modevertonings van ontwerpers Miu Miu en Versace was die styl (en onder die arm dra) duidelik ’n gewilde handsakstyl
2. Kettings
’n Ketting-reaksie – soos dit onder modekenners beskryf word – is dié handsaktrend: handsakke met kettingafwerkings is in. Hoe groter, bonkiger en blinker hoe beter.
Hierdie handsakstyl is veral ’n goeie opsie as jy iemand is wat reeds nie baie ekstra juwele dra nie. Sien kettings as ’n juweel styl-element vir jou handsak, maar ook vir jou. Wanneer jy jou handsak met sy kettingafwerking dra, verhef dit dadelik jou uitrusting (jy sal verbaas wees wat ’n tikkie blink kan doen!).
Op die loopplanke was kettings (oraloor!) duidelik ’n gewilde afwerking op handsakke, ook om as bandjies te dien om die sak jou oor jou hand of oor jou skouer te dra. Veral gesien by modevertonings van Valentino, Victoria Beckham, Louis Vuitton, en Chanel
3. Unieke vorms en ontwerpe
Hondjie-, skulp- en busvormige handsakke? Ja, jy het reg gehoor en ons is opgewonde oor hierdie unieke handsakstyle. Oulike ontwerpe wat ons raakgesien het is hondjie- of hartjie- en skulpvorms. Ons is self nou eienaars van skulpvormige handsakke en dit maak ons so gelukkig om dit te dra.
Hierdie handsaktendens dien as herinnering dat jy ook pret behoort te hê met jou modebesluite en om jouself nie te ernstig op te neem nie.
Bach Shoes Clam Handbag (beskikbaar in verskillende skakerings). Meng en pas bandjieskakerings en bandjie lengtes (kruislyf of om die arm) vir jou eie unieke ontwerp. By elke handsak kan jy ook jou eie “charms” kies om in te sluit. Loer hier vir meer.
4. XXL die ekstra groot sak
In reaksie op verlede seisoen se piepklein mikrohandsak-trend is die oorgroot tote-styl handsakke weer terug.
Hierdie is veral lekker vir elke dag se gebruik vir besige Ma’s wat heen en weer hardloop tussen sportwedstryde en werksvergaderings. Dink net aan al daardie ekstra spasie vir versnaperinge, en sommer vir jou skootrekenaar ook!
Hierdie sak is ook ideaal vir reis, ’n perfekte grootte om onder jou vliegtuigsitplek in te stoot en groot genoeg vir al jou reisbykomstighede en dalk nog meer.
Met die ekstra groot handsakstyle het jy nie meer nodig om jou handsakinhoud haarfyn te beplan nie, hier is spasie vir jou hele lewe en nog meer.
Ook ’n gunsteling op loopplanke by modeontwerpers Victoria Beckham, Ferragamo, en Loewe
5. Dierepatroon handsakke
Hierdie seisoen is daar ’n hele klompie dierepatroon handsakke wat tans trend. Die gunsteling-patrone op handsakke is sebramotief, luiperdmotief en slangvelpatroon.
Wenk: Indien jy ’n dierepatroon handsak wil aankoop, dink aan die meerderheid klere in jou kas en by watter een van hierdie drie dierepatrone dit die maklikste sal pas.
Bruin – luiperdmotief, swart en wit – sebrapatrone en grys – slangvelpatroon.
6. Handsakbykomstighede (charms)
Aanknipbykomstighede, of handbag charms soos dit bekendstaan, is ’n reuse handsaktrend wat ons vermoed al hoe groter gaan raak in Suid Afrika.
As ’n mens net loer na die handsakbykomstighede van modebekendes by vanjaar se internasionale modevertonings is dit duidelik dat enigiets vanaf die voorletters van jou naam tot ’n teddiebeer-sleutelhouer aan jou handsak vasgeknip kan word.
Ons gunsteling is natuurlik die aanknip-oorfoonhouertjies: hulle is nie net super handig nie (want ons verloor altyd ons s’n diep onder in ons handsakke), maar dit lyk sommer heel oulik.
Wenk: ’n doodgewone sleutelhouer of juweel “charm” kan ook as “handsakbykomstigheid” aangeknip word. Kyk net hoe oulik is hierdie:
7. ’n Tikkie rooi
Die tikkie rooi volg ons oraloor rond. Om net ’n tikkie (pop of red) die seisoen by jou uitrusting te dra, is beslis ’n mode JA!
Selfs op loopplanke by Valentino, Ferragamo en Marni was die rooi handsak ’n gewilde uitstaan-element.
Hoekom dan nie ’n rooi handsak kies as jou tikkie rooi nie? Die winkels is tans propvol en jy sal maklik ’n handsakstyl in stopstraatrooi vind waarvan jy hou.
8. Sirkel- en halfmaanvormige handsakke
Hierdie sirkelvormige sakke is ’n gunsteling vorm om te dra. Afhangend van jou persoonlike voorkeur, kies ’n groter of kleiner sirkelvormige of halfmaan handsak, dra dit in jou hand, op jou voorarm of aan jou skouer.
’n Gewilde keuse op die loopplanke by Louis Vuitton, Bottega Veneta en Valentino.
9. Spieëltjie, spieëltjie
Silwer (soos jul dalk teen die tyd al weet) is ’n skakering wat steeds skitter in die modewêreld. Van silwer denims, baadjies en skoene, tot die silwer handsak is nou ook ’n gunsteling onder modeliefhebbers. Die silwer handsak is vir die meeste ’n minder uitdagende manier om die silwer skakering te dra.
Ons hou veral van hoe veelsydig so ’n silwer handsak is – dra dit gedurende die dag met jou denims, wit hemp en ballerinaskoene, of stileer dit saans met jou gunsteling swart nommertjie.