Hierdie modefoute laat jou dalk ouer lyk, maak jy een van hulle?

Het jy geweet as jy die regte styl en stileertruuks volg, kan dit jou meer jeugdig laat voorkom? Ja, nes die verkeerde grimering jou kan laat ouer lyk, so kan verkeerde modekeuses ook onnodige ekstra jare by jou ouderdom voeg. Maak jy dalk onbewustelik een van hierdie modefoute? Lees meer hier: Deur Justine Kroes

27/09/2024

14 Modefoute wat jou voorkoms verouder

1. Als pas eksie perfeksie bymekaar

Dit was eens op ’n tyd mode om jou handsak, skoene en gordel bymekaar te laat pas, maar hierdie stileertruuk is al vir jare nie meer van toepassing nie.

Om al jou bykomstighede eksie perfeksie bymekaar te laat pas, is ’n verouderde manier van aantrek, en is eerlikwaar ook uitputtend!

Foto: @greceghanem op Instagram

Hoewel ons glo daar is ’n tyd en plek vir ’n gepoleerde voorkoms waar elemente van jou uitrusting mekaar komplementeer, is dit nie nodig dat jou hoed, skoene en handsak presies dieselfde skakering hoef te wees nie.

Probeer met jou volgende aantreksessie om verskillende patrone of kleurskakerings te meng en pas. Dit mag aanvanklik uitdagend voel, maar glo ons jou modekeuses hoef nie ’n klomp reëls na te volg nie. Mode is daar om te omhels en ten volle te geniet!

Foto: @despi_naka op Instagram

2. Te veel bykomstighede

Tensy jou stylpersoonlikheid eksentriek en dramaties is, behoort jy nie te veel juwele en bykomstighede op ’n slag te dra nie.

Volg gerus Coco Chanel se stylraad

“Voordat jy by die deur uitstap, kyk vir jouself in die spieël en verwyder een bykomstigheid”.

’n Stileertruuk wat ons self daagliks toepas – die resultaat is altyd ’n sjiek, minimalistiese en tydlose voorkoms.

Foto: @greceghanem op Instagram

Onthou jy is nie ’n krismisboom nie, en oorbelle wat ’n stelling maak is genoeg – jy hoef nie daarby ook iets rondom jou nek, polse en in jou hare te dra nie.

3. Jy dink jou serpie gaan jou uitrusting red

Stylkonsultant en modekenner Marilize de Clercq het ’n paar jaar gelede vir ons iets vertel wat so belangrik is vir vroue om te hoor:

“Jou serpie red nie noodwendig jou uitrusting nie.” Dit is ’n mode-item wat naby aan jou gesig gedra word en die meeste van die tyd kry vroue die skakerings, patrone en style so verkeerd. As jy ’n serpie wil dra, moet jy seker maak die styl is splinternuut en hoogmode.”

Nie vol windpomp- en katpatrone nie.  Dit moet nou-se-motief, nou-se-styl wees. Jy kan wegkom met die pleinste klere onderaan, maar daai serpie moet hoogmode wees.

Volg vir @claudyamoreira op Instagram vir slim serpie truuks

Dink aan Marilize se raad volgende keer wanneer jy daardie serpie om jou nek wil bind, dit gaan nie noodwendig jou uitrusting red nie, en mag dalk jou voorkoms verouder.

4. Jy dra modetrends wat nie meer mode is nie

Ons glo natuurlik dat jy nie al die modetrends slaafs hoef na te volg nie. Maar as daar ’n trend is, wees deel daarvan. Moenie ’n jaar later eers besluit jy gaan nou hierdie modevoorkoms aanpak nie.

Of as jy ’n trend volg, maak seker jy haak nie daar vas nie. As jy byvoorbeeld nog tossel-oorbelle in jou kas het, is nou is ’n goeie tyd om ontslae te raak daarvan.

5. Jy dra oorgroot en lospassende klere

Deur klere te te dra wat te groot en lospassend is, kan jou ouer en oudmodies laat lyk. Hier stel ons nie voor dat jy nou net styfpassende klere hoort te dra nie maar eerder jou uitrustings balanseer.

Wanneer jy jou lyf onder oorgroot kledingstukke wegsteek, verloor jy die definisie van jou lyfvorm heeltelmal, gebruik stileertruuks om hierdie te vermy. Byvoorbeeld, as jy ’n lospassende bloes dra, kombineer dit met ’n noupassende romp of broek om die uitrusting te balanseer.

6. Verkeerde skoenkeuses

Skoene kan jou vinnig outyds of ouer laat voorkom en is vir baie mense ’n nagedagte wanneer dit by hul voorkoms of uitrusting kom. Probeer altyd om jou skoene netjies te hou en probeer hou by nuwe neigings en style – want jou skoene kan maklik jou eietydse styl outyds laat lyk

Foto: @greceghanem op Instagram

Namate ons ouer raak, word hakke vir gemaklike plat skoene verruil – maar onthou gemaklike skoene hoef nie noodwendig oudmodies te lyk nie. Probeer gerus ’n paar helder tekkies, jy mag jouself dalk verbaas!

Foto: @greceghanem op Instagram

7. Jy dra te veel swart

Jy dra te veel swart en dit laat jou ouer lyk, hier’s hoekom: swart naby jou gesig beklemtoon donker kringe, laat plooie meer opsigtelik lyk an kan jou selfs moeg en uitgewas laat vertoon. 

Ons is self partykeer skuldig hieraan, ons kies swart uitrustings want dit is gewoonlik meer vleiend vir ons lyfvorms. Hoewel dit goeie stylraad is om ’n verskeidenheid swart items in jou klerekas te hê, maak wel seker dat dit nie die kleur is wat jou klerekas oorheers nie

Kies gerus ligter skakerings soos room, afwit, of wit, en selfs goud naby jou gesig. Hierdie ligter skakerings reflekteer lig en laat jou jonger lyk. Moet ook nie helder skakerings afskryf nie – ’n gunsteling stileertruuk vir ’n jonger, varser voorkoms.

@venswifestyly op Instagram

8. Jy verander nooit jou handsak nie

Wanneer jy nooit jou handsak verander nie en jy hou by dieselfde handsak dag in en dag uit, kan dit maklik ’n uitrusting minder modieus en selfs outyds laat lyk.

@venswifestyly op Instagram

As jy die tipe mens is wat graag net een handsak wil gebruik, is dit baie belangrik dat jy seker maak jou handsak pas by elke liewe uitrusting in jou klerekas.

Foto: @despi_naka op Instagram

9. Jou leesbril is al jare lank dieselfde

Wanneer laas het jy jou bril- of leesbrilraam vervang? Brilraam trends verander met elke seisoen, en jou huidige brilraam is dalk nie meer in die mode nie.

Foto: @despi_naka op Instagram

Sien jou bril as ’n modebykomstigheid en ’n manier om jou persoonlike modestyl verder uit te beeld.

Indien jy huiwerig is oor die keuse van die regte bril, loer gerus hier:  so werk ’n stylkonsultasie vir brille:

10. Jy hou by een styl

Ons almal ken dit, daardie styl waarin ons gemaklik voel en waarna ons neig. Vroue wat sê ‘my styl is ’n paar tights, met ’n lang truitjie bo-oor want dis gemaklik!

Nes ons met tegnologie aanbeweeg, so behoort ons ook met ons styl vooruit te beweeg, ons kan nie vir altyd net vasklou aan dieselfde aantrekstyl nie.

Foto: @despi_naka op Instagram

Dit beteken ook nie jy moet ’n modeslaaf word nie. Jy hoef nie elke week winkels toe te gaan en te koop nie. Daar is ’n gesonde rigtingverandering wat moet plaasvind wanneer jy uit daardie stylgroef ontwikkel en groei.

Foto: @greceghanem op Instagram

12. Oudmodiese baadjie keuses

Daardie verlepte ou denimbaadjie is jou top baadjiekeuse, klink dit bekend? Die baadjie wat jy dra kan maklik die era verklap waarin jy steeds in jou stylgroef vasgevang is.

Moenie die mag van ’n baadjie onderskat nie – dit is ook die maklikste manier om jou styl op te dateer en te verfris. Veral met iets soos ’n moto-styl leerbaadjie, ’n cropped trench styl en selfs ’n blazer-styl baadjie kan jy blitsvinnig jou voorkoms verhef.

@venswifestyly op Instagram

13. Jy kies goedkoop materiale

Ongelukkig is die meeste goedkoper materiale ook die mees onvleiendste materiale om te dra. Daardie ontwerpe wat nie gevoer is nie, wat vasklou op al die verkeerde plekke.

Boonop is party sintetiese materiale veels te blink en laat jou onnodig baie sweet omdat die materiaal nie soos natuurlike materiale behoorlik lug deurlaat nie.

Foto: @greceghanem op Instagram

Belê eerder in goeie kwaliteit materiale wat mooi beweeg, mooi hang en jou liggam goed pas wanneer jy dit dra.

14. Verkeerde onderklere

Hierdie is moontlik een van die grootste foute wat ons vroue gereeld sien maak. Ongeag van ouderdom is hierdie ’n belangrike stileerwenk wat alle vroue hoort reg te kry. Die verkeerde onderklerekeuses kan jou slordig en onnet laat voorkom.

Kies soomlose onderklere om daardie “VPL” of visible panty line te vermy.

Die regte brakeuse is ook baie belangrik – besoek gerus ’n bra-boetiek wat jou hiermee kan help

Loer gerus hier vir wenke:

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
4 Bekendes deel hul gunsteling oefendrag
error: Content is protected !!