Die nuutste ‘Conscious Collective’ reeks van H&M volg beslis die slagspreuk – “Made to last” (gemaak om te hou, en nogmaals hou!). Hierdie herfs/winter reeks is ontwerp om tydloos te wees en volg nie die nuutste loopplank trends nie. H&M verskuif die ‘mode vir nou’-idee na ’n ‘mode vir altyd’-reeks, klere wat vir nog lank in die mode sal bly – boonop gemaak van herwinbare materiale! Deur Justine Kroes

Volhoubare mode is beslis ’n gunsteling!
Die rokke in die reeks word gemaak van twee soorte herwinbare poliëster. Een van tekstielafval van materiale wat tydens die vervaardigingsproses gebruik word, en die ander uit herwinbare plastiek-botteltjies. Albei die materiale is sterk en gemaak om vir jare lank te kan hou, boonop in mode-ontwerpe wat vir lank in die mode sal bly.

Dié reeks dra by tot H&M se doelwit, wat beoog om teen die jaar 2030 net volhoubare materiale te gebruik.
Die tydlose ontwerpe:
Hierdie tydlose reeks bestaan uit agt modestukke (vanaf R329), elk met vintage afwerkings en geïnspireer deur die 1930’s. Rokke en jasse in valle, kant en wol in moderne oorgroot-snitte beklemtoon die oud vs nuut tendens. Die kleurpalet van swart teenoor die naaswit skakerings is verder tydlose skakerings wat boonop by die meeste mense aanklank vind.

Die reeks is beslis nie “fast fashion” nie, eerder bekostigbare omgewingsvriendelike mode-items wat jy nog vir jou dogter sal kan wegbêre!
Beskikbaar in H&M winkels landwyd vanaf 18 Maart.

Lees ook: Selfoon handsak, die handsak trend wat ons nou wil probeer