Geel is nie net een van Pantone se topkleure van 2021 (illuminating) nie maar ook ’n gunsteling onder bekende ontwerpers en modeliefhebbers. Voor jy die skakering te vinnig afskryf – lees gerus eers wat ons daarvan dink hier. Deur Justine Kroes en Suzanne Kotze
“Dopamine dressing”
Hierdie terme of modetendens is die aksie van klere-items aantrek wat jou goed en vreugdevol laat voel. Gewoonlik helder skakerings en prettige patrone.
Geel is beslis vir ons een van daardie skakerings wat soos ’n sonnige dag ons bui sommer ophelder. As jy steeds huiwerig voel om helder suurlemoengeel aan te trek, kies dalk eerder ’n pastelgeel skakering. Die “butter yellow” is steeds groot nuus. En onthou jy kan altyd geel bykomstighede kies as ’n geel rok of bloes nie vir jou is nie.
Hier is ons gunstelinge:
Justine kies Poetry Tilly Check Dress (R999)
Geel is nou nie juis ’n kleur wat ek eerste van die rak af sal neem nie, maar hierdie seisoen is skakerings van geel, groen en pienk beslis op my kooplysie (ek moet minder swart koop!!!). Toe ek in Poetry instap en my oë vang hierdie geel gingham/geruite rok met pofmoue, toe weet ek dit hoort in my klerekas.
Hierdie rok is lank (maar nie te lank nie), die gesmokte detail is pragtig en die pofmoue en geruite patroon is die resep vir die perfekte somersrok. O, en het ek genoem die rok het sakke! Die geel laat my dadelik vrolik en gereed vir die dag voel – ek dra die rok met tekkies, sandale of hakskoene, dit pas byna by als.
Suzanne kies Emily Moon Taffeta romp (R725, Truworths)
Geel is nie sommer ’n kleur wat ek ooit gedink het ek sal koop nie. Hierdie besondere romp en bo-stuk het my egter twee keer laat dink! Die koeler geel, gemeng met effense bruin en karringmelk (buttercream)-skakerings werk so goed saam in die blompatroon (wat nie ‘te blommerig’ lyk nie). Die romp hang ook lekker swaar en dit het sakke!
Lees ook: Kraagkopies die wil ons nou dra