een jas drie maniere
een jas drie maniere

Een jas drie maniere

Elke winter probeer ek ’n tydlose maar steeds modieuse winterjas of -baadjie aankoop, iets wat vir seisoene steeds gedra kan word en maklik sal aanpas by modeneigings wat elke seisoen verander. Vanjaar het die kameelkleurige jas gewen. Die veelsydigheid van hierdie jas maak dit ’n moet-hê-item vir my winterklerekas: dit is ’n neutrale skakering, lekker lank en boonop warm genoeg. Daar is vele manier waarop jy hierdie jas kan dra. Ons wys jou hoe hierdie een jas op drie maniere gedra kan word. Deur Justine Kroes

Loer na die video hier:

Almal dra ’n jas – ek het lank gesoek vir die perfekte kameelkleurige jas, die resep: dit moet nie te lank of te kort wees nie en ook nie te formeel nie. ‘n Jas wat ek maklik kan aantrek winkels toe maar ook na ’n formele afspraak of saam met my man op ’n romantiese uitstappie. Dit moet ook darem sakpas wees en lekker gemaklik sit!

Hierdie jas van The Fix (R499,95) het al die regte kassies afgetik – sagte melton-stof materiaal, die informele (dropped shoulder) skouerstyl maak dat die jas gemaklik maar ook stylvol en trendy lyk.

Dra hierdie een jas op drie maniere:

Netjies in Swart

  • Vir ’n netjiese werk-voorkoms kies ek ’n eenkleurige palet van swart. ’n Rolnektrui is ’n tydlose opsie saam met ’n hoë-middel swart denim waarby die jas perfek pas, en ook sjiek en stylvol lyk.
  • As jy voel die eenkleurige palet is te eenvoudig – kombineer ’n paar gestapelde nekstukke hierby.
  • Vervang weer blitsvinnig hierdie uitrusting deur ’n gemaklike voorkoms – kombineer met ’n t-hemp en wit tekkies, en siedaar, jy’s gereed vir die naweek.

Naweek-gemaklik

  • Op naweke leef ek graag in denims, t-hemde en tekkies (lekker gemaklik om agter klein lyfies aan te hardloop!). Ek dra graag hierdie jas by ’n gunsteling wit t-hemp-en-tekkie uniform en ek voel dan dadelik meer afgerond.
  • As jy graag hierdie voorkoms meer vroulik wil laat lyk, bind eenvoudig ’n sagte serpie om jou nek in ’n v-styl.

Romanties

  • Ek het ’n groot liefde vir midi-rompe, ek is selfbewus oor my bene en het voorheen rompies vermy, totdat ek die midi-romp ontdek het. Eksperimenteer met patrone, teksture en skakerings – die opsies is eindeloos. Die kombinasie van ’n jas by ’n midi-romp lyk modern maar tog ook klassiek.  
  • Vir ’n daguitstappie hou ek die skakering neutraal, wit op wit of wit en grys saam met die jas en ’n paar lekker gemaklike (skoon!), netjiese wit tekkies. ’n Mooi winter-sonhoed hierby is natuurlik ook ’n goeie idee.
  • Vir ’n aandafspraak kies ek ’n satyn polkakol romp en swart bloes en dra dit saam met enkelstewels. Die jas drapeer ek oor my skouers, dit lyk sommer sjiek en rond die voorkoms mooi af.

Nog jas opsies

Hier is nog ’n paar gunsteling kameelkleurige jasse wat nou beskikbaar is.

H&M (R1499)
Country Road (R2499)
Witchery (R1999)

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Skoonheidsnuus: Grootste skoonheidswinkel in SA ‘ARC’ se deure nou oop!
error: Content is protected !!