Hierdie treffende ooggrimering het ons geїnspireer om weer meer grimering te dra; van die fynste swart lyne tot dik strepe helder pienk en ryk amber skakerings. Dit is wonderlik hoe so iets jou gemoed kan lig. Met slegs oë wat uitsteek by maskers kan ons gerus meer moeite met ons ooggrimering doen. Deur Suzanne Kotzé
Treffende ooggrimering: fynste vloeibare oogomlyner (en kyk net hoe mooi is die lipstiffie ook!)
Hierdie voorkoms word as ultra-rock romantisisme beskryf deur Lucia Pica, Chanel se globale kreatiewe grimering-en-kleur-ontwerper. Die grimering is geskep vir die afgelope Couture Herfs 2020- versameling wat vir die eerste keer slegs digitaal te sien was en nie op die loopplanke nie.
’n Pragtige glansende vel met natuurlike dekking vorm ’n mooi kontras met die dun, swart vloeibare-oogomlyner-strepies en donker lippe
Die ooggrimering wat gebruik is
’n Ligte veeg Chanel Baume Essentielle in Transparent is oor die ooglede gebruik. Hierdie tower-roomstiffie gee die allermooiste glans en jy kan dit op enige deel wat jy wil beklemtoon gebruik. Dit is beslis op ons wenslysie. ’n Lang dun strepie is met Le Liner de Chanel al langs die wimperlyn en uitwaarts by die ooghoeke getrek, gevolg deur twee lagies maskara.



Ek het dit so gedoen
Ek het hierdie voorkoms probeer nadoen deur die Chanel Palette Essentielle in Beige Medium wat ek tuis het, te gebruik. Dit bevat ’n beklemtoner, ’n verbloemingsroom en wang/lipkleur. Ek het die verbloemingsroom oor my oë en op my ooglede gebruik. Ek het die beklemtoner met ’n kwassie op my ooglid aangewend, amper soos ’n dik lyn oogomlyner bo my wimpers. Ek het dit ook onder my wenkbroue gebruik. En die bessiekleur op my lippe. Ek het nie die Le liner gebruik nie, maar wel die Chanel Intense Longwear Eyeliner Pen. Die pen is effens dikker as die Le Liner (wat ek onlangs opgebruik het) en ek kon nie die lyntjies so fyn getrek kry nie.
Vloeibare oogomlyner wenke
- As jou ooglid nie meer so glad is nie, gebruik jou ringvinger en trek jou ooglid effens opwaarts om die vel gladder te trek terwyl jy jou lyntjie trek.
- Rus jou elmboog op jou spieëltafel terwyl jy die lyntjie trek; dit help jou arm en hand om stil te wees sodat jy presies kan werk.
- Vir hierdie voorkoms het ek die volgende gedoen: Draai ’n grimeerverwyderingslappie om jou ringvinger, en vee die onderste deel van jou lyntjie wat opwip by die buitehoeke effens uit sodat dit dunner en meer reguit lyk.


Onthou jy kan hierdie voorkoms skep met enige vloeibare oogomlyner, beklemtoner en maskara.
Treffende ooggrimering: warm neutrale skakerings
Dior se gewilde Backstage Palette is beskikbaar in verskillende skakerings: Warm Neutrals, Cool Neutrals, Amber Neutrals en die nuutste Rosewood Neutrals. Die Rosewood Neutrals-skakerings is op die modelle gebruik. Die palet is egter nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie. Gebruik dit as inspirasie om soortgelyke skakerings wat jy reeds het, te gebruik om die voorkomste te skep.


Ek het die Backstage Palette in Amber Neutrals by die huis en het die mooi warm skakerings gebruik om hierdie voorkoms te skep.


Ek het dit so gedoen

- Primer oor my hele ooglid
- Sculpting powder in die vou van my oog en met ’n fyn kwassie onder my oë op die buitehoek en onder wimpers op buitehoeke
- Op my ooglid op die buitehoek en onder my oë (soos vorige stap)
- Op die binneste helfte van my ooglid
- In die binnehoeke van my oë en net onder my wenkbouboog.
- Vloeibare oogomlyner en maskara
Treffende ooggrimering: prettige pienk lyne
Hierdie pienk lyne van Mr Price se Scarlett Hill grimeerreeks laat jou sommer vrolik voel. Gebruik dit as inspirasie wanneer jy die dag af voel. Jy sal verbaas wees watter verandering so iets aan jou gemoed kan maak!

Hierdie was my inspirasie, maar die helder pienk oogpotlood van Scarlett Hill is nie meer beskikbaar nie
.

Die Scarlet Hill Pencil Slick Eyeliner in Dusty Rose is gebruik vir hierdie voorkoms. Mooi en maklik om te dra!
Mens is so geneig om te verval in net neutrale kleure dra dat jy vergeet hoe treffend kleur kan wees. Kyk net hoe mooi word die model se bruin oë (regs) beklemtoon met die Dusty Rose skakering. Begin deur ’n neutrale oogskadu aan te wend sodat jou ooglid ’n eweredige kleur het. Dit sal ook help dat jou oogpotlood langer aanbly. Trek ’n streep van jou binne- na jou buitehoek en wip dit opwaarts. Jy kan dit effens dikker op jou buitehoek aanwend.
Die helder pienk streep: ek het dit so gedoen
Ek was lus vir iets anders en het besluit om te speel met die helder pienk lyne, aangesien dit nie iets is wat ek gewoonlik sal dra nie. Ek het nie regtig gedink dit sal vleiend wees nie, aangesien my vel ’n pienkerige ondertoon het. Ek was aangenaam verras! Die pienk het die kleur van my bruin oë beklemtoon en ek het sommer vrolik gevoel met my ooglede wat so ’n lekker helder streep op het.
Berei jou vel goed voor, veral as jy geneig is tot enige rooiheid. Ek het ’n onderlaag gebruik wat meer dekking gee as die getinte sonskerm wat ek gewoonlik verkies, verbloemer onder my oë en ’n primer (voorbereidingslagie) op my ooglede.
Wenk: gebruik oogskadu as omlyner
- Dit is makliker om aan te wend asook om foute reg te maak
- Maak ’n fyn kwassie, soos ‘n oogomlyner-kwassie of lipkwassie, klam in water
- Druk die klam kwassie in jou oogskadu
- Verf dit aan. Ek het van buite na binne geverf.
Ek het ’n swart oogpotlood gebruik en aan die binnekant van my boonste ooglid ’n lyntjie getrek. Dit is ’n ou truuk wat ek graag gebruik om my wimpers voller te laat vertoon. ’n Paar lagies maskara het die voorkoms afgerond.
Ek het ‘n swart oog-potlood gebruik en in die binnenkant van my bootste ooglid ‘n lyntje getrek. Dit is ‘n ou truuk wat ek graag gebruik om my wimpers voller te laat vertoon. ‘n Paar lagies maskara het die voorkoms afgerond.


Watter kleure ooggrimering dra jy gewoonlik?