Die ‘naughties’ het gebel, hulle stuur (weer) Bridget Jones vir ons. Hier is wat ons kon uitvind oor die vierde Bridget Jones fliek wat oppad is. Deur Suzanne Kotzé
Bridget Jones nommer vier
Die vierde Bridget Jones fliek word glo op Valentydsdag 2025 vrygestel. Die fliek is gegrond op Helen Fielding (die skrywer van die Bridget Jones boeke) se boek Mad About the Boy boek en speel in Londen af.
Ek het al die Bridget Jones boeke gelees en ek het Mad About the Boy kort na sy vrystelling in 2013 gelees. En wees gewaarsku, dit begin hartseer want Bridget Jones (Reneé Zellwegger) is nou ’n weduwee met twee klein kindertjies. Marc Darcy (Colin Firth) is oorlede na ’n landmyn-ongeluk. Ek onthou hoe vies ek gevoel het, dat Marc Darcy oorlede is. Na al die geswoeg en gesweet saam met Bridget oor Marc, is hy nou dood.
Ek het dit vreemd gevind het die volgorde van die boeke en die flieks nie ooreenstem nie.
Die volgorde van die Bridget Jones boeke
- Bridget Jones’s Diary (1996)
- The Edge of Reason (1999)
- Mad About the Boy (2013)
- Bridget Jones’s Baby (2016)
Die volgorde van die Bridget Jones flieks
- Bridget Jones’s Diary (2001)
- The Edge of Reason (2004)
- Bridget Jones’s Baby (2016)
- Mad About the Boy (2025)
Na The Edge of Reason fliek, het ek aangeneem die volgende fliek sou Mad About the Boy wees, en ek was so verras dat Marc toe nou nie dood is in Bridget Jones’s Baby nie. As ek reg onthou het die boek en die fliek byna op dieselfde tyd uitgekom. Ek het aangeneem dat Mad About the Boy seker te hartseer is, of nie wat die ‘fliekmense’ wou hê nie.
In Bridget Jones’s Baby is daar (weer) ’n liefdesdriehoek; die keer is dit ekstra ernstig, want Bridget (nou in haar veertigs) word per ongeluk swanger en is nie seker wie die pa is nie. Marc Darcy (nou ’n eks) of die miljoenêr (Patrick Demspey) wat sy by ’n rock festival (ek giggel steeds as ek aan die modderval-oomblik dink) ontmoet het.
Mad About the Boy, die boek
Hier gaan ons alweer, Bridget Jones begin alweer ‘date’ en nou is sy ’n middeljarig (in die boek was sy 51) en ’n enkelma van ’n vyf- en sewejarige . Natuurlik bly Bridget snaaks, en soos die boek, sal die fliek beslis ook vir ’n paar klipharde lag oomblik sorg.
Van die vrae waarmee sy in die Mad About the Boy boek worstel is
- What do you do when your girlfriend’s sixtieth birthday party is the same day as your boyfriend’s thirtieth?
- Is it better to die of Botox or die of loneliness because you’re so wrinkly?
- Is it wrong to lie about your age when online dating?
- Is it morally wrong to have a blow-dry when one of your children has head lice?
Terwyl Bridget Jones hiermee worstel begin sy ook ‘date’ en ontdek sosiale media. In die boek was daar ’n paar skreeusnaakse oomblik waar sy ‘tweet’ oor hoe sy regmaak vir ’n afspraak en ook terwyl sy op die afspraak is.
En in ware Bridget styl is haar nuwe kêrel dertig jaar oud.
Bridget Jones, fliek nommer vier
Volgens gerugte speel Leo Woodall (bekend vir sy rol in One Day) Bridget se dertigjarige kêrel.
Hugh Grant is ook weer terug as sjarmante Daniel Cleaver. Nog ander bekendes is Emma Thompson (wat Bridget se dokter in Bridget Jones’s Baby vertolk het) en Chiwetel Ejiofor.
Of Bridget nou sal tweet (wat vreeslik 10 jaar terug is) is ek nie seker nie. Dalk wend sy haar eerder na Instagram of TikTok om ons op hoogte te hou van haar doen en late.
Ek het dele van die boek geniet, maar dit was beslis nie my gunsteling Bridget Jones boek nie. Dalk is die fliek soos ‘And Just like That’ (die Sex and the City opvolg-reeks) dat ons so verlief is op die idee van die geliefde karakters en wat hulle op ’n sekere stadium in ons lewe beteken het, dat ons lojaal bly. En bly hoop dinge werk uit.
Een ding is seker, hierdie is ’n heerlike verskoning om weer al die flieks te kyk en die boeke te lees.
Bronne: CNN, Mad About the Boy deur Helen Fielding