Brildraers voel soms moedeloos wanneer dit kom by die moets en moenies van brille en grimering, maar dit hoef nie moeilik te wees nie, volg hierdie wenke en pas eenvoudig net jou grimering daarby aan. Ons hoop dié 7 (baie eenvoudige) grimeerwenke vir brildraers help jou met jou daaglikse grimeerroetine. Deur Justine Kroes
1. Minder is meer
’n Bril trek baie aandag na jou oë – hou dus jou grimering eenvoudig. Minder is beslis beter. Trek ’n lyn bo jou wimpers, gebruik ’n neutrale oogskadu op jou ooglede en volg met ’n dun lagie maskara.
2. Krul jou wimpers
Hierdie truuk laat nie net jou oë oop lyk nie maar verhoed ook dat jou wimpers (met of sonder maskara) aan die lense van jou bril raak.
Belangrik – wend die meeste maskara aan die wortels van jou wimpers (nie die punte nie) sodat die meeste van die gewig aan die onderkant van jou wimpers sit, dit lyk boonop netjieser. As jou wimpers lank is, kies ’n waterdigte maskaraformule om seker te maak jou maskara bly op sy plek.
3. Vermy helder skakerings
Los liewers die helder kleure vir jou lippe. As jy ’n deftige brilraam dra met ’n donker raam wat uitstaan, gebruik eerder helder skakerings op jou lippe – hierdie truuk balanseer die fokuspunte op jou gesig.
4. Verbloemer is jou vriend
Wees bewus dat jou bril moontlik die donker kringe onder jou oë meer opsigtelik kan laat lyk en jou brilraam kan selfs ’n donker skaduwee onder jou oë skep.
Gebruik ’n verbloemer met ’n sagte pienk ondertoon, dit maak die donker kringe minder sigbaar, tik dan ’n klein bietjie onderlaag bo-oor die verbloemer aan sodat dit mooi eweredig is.
5. Wenkbroue is belangrik
’n Brilraam vestig ook die aandag op jou wenkbroue. Maak seker dat hulle goed versorg is. Pluk die oortollige hare en vul kaal kolletjies met ’n wenkbroupotlood of –poeier in.
6. Gee aandag aan jou voorskrifbril
As jou voorskrifbril jou oë kleiner laat lyk, skep die illusie van groter oë met ’n fyn, ligte lyntjie onder en bo jou oë. Vermy dus enige donker oogskadu en kies ligter en glinsterende skakerings wat jou oë groter en meer oop sal laat vertoon.
Die teenoorgestelde geld wanneer jou bril jou oë groter laat vertoon. Wees ekstra versigtig met die aanwending, want die vergroting gaan slordige grimering nog opsigteliker maak.
7. ’n Voorbereidingslagie en poeier is ’n moet
“Gebruik ’n silikoon voorbereidingslagie (primer) op gedeeltees waar jou bril aan jou gesigvel raak, byvoorbeeld aan die kante van jou neus en jou wange (wanneer jy glimlag). Hierdie truuk sal verhoed dat jou grimering ‘beweeg’ en afsmeer”, sê senior grimeerkunstenaar vir MAC Cosmetics Afrika, Marco Louis Ackers. “Probeer gerus MAC Cosmetics se Prep + Prime 24Hour Eye Base (R450) hiervoor, dis spesiaal ontwerp vir gebruik op die ooglid onder die oogskadu, maar ek het dit ook begin gebruik vir brildraers wat met hierdie probleem sukkel.”
“Maak ook gebruik van ’n goeie gesigpoeier (die deursigtige poeier werk nie altyd so effektief nie) om verder daardie grimering te set en op sy plek te hou”, is Marco se raad. Ons hou veral van MAC Cosmetics se Studio Fix + poeier (R530)
Het jy al “Lyk jonger met hierdie 10 grimeer-truuks” gelees?