’n Rustige slaapkamer kan beslis help dat jy beter slaap. Die verkeerde verfkleur en gloeilampies of klotter hou jou dalk net uit die slaap. Hier is kundige wenke. Deur Suzanne Kotzé.
Skep so ’n rustige slaapkamer
Ons het kenners Kasia Wojciechowska van die huis-organiseringsbesigheid MK Method (met organiseerders in Johannesburg en Kaapstad), en binneshuise versierder en stilis Kalinka Lombard van The Home Collective (Kaapstad en Wynlande), gevra vir raad oor hoe ons ’n rustige slaapkamer kan skep, sodat ons makliker aan die slaap kan raak.
1. Raak ontslae van bedkassie-klotter
Te veel goed op jou bedkassie vergader nie net stof nie, maar trek ook jou aandag af. Kies ’n bedkassie met laaie en hou goed wat jy nodig het hierin. Kasia van The MK Method beveel aan dat jy organiseringshouertjies in jou bedkassie-laaie hou, waarin jy goed soos kabels, handeroom ens. netjies kan bêre. Loer gerus by Store & More vir oulike houertjies vir jou laaie.
2. Maak dit vir jouself maklik om jou klere weg te pak
Klere wat op die vloer of op stoele gegooi word, skep nie net ’n deurmekaar gevoel nie, maar dit kan ook keer dat jy ontspan en aan die slaap raak. “Maak dit vir jouself makliker om klere en goed weg te pak.
Soveel moontlik hangplek en laaie in kaste werk veral goed. Kaste is gewoonlik diep en jy kom nooit regtig agter by met rakke nie, daarom werk uittrek-laaie so goed. Oorweeg dit ook om ’n ekstra half-rakkie tussen jou rakke in te sit, sodat jy meer pakplek het,” sê Kassia.
3. Benut die spasie onder jou bed
“As jy te min pakplek of spasie het en ’n divan-styl bed het met spasie onder die bed, is dit die ideale stoorplek vir byvoorveeld wintersklere, skoene en serpe,” sê Kassia. Sommige mense het houers vol klere en skoene wat hulle kamer rondstaan, maar benut eerder die spasie onder jou bed. “Deursigtige houers op wieletjies werk goed sodat jy presies weet wat daarin is, en sodat jy dit maklik kan uittrek.,” is Kassia se raad.
Onthou net om gereeld al die houers onder die bed uit te trek, en onder jou bed uit te vee en die bo-kante van die houers af te stof. Anders kan dit maklik ’n opgaarplek vir stof word. (Wat tot ’n genies of gejeuk kan lei wat jou weer wakker hou).
Kalinka Lombard van The Home Collective gee raad
4. Kies kalmerende kleure
Dit is altyd goed om met ’n neutrale palet te werk in jou slaapkamer. Helder kleure of dekor items is dalk vrolik, maar dit kan jou aandag te veel rondtrek en verhoed dat jy ontspan en rustig raak. ’n Mens wil amper dink aan ’n luukse hotelkamer se rustige skakerings.
Dit beteken nie jy mag nie kleur gebruik nie, maar hou die kleure wat jy wel gebruik aan die sagter kant.
5. Bring tekstuur in
Teksture soos bouclé en faux fur vir winter is weer vreeslik in die mode, en skep ’n koesterende snoesige gevoel. Gebruik dit vir strooikussings op jou bed of op stoele of as ’n throw op jou bed of stoel. ’n Mooi gebreide throw is nog iets wat tans volop in die winkels is en ook koesterend voel. Dink maar aan al die lappies en ‘blankies’ wat babas aan vat om te slaap, deur aan sulke lekker teksture te raak kan help om jou ook te kalmeer.
Vra gerus vir Ouma om vir jou ’n kombers te brei. Groot, ruwe tekstuur soos die kabelpatroon is ’n goeie keuse.
6. Steek kerse aan
Hierdie is veral heerlik gedurende die winter wanneer dit vroeg donker word (of wanneer daar beurtkrag is). Kerslig skep ’n heerlike warm gevoel en kalmerende geure kan jou help ontspan.
7. Vars blomme en plante
Al is daar minder blomme gedurende die wintertyd beskikbaar, bly blomme lank vars, en dit skep ’n tikkie ekstra luuksheid in jou slaapkamer. Jy kan ook natuurlik plante wat blom (soos orgidees) inbring. Kassia beveel ook plante in jou slaapkamer aan vir ’n rustige atmosfeer.
8. Skep ’n nessie
Sit ’n paar boeke wat jy graag wil lees, ’n lekker handeroom en ’n kers wat lekker ruik langs jou slaapkamerstoel of op jou bedkassie neer. Natuurlik nou nie te veel goed, sodat dit klotter word nie.
9. Weg met blou lig
Maak seker geen van jou gloeilampe in jou slaapkamer is blouwit nie. Dit is die kleur van daglig, terwyl warm gloeilampe die kleur van aandlig is. Bloulig kan jou sirikadiese ritme versteur, sodat jou brein dink dit is nog dag en dan sukkel jy om af te skakel.
Lees ook: