Hierdie 9 modebykomstighede trends het dadelik ons aandag gesteel. Of jy nou oorbelle, serpies, haarbykomstighede of ’n halssnoer verkies, hier is iets vir jou! Ons deel die top 9 modebykomstighede op ons trend-radar wat jou doodgewone uitrusting na ’n 10/10 uitrusting sal omtower. Deur Justine Kroes
11/10/2024
1. Blomme bo
Vir Lente is hierdie seker nie nuwe nuus nie maar blomme is veral ’n gewilde juweelontwerp vir Lente/Somer 2024, soos gesien op internasionale modeloopplanke van ontwerpers Carolina Herrera en Chanel.
Hierdie trend wissel tussen oorgroot blomoorbelle tot blomontwerp borsspelde, en kleiner (fyner) blomarmbande en halsnoere.
2. Uit die see modebykomstighede
Seelewe modebykomstighede is steeds gewild – meestal danksy The Little Mermaid bekendstelling vroeër vanjaar wat ’ngroot impak op die modewêreld gehad het.
Bykomstighede van seester en skulpie oorbelle tot koraal armbande en hangertjies met reuse skulpe rondom jou nek. ’n Gunsteling Stylvol trend – dalk omdat ons die see so baie geniet!
Hier is g’n reëls nie – kies eenvoudig ’n see juweelontwerp wat die beste by jou stylpersoonlikheid pas – hetsy dit ’n klein skulpoorbel is of ’n reuse seester rondom jou nek is.
3. Gestapelde polse
Indien jy graag armbande of “cuffs” om jou polse dra, dan is hierdie die trend vir jou. Hoe meer dramaties gestapel en groter die armband of “cuff” hoe beter.
Stapel al die armbande in jou juweelkas om een (of albei) jou polse – en jy hoef nie te bekommer dat elkeen perfek bymekaar pas nie. Meng gerus metale en dra silwer en goud saam. Om ’n klompie verskillende groottes, afwerkings en skakerings armbande bymekaar te dra, skep interessantheid en ’n mode-oomblik.
4. Swart en goud
Om swart en goud te meng is tans ’n mode moet. Die tendens is veral gewild met ’n tou-agtige (of leer) halsnoer gedeelte met ’n groot goue juweelstuk daaraan.
Swart en goud metale saam is ook voorspel om ’n gewilde juweelkeuse vir somer 2024 te wees. ’n Deftige kombinasie wat behoorlik aandag sal trek.
5. Strikke is steeds hier om te bly
En ons is bly daaroor! Dra prettige strik oorbelle or steek eenvoudig ’n strik aan jou lae poniestert vas vir ’n sjiek en gesofistikeerde voorkoms (niemand hoef te weet dat dit eintlik haarwasdag was nie!)
6. Nie jou Ouma se serpie nie
Vergeet van oorgroot serpe wat jy om en om jou nek draai (veral daardie met allerhande katte, lettertjies en windpompe op) en kies ’n klein “neckerchief”.
Hierdie klein veelsydige serpie-styl kan jy rondom jou nek, poniestert, handsak en selfs om jou pols bind vir uitstaan effek.
7. Moderne pêrels
Dink tydlose pêrels in ’n moderne styl, gemeng met silwer of goud. Groot dramatiese pêrels of stringe pêrels oor mekaar gestapel.
Pêrels gestileer in skoon minimalistiese ontwerpe met skoon lyne wat ’n stylvolle stelling maak.
8. Gordels groot en klein
’n Gordel bly een van daardie modebykomstighede wat die krag het om ’n hele uitrusting te transformeer. Dit definieer nie net jou middel nie maar bied ook ’n gepoleerde, netjiese, sjiek en afgeronde voorkoms.
Breë gordels is die nuwe moet – groot en wyd – dra dit bo oor rokke, rompe en selfs by jou denim en hemp vir ’n gemaklike voorkoms.
Indien die breë, wye grodels nie vir jou is nie, probeer gerus ’n dunner leergordel (tyldose stapel!). Of ’n geweefde gordel met bietjie tekstuur wat ’n tikkie interessantheid by jou uitrusting sal voeg.
9. Gestapelde hangertjies
Die truuk hier is om te meng en pas – jou hangertjies hoef nie noodwendig eksie perfeksie by mekaar te pas nie. Meng verskillende metale, meng verskillende stene en meng verskillende groottes.
Stapel hangertjies om jou nek sodat elke hangertjie op ’n verskillende lengte hang.