7 Wenke vir ’n jonger nek en decolleté

Jou nek! Vergeet jy ook van jou nek? Ons is self partykeer skuldig hieraan. Ons spandeer so baie tyd, moeite en duisende rande om na die vel op ons gesigte om te sien maar vergeet soms van ons nek en decolleté (nek tot bokant borste) area. Dit help veel ons gesigte lyk soepel, vars en jonk maar ons nek verklap dalk ’n ander storie.

’n Velkenner gee raad oor hoekom dit noodsaaklik is om aandag aan jou nek- en borsarea te gee. Plus 7 wenke vir ’n jonger nek. Deur Justine Kroes

22/03/2024

Prioritiseer jou nek en decolleté is velkenner se raad:

Velkenner Sonette Donker van www.skinfundi.com sê “Daar is ’n paar faktore wat vroegtydige vel-veroudering laat plaasvind van jou nek af ondertoe, hier is ’n paar redes:

Vel is dunner

 Die vel rondom jou nekarea is baie dun, met byna geen vetlagie nie, dus sal velveroudering lei tot ’n vinniger verlies van kollageen en elastien wat die vel ferm en soepel hou.

Meer stamselle

Daar is ook minder volwasse stamselle van jou nek af ondertoe wat beteken selhernuwing vind nie so vinnig plaas nie.

Die son

As jy in ’n sonnige land (soos Suid-Afrika) woon is gereelde sonblootstelling en sonskade meer algemeen, en dan natuurlik pigmentasie wat ontwikkel op jou nek en decolleté as gevolg hiervan. Daarom is dit noodsaaklik om nie van jou nek te vergeet wanneer jy soggens jou sbf aanwend nie.

Tech-nek

Tech-nek kan ook ’n impak hê op die veroudering van jou nek-area. Dit verwys na die afkyk en buig van jou nek wanneer jy ’n skootrekenaar of selfoon gebruik. Dit kan lei tot die vroë ontwikkeling van plooie en voue in jou nek- en selfs bors-area.

7 Wenke vir ’n jonger nek en decolleté

1. Gebruik daagliks sbf op jou nek en bors

Die belangrikste teenverouderingsbehandeling vir jou nek- en borsarea, sê Sonette, is die daaglikse gebruik van ’n sbf. Wanneer jy soggens jou sbf aanwend, begin by jou haarlyn (voorkop) en eindig net bo jou borste, elke dag, heel jaar lank!

2. Wees bewus tydens tech gebruik

Om daardie ongewenste tech-neck te vermy, let gereeld op na jou nekposisie. Stapel eerder jou skootrekenaar op ’n paar boeke en sit gemaklik by ’n tafel eerder as op jou bed of op ’n bank en werk. Glo ons, jou nek (en rug!) sal vir jou later dankie sê.

3. Vermy dit om op jou sy te slaap

Probeer dit vermy om heel nag lank op jou sy te slaap is Sonette se raad – “om lang ure op jou sy te slaap veroorsaak (oor tyd) v-plooi merke op jou decolleté en tussen jou borste. Leer jouself die gewoonte aan om eerder op jou rug te slaap”.

4. Wees versigtig met parfuum

Sonette sê jy moet nooit weer jou fyngeur op jou nek of decolleté aanspuit nie, die meeste geure bevat alkohol en olies wat velsensitiwiteit, sonbrand en op die ou einde hiperpigmentasie op die area kan veroorsaak.

5. Wend produkte aan van jou voorkop tot net bo jou bors

Sonette verduidelik, hoewel dit fantasties is dat daar produkte spesifiek ontwikkel is vir jou nek en décolleté, is dit belangrik om te verstaan jou gewone velsorgprodukte (wat jy daagliks op jou gesig gebruik) sal ook die werk doen op jou nek en decolleté. Maak dit ’n gewoonte om nie by jou kakebeen te stop wanneer jy soggens en saans jou produkte aanwend nie. Werk jou produkte tot net bo jou borste in.

Bestanddele om voor uit te kyk sluit in Retinol (vitamien A) wat selhernuwing aanhits en kollageen-produksie stimuleer. Gebruik ook produkte wat hoog is in anti-oksidante soos vitamien C wat ook die voorkoms van pigmentasie sal verminder.

6. Maak seker jy skilfer die area ook af

Sonette sê “Ek gebruik daagliks ’n lyfborsel en die tegniek van dry brushing regoor my hele lyf asook my nek en decolleté area. Hierdie aksie verwyder enige dooie velletjies wat seker maak dat jou produkte beter jou vel sal binnedring”.

Jy kan natuurlik jou tuis afskilferproduk ook hier gebruik, hou dit dalk net ’n korter rukkie op die vel as wat jy gewoonlik sou op jou gesig.

7. Doen gereeld behandelings op die area

Sonette sê dit is nie by alle salonne stadaard dat gesigbehandelings ook jou nek en borsarea insluit nie. Interessant, in Frankryk word jou nek ek borsarea by alle gesigbehandelings ingesluit. Die meeste salonne in Suid-Afrika bied nek en borsbehandelings as ’n aparte behandeling aan. Sonette se raad; maak seker om hierdie behandelings, nes jou gesigbehandelings, ook te prioritiseer. 

My kliënte bespreek gereeld chemiese afskilfersessies, of mikronaaldbehandelings vir die nek en borsarea. Vir wonderlike resultate op die bors en nekarea sou ek die volgende voorstel: ’n 50% glikolsuur (glycolic acid) en 10% melksuur (lactic acid) peel, of ’n TCA Peel. Die vel sal een week na hierdie behandeling begin afdop. Dit is belangrik om hierdie meer intense behandelings tydens winter maande te doen wanneer jy die vel kan toehou. Die resultate is iets besonders.”

Stylvol stel die volgende produkte voor vir jou nek en bors:

Clarins Super Restorative Decolleté and Neck Concentrate (R1 640)

Vir vroue bo die ouderdom van 50, die luukse tekstuur room verfyn die vel se tekstuur en versag die voorkoms van plooie op die nek en borsarea. Dit is hidrerend en verminder ook die voorkoms van sonbeskadiging.

Lamelle Dermaheal Ageing Reversal Neck Serum (R1 015 Dermastore)

Hierdie serum bevat groeifaktore wat nuwe kollageen en elastienproduksie stimuleer.

NeoStrata Skin Active Triple Firming Neck Cream (R1 345 Dermastore)

Bevat ’n gepantenteerde aminosuur wat hialuroonproduksie in selle vermeerder om die vel op te plomp. Die produk bevat ook peptiedes wat kollageenproduksie vermeerder en versterk. Die vitamiene E in die produk dien as ’n kragtige anti-oksidant wat vrye-radikale beveg.

pHformula NECK Recovery (R1 065)

’n Room wat beloof om kollageenproduksie te bevorder. Die room verhoog ook jou vel se vogvlakke. Na gebruik is die vel fermer, en daardie fyn plooie op jou nek en bors word al hoe gladder in tekstuur.

Meer oor velkenner Sonette Donker:

Sonette Donker is ‘n spesialis velsorgkundige, met meer as 25 jaar ondervinding. Sy het al saam met verskeie plaaslike en internasionale skoonheidshuise gewerk om produkte bekend te stel.

Besoek gerus haar webstuiste www.skinfundi.com en insiggewende informasie op sosiale media hier.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Wenke vir jou winter velsorgroetine
error: Content is protected !!