Familietradisies en -rituele is nie iets waaraan ons aldag dink nie, maar die voordele hiervan is so belangrik. Hierdie is dalk tradisies en rituele wat julle as gesin ook reeds doen en dalk is hier ’n paar nuwes om aan te pak. Deur Suzanne Kotzé
08/04/2022
Familie-tradisies versus -rituele
Eenvoudig gestel is ’n tradisie iets wat oor tyd op dieselfde manier gedoen word. Dit het meer van ’n simboliese waarde as rituele, wat daagliks of weekliks gedoen word. ’n Paaseier soektog of spesiale Kersmaal sal ’n tradisie wees, terwyl iets soos ‘Vrydagaande pizza en fliek’ ’n ritueel is.
Baie families het tradisies wat van een generasie na die ander oorgedra word.
In Amerikaanse familiekundige Meg Cox se book “The book of New Family Traditions: How to Create Great Rituals for Holidays and Every Day” skryf sy dat familierituele ’n gevoel van sekuriteit skep wat ouers en kinders nodig het. Van vakansies tot verjaarsdae, slaaptyd, maaltye, troeteldiere en selfs take.
Hoekom is familietradisies en -rituele so belangrik?
1. Dit skep herinneringe en ’n band tussen familielede
Herinneringe skep nie net ’n band tussen mense waaroor jy in later jare kan lag en gesels nie, maar navorsing wys ook dat ouer volwassenes goeie tye beter onthou. Die rede hiervoor is dat die deel van ons brein wat die prosessering van emosies beheer saam met die deel wat ons geheue werk wat herinnering prosesseer wanneer ouer mense positiewe gebeure ervaar.
2. Dit laat mense ‘deel’ voel
Tradisies laat mense, en veral kinders, deel van iets groters en unieks voel.
3. Dit skep sekuriteit
As dinge voorspelbaar is, laat dit veral kinders gemaklik en veilig voel.
4. Dit is iets om na uit te sien
Of dit nou is om saam in die woud te stap op ’n Saterdag of om nefies en niggies te sien by die maandelikse familie ete.
5. Dit skep nouer familiebande
“Wat ookal die ritueel is, al is dit hoe klein, lyk dit asof dit mense nader aanmekaar laat voel,” sê Ovul Sezer, navorser by die Harvard Business School en primêre outeur van die navorsingsartikel “The More Rituals the Merrier”. Mede-outeur, sielkundige Kathleen Vos, sê die rede hiervoor kan moontlik wees dat rituele klein, nie voor die hand liggende maniere bied om ’n ondervinding te deel sonder om ongemaklik of geforseerd te voel. Dink maar daaraan, om saam paaseiers te soek of speletjies soos charades te speel deel jy in die geluk of gewoonte van die oomblik sonder om te veel daaroor te hoef te dink.
6. Dit laat jou terugverlang na familie, selfs al is julle nie bymekaar nie
As rituele gewoontes word, waaraan jy dalk nie later meer weekliks kan deelneem nie, laat dit jou dadelik terugverlang na jou familie. Op ’n Saterdag ruik jy dalk ’n braaivleisvuur en kry dadelik lus vir hoender en verlang na jou pa, want hy braai elke Saterdag hoender. Jy is dan meer geneig om uit te reik na jou familie.
7. Dit skep ’n band oor generasies heen
Ouma of Oupa verstaan dalk nie wie die Youtuber is oor wie kleindogter of-seun praat nie seun praat nie, of wat jy nou eintlik bou in Minecraft nie, maar almal verstaan dat die volgende Jenga blokkie nie mag val nie. Of as die hele familie saam byvoorbeeld rugby op die TV kyk, verstaan almal hoekom dit belangrik is dat die Springbokke nou dadelik ’n drie moet druk; en na die tyd hieroor gesels.
Hoe om seker te maak familietradisies en rituele duur voort
- Iemand in die familie moet die voortou neem met beplanning. Maak seker almal weet wie dit is of neem buurte om die beplanning te doen.
- Dit moet maklik wees vir mense om deel te neem en nie te veel beplanning en dinkwerk verg nie.
- Dit hoef nie duur te wees nie.
- Julle moet dit geniet; ’n groot deel van tradisies en rituele gaan daaroor om pret te hê. ’n Mens hoef nie vas te klou aan ’n tradisie net omdat dit ’n tradisie is nie.
Voorbeelde van familietradisies en -rituele:
- Paaseiers soek
- Verjaardagkoek en sing in die bed met verjaarsdae
- Neem ’n verspotte familiefoto elke jaar of tydens elke familiebyeenkoms
- Deel en maak familieresepte
- Jaarlikse kampnaweek
- Kersboom saam versier
- Voorbeelde van familierituele:
- Familie fliek- en pizza-aande
- Bordspeletjies
- Stap in die woud op ’n sekere dag van die naweek
- ’n Familieswem op sekere dae in die week gedurende die somer
- Hou ’n gesinsboekklub een keer per maand
- Hou ’n gereelde bordspeletjie-aand
- Verskillende lede van die gesin is vir ’n sekere aand se kos of spyskaart verantwoordelik
- Koek en tee na kerk
Daaglikse rituele
- Groet mekaar op ’n spesiale manier
- Eet minstens een maaltyd saam
- ’n TV-program wat die hele familie saamkyk
- Fone weg tydens ete
- Positiewe bevestigings in die motor terwyl julle skool toe ry
Lees ook: Paas-gesinstradisies