Dit is nie altyd maklik om ’n goeie kwaliteit maar ook stylvolle paar winterslaapklere te vind nie. Ons deel 6 beste wenke om in gedagte te hou wanneer jy jou winter (of somer) slaapklere kies. Loer onder vir 9 stylvolle winterslaapklere en -stelle op ons wenslysie. Deur Justine Kroes
05/07/2024
6 Beste wenke vir winterslaapklere kies
1. Temperatuur
Hou die klimaat en temperatuur in gedagte wanneer jy slaapklere koop. Tydens warmer somersmaande is ’n ligte bamboes materiaal rokkie dalk meer geskik. Terwyl tydens koeler wintersmaande kan jy swaarder materiale kies wat minder lugregulerend is.
2. Materiaal is belangrik
Ons is almal sintuiglike wesens – party meer as ander, daarom is die materiaal van jou slaapklere belangrik. Die materiaalstof wat jy kies reguleer jou liggaamstemperatuur, ’n belangrike aspek vir ’n goeie nagrus.
Katoen is ’n sagte materiaal en lig op die vel, ’n goeie opsie in warmer weer omdat die materiaal goeie lugsirkulasie bied. Vir die winter, kyk uit vir ‘n “brushed cotton” wat ’n warmer en meer snoesige gevoel teen jou vel gee.
Bamboes is ’n syagtige sagte materiaal wat uit plantmateriaal gemaak word. Die materiaal word ook geken as “bamboo viscose”. Dit is anti-bakterieël, veral goed vir die wat sukkel met ’n sensitiewe vel. Bamboesmateriale beheer vogtigheid baie goed, byvoorbeeld as jy sweet word dit vinnig deur die materiaal geabsorbeer en die materiaal word ook blitsvinnig droog. Dit is boonop termoregulerend wat beteken dit hou jou koel tydens warmer somermaande en warm in die koeler wintersmaande. ‘n Gunsteling bamboes opsie hier by Stylvol is Boodywear Sleepwear, glo ons, jy het nog nie sulke ultrasagte, gemaklike slaapklere gevoel nie!
Egte sy is ’n termoregulerende materiaal, wat beteken dit hou jou warm wanneer jy koud is en koeler wanneer dit warm is.
Rayon is ’n ligte en rekbare materiaal wat ook lugregulerende eienskappe het. Die rek (stretchiness) van hierdie lap sorg vir gemak soos g’n ander.
Swaarder materiale soos satyn en poliëster is beter opsies vir koeler wintermaande eerder as hoog somer, hoewel hulle lugregulerende eienskappe nie so goed is nie.
3. Kies gemaklike winterslaapklere
Vir ’n goeie nagrus is dit belangrik dat jy maklik genoeg kan rol, draai en rondbeweeg in jou pajamas.
Wanneer dit by gemak kom, is dit belangrik om slaapklere te kies wat glad nie jou lyf sal irriteer of pla wanneer jy slaap nie, let op na aspekte soos die soom en kraag en of dit krapperig voel. Dit sal ook help om ’n pajamastel met minder versierings te kies. Slaapklere wat effens rek sonder te veel elemente soos ritse, tossels en tientalle knope is ’n beter opsie. Veral as jy verkies om op jou maag te slaap, dan is pajamas sonder knope ’n beter opsie.
Hoe dit ookal sy, die gemaksaspek van jou slaapklere is belangrik – almal verdien ’n goeie nagrus!
4. Pajamagrootte is belangrik
As dit te groot en lospassend is, verloor jy dalk al die hitte-isolerende voordele van jou pajamas. Te styfpassend, voel dit ongemaklik en kan ook sirkulasie negatief beïnvloed, ongemaklik sit en jou slaappatroon versteur. Dit is belangrik dat jy maklik genoeg kan rol, draai en rondbeweeg in jou pajamas.
5. Persoonlike voorkeur en styl
Elkeen het sy slaapklerevoorkeur, party verkies om in nagrokkies te slaap, en ander verkies langbroeke en opknoophemde. Hou jou slaapklerevoorkeur in gedagte wanneer jy slaapklere kies.
Die ander aspek van pajamas kies, is die styl-element. Baie van ons geniet dit om in ’n mooi stel pajamas te slaap. ’n Stylvolle slaapklerestel wat nie lyk asof daar ’n tekenprentjie op jou pajamas ontplof het nie. Kies ’n stel wat jou persoonlike styl weerspieël en wat jou laat mooi voel, ja dit is selfs belangrik om partykeer ook mooi te voel wanneer jy slaap!
6. Kwaliteit
Goedkoop koop is duur koop, en ons het al die bloutjie met slaapklere geloop. Jy koop pajamas omdat dit dalk vir jou mooi is maar jy dra dit een keer omdat dit krapperig voel en jou dalk saans laat sweet terwyl jy slaap. Of na een was is jou nuwe stel pajamas of uitgerek of gekrimp. Selfs met slaapklere koop is die “cost per wear” gedagte belangrik om in jou agterkop te hou.
Dink aan hoe baie ure jy in jou nagklere deurbring en hoe gereeld jy dit dra. Dit maak vir ons sin om goeie kwaliteit slaapklere van goeie materiale te koop. En ons sien dit eerder as ’n belegging wat nie net jou slaappatroon kan help verbeter nie maar ook vir ten minste ’n paar jaar lank hou.