Sit julle ook gewoonlik die aand voordat julle met vakansie vertrek met julle hande in julle hare, voel oorweldig en moeg en niks lus vir pak nie? Die resultaat is, jy pak te veel klere wat jy nooit dra nie of veels te min! Ons het hierdie oulike vakansie pakwenke van Lilli Malan (@looksbylilli) op Instagram raakgesien en gedink hierdie doenbare wenke is iets wat elkeen moet weet om die pakproses makliker te maak! Deur Justine Kroes
1. Kyk vooraf na die weer:
Ek dink as jy beheer kan neem van net een ding, soos byvoorbeeld die weer, sal die pakproses reeds minder stresvol wees.
Deur te kyk na die weer kan jy ’n goeie vooruitsig kry van watter tipe klere jy kan inpak. Dit maak ook jou tas minder vol! Beplan jou uitrustings volgens die hoeveelheid dae en die weer van elke dag.
2. Pak veelsydige staatmakers
Dink aan die veelsydige items in jou kas – hoe jy daardie items kan kombineer met ander sodat jy die meeste dra uit hul kry en sodoende minder items pak.
Lilli se “Een broek kan twee tot drie keer gebruik word – afhangend van die lengte van die vakansie, dan kan jy elke keer ’n ander hempie en skoene of bykomstighede bywerk vir ’n hele nuwe uitrusting!”
Dieselfde kan jy herhaal met ’n veelsydige romp, gemaklik met sandale en swembroek strand toe of meer deftig met ’n hakskoen en mooi bloes vir skemerkelkies vir die aand!
3. Neem fotos van jou uitrustings
Wanneer jy besluit het watter items jy volgens die weer en jou veelsydige staatmakers gaan inpak, neem dan foto’s van jou stelle uitrustings en stoor dit op jou selfoon.
Die foto’s help jou ook om te onthou wat alles jy ingepak het, veral as jy vanuit jou tas leef!
Hierdie “metode” help ook om tyd te spaar in die oggend as jy nie lus het om uitrustings bymekaar te sit nie – loer na jou eie fotokatalogus! Tydspaar wen – veral as jy toer en baie goed het om te sien en te doen.
4. Slim inpakwenke
Vir korter vakansies, of selfs net vir een aand, pak wat jy dadelik gaan dra heel bo (gewoonlik slaap klere) en dan jou volgende dag se uitrusting net onder dit.
Rol jou klere – so pas jy als makliker in (en jou klere kreukel ook minder). As jy ekstra oulik wil wees kan jy altyd jou klere à la Marie Kondo styl inpak!
Kry ’n smuktassie wat compartments of afdelings het. Ek gebruik graag ’n Country Road sakkie wat 3 afdelings het wat toegerits kan word. So een kompartement kan gebruik word vir oorbelle, die ander een kan gebruik word vir velsorg en die ander een gebruik ek vir grimering. So maak ek ook seker dat my grimering nie alles anders per ongeluk vuil maak nie.
5. Moet nie vergeet om dié in te pak nie
Pak ook dalk ’n haakspeld en naald en gare in – mens weet nooit wanneer daar ’n wardrobe malfunction is nie!
Die oulike Portable Sewing Kit (R199) van Takealot het als wat mens nodig het, en meer!
Hier by Stylvol kan ons ook glad nie vakansie hou sonder ’n steamer nie – blitsvinnige manier om van kreukels onstlae te raak. Klein en kompak en gladnie swaar nie Phillips Handheld Steamer (R899)
Lilli Malan deel die oulikste uitrusting-inspirasie en modewenke op haar instagramblad @looksbylilli volg haar hier.
Lees ook: Dit pak modekenners in hul vakansietasse