Die dalende temperature is hier en daarby is dit weer tyd om jou winterklerekas reg te ruk en af te stof. As jy dalk gewonder het wat tans hoogmode is – hier is 13 winter trends waarvan jy nou moet weet. Kundige voorkomskonsultante en stylkenners deel trends wat hul nou raaksien asook ’n paar handige wenke daarby: Deur Justine Kroes
22/04/2022
1 Y2K-Styl
Die laat 90’s vroeë 2000’s modes is terug…dink vlinder knippies in jou hare, klein t-hemde (met uitsteek magies) en natuurlik low rise denims. Jy hou of baie van hierdie trend, of gladnie, net soos ons stylkenners verduidelik;
Stilis en voorkomskonsultant Carissa Bosman sê “Daar is ’n groot beweging terug aan die 90’s modestyle toe – dink aan die Matrix, laat 90’s Friends tv-reeks vibes. Ek is mal oor die 90’s se styl, beslis een van my gunsteling mode-eras.”

Simone Lombard, voorkomskonsultant en stylkenner se gevoel oor die Y2K-mode aan die ander kant “Ek het gebid die dag van low-rise denims sal nooit weer terugkeer nie, maar dit lyk wel asof dit het (met low rise mini rompe daarby!) Die Y2K-modegier is nie baie inklusief vir alle liggaamsvorme nie. Onthou dis net ʼn gier, so dit sal ook met tyd verby gaan. Kom ons hoop vinnig!”
2 Gekleurde bykomstighede
Carissa beskryf die winter trend as ’n “pop of colour”, om enige helderkleurige item by jou uitrusting te dra.
“Die gekleurde bykomstighede val binne die “dopamine dressing” mode-neiging – wanneer jy helder kleure dra, voel jy beter! En hoekom moet jou handsak swart, bruin of tan wees? Probeer een in ’n helder kleur! Dra dit saam met ’n neutrale kleur en gee nuwe lewe aan die uitrusting. Of probeer om jou uitrusting te kleurblok deur twee verskillende kleure saam te dra” is Susra Matthee, voorkomskonsultant en stylkenner se raad.
3. Blazers
Verskillende vorme, groottes, style en kleure is beslis ’n groot mode tendens, volgens Carissa. Sy verduidelik “‘n Blazer pas by byna enigeiemand, boonop kan jy dit by soveel verskillende items in jou kas aantrek. By rompe, by ’n rok en selfs by jou denims. Lees meer hier oor die 8 Blazer trends vir jou herfs/winter klerekas.
4. Uitklok broeke
Noupassende (dink skinny) styl broeke is nou al ’n ruk nie meer hoogmode nie. Meer lospassende en nou die uitklok styl broek van die 70’s is weer terug. Carissa verduidelik – “broeke wat effens “uit flare” maar steeds lospassend (baggy)is, is ’n moet op jou koop lysie as jy van die styl hou”. As die te losspassende styl nie vir jou is nie – loer na broeke wat meer noupassend is met ’n effense uitklok by die enkels. Baie van die style het ook ’n gleuf (slit) ingesny aan die onderkant wat dit net so tikkie meer vroulik en modern maak.
5. Kunsleer
Carissa sê “Pleather of kunsleer is ’n trend om dop te hou – dink bypassende leer stelle of pakkies – broek of romp en baadjie kombinasies.”
Simone hiermee stem saam “Nagemaakte leer is nog ’n trend om dop te hou – maar ongelukkig hou leer, veral nagemaakte leer nie so lank nie. Ek sal eerder net ʼn enkele item aanskaf om deel te neem aan die modegier eerder as om te veel geld daaraan te spandeer (kop tot tone). Leer komplimenteer dikwels items met ʼn sagter tekstuur/ gevoel. So dink aan die volgende: ʼn leerbroek en ʼn sagte satyn bloes of ʼn leer bloes met ʼn geplooide romp.”
6. Uitstaan Jasse
Die winter gaan oor jasse wat ’n duidelike stelling maak. Kyk uit vir helder kleure, patrone en teksture. Die teddyjasse of “furry coats” (dit hoef nie die ware Jakob te wees, daar is baie ander alternatiewe) is ’n groot gunsteling om jou die winter warm te hou. Hierdie oorgroot jasse lyk goed saam met ’n noupassende truirok, katpak of midi romp, is Susra se raad.
7. Skaakbord trend
In Engels, die Checkerboard trend word gesien as winter se weergawe van die ruitjiespatroon (gingham) wat die afgelope somer ’n groot trend was. Die patroon is in al die skakerings van die reenboog beskikbaar met klein of groot blokkies. As jy huiwerig is om die een aan te pak – probeer dalk ’n serp of handsag as beginpunt!
8. Die truirok

As enige les die laaste twee jaar geleer is in die mode bedryf, is as daar ‘n opsie is, sal mense altyd gemak kies. Die “knit dress” of truirok is presies dit – gemak. Natuurlik sal dit jou ook warm hou wanneer die temperature drasties val.
Jy sal meestal hierdie rokke in lank of midi lengte sien in natuurlike skakerings. Dra dit saam met verskillende teksture (jasse of baadjies) in dieselfde kleurskemas (monokroom!) met jou stewels of tekkies daarby.
9. Pofbaadjies
In al hul vorme is hierdie siesoen weer groot nie – groot, kort, afmou – noem dit! Lees meer oor die pofbaadjies en hoe om dit reg te dra hier.
10. Bonkige stewels en loafers
Susra sê: “Bonkige rubberstewels oorheers steeds die algehele skoen neiging. Dit word hierdie seisoen veral in swart, wit of room gesien. Alhoewel jou tekkies nogsteeds aanvaarbaar is, is hierdie stewels tans een van die meer modieuse keuses om by jou rokke te dra.
Simone se raad vir platform- en bonkige stewels. “Ek hou daarvan om bonkige skoene met sagter en vrouliker items soos rompe en rokke te stileer. MAAR Onthou om balans in jou uitrusting te handhaaf. Bonkige stewels kan ’n “bottom heavy”-effek skep – waar jou onderlyf grooter vertoon as wat dit werklik is. Stileer dit met items wat aandag na jou skouers/ bo-lyf trek. Dink skouerkussings/ baadjies/ serpe/ kraaghemde. Moenie teveel oorgroot/ los items saam met jou stewels stileer nie.
Carissa sê die loafer styl skoen is hierdie seisoen ook meer groot en bonkig met oorgroot dramatiese sole daarby. “As jy voel die heel bonkige style pas nie by jou liggaamsbou of jou stylpersoonlikheid nie is daar beslis weergawes daar buite wat minder bonkig is, loer gerus by Tread & Miller en Poetry.”
11. Die helderkleurige pak
Susra sê “’n Pak is lankal nie meer ’n mode-stapel item gereserveer vir kantoordae of formele geleenthede, veral omdat daar soveel verskillende maniere is om dit te dra.”
“Elke seisoen is daar ’n nuwe benadering van die vroulike pak, en hierdie seisoen oorheers die kleurvolle skakerings vir Winter 2022. Dit is ook opmerklik dat die snitte ’n bietjie stywer en minder oorgroot is as in vorige seisoene.” Susra
“Dra dit saam met ’n vroulike bloes en loafers gedurende die week en t-hemp en tekkies vir naweke en verander dit na ’n aand uit voorkoms met ’n kamisool en kitten heels. Ek is veral mal oor die blompatrone hemp saam met die kleurevolle pakke, soos gesien by ontwerper Victoria Beckham.” Susra


“Die beste plus punt van ’n pak aankoop is dat dit net so goed apart ook werk. Dra die baadjie saam met ’n rok of denims en die broek met ’n bloes of trui.” Susra
12. Skakerings van groen
Groen is heel moontlik een van Herfs/winter 2022 se grootste skakerings, lees meer oor die allebekende Kelly Green skakering en hoe om die regte groen vir jou te vind.
13. Oor die knie stewels
Of dit nou leer, suede leer, materiaal of kunsleer is – is die oor die knie stewel een van die seisoen se grootste skoene-trends beslis ’n trendy plaasvervanger vir jou enkelstewels wat jy nou al jare lank dra.
Die stewel kan plat, of met ’n hak gedra word – watookal die beste by jou stylpersoonlikheid en leefstyl pas. Dra die stewel by mini rompe(y2K en 70s!), noupassende leer broek en ’n oorgroot trui of by romantiese rokke en selfs bo oor jou denim as dit nou regtig ysig koud raak. Skakerings van wit en room is beslis van die gewilde keuses onder modekenners.
14. Denim van kop tot tone

Hier praat ons nie van Britney Spears en Justin Timberlake se 90’s uitrusting nie – dink meer lospassend, denim eenstukke en denim by denim broeke en baadjies.