10 Somer skoen-trends

Uiteindelik is die somer hier, pak weg jou warm stewels en verruil dit vir een van hierdie seisoen se grootste skoen-trends, van sandale met fyn bandjies, helder reënboogskakerings, gevlegde skoene tot skoene met versierings – daar is beslis ’n gunsteling vir elke stylpersoonlikheid hierdie somerseisoen. Hier is ons top tien moet-hê skoenstyle vir die somer; Deur Justine Kroes

1. Platformsandale (flatforms)

Dis die gemaklike sandaal (maar steeds sjiek!) weergawe van ’n hakskoen dié seisoen. Die soolgedeelte is bonkig en gewoonlik een hoogte vanaf die voorpunt tot die agterkant van die skoen. Dink daaraan as ’n sandaal met ekstra hoogte.

Wenk; Daar is soveel verskillende style en hoogtes beskikbaar – kies ’n paar wat die beste by jou leefstyl sal pas. Hierdie skoenstyl lyk fantastie by wyepypbroeke, een van die seisoen se grootste mode trends!

Woolworths Ankle Strap Flatform Sandal (R549)
ALDO Perwell Flatform (R1119)
UGG Clem Burnt Olive (R1899)

2. Fyn-bandjieskoene (strappy sandals)

Met hierdie ekstra strappy skoenstyl is die fokus op dun bandjies. Beslis ’n skoen vir ’n fyner voet.

Wenk – maak seker die bandjies en skoen pas jou voet goed. Daar is niks meer onvleiend as ’n skoen met fyn bandjies wat duidelik die vel druk en ongemaklik of seer lyk nie.

Zara Tied Heel Leather Sandals (R1499)
Steve Madden Twirl Black Sandal (R999)
Mango Strappy Heel (R799)

3. Gevlegde skoenafwerkings

Hierdie gevlegde of geweefde afwerking is hierdie seisoen op hakskoene, sandale en selfs op jou balletskoene en tekkies te sien.

Wenk; Hou jou klerekas en stylpersoonlikheid in gedagte wanneer jy jou gevlegde paar kies, hierdie skoenstyl kan maklik ’n stapelitem vir enige klerekas word.

Steve Madden Assist Camel (R1099)
Steve Madden Alonna Yellow Sandal (R699)
Country Road Cynthia Sandal (R1099)

4. Sportsandale

Die perfekte kombinasie van mode en gemak in een styl. Dink daaraan as die somerseisoen se nuwe weergawe van die “tekkie”. Gemaklik, veelsydig en sommer baie modieus.

Wenk; Dra dit by rompe en rokke om die voorkoms van die sportiewe skoen te versag en meer vroulik te laat voorkom.

ALDO Adweaven (R1299)
Zara Contrast Sport Sandals (R799)
Mr Price Check Sport Sandal (R119,99)

5. Skoene met vierkantige voorpunte

Of jy nou hierdie modetrend haat of daarvan hou is dit beslis een van die grootstes wat oorgespoel het van 2020 af. Die bonkige tekkie was in 2019/2020 die top skoenkeuse maar 2020/2021 het die vierkantige voorpunt die plek as een van die top-skoentrends ingeneem. Van hakskoene tot sandale en selfs balletskoene en tekkies is nou beskikbaar met vierkantige voorpunte!

Wenk: hierdie trend is een van daardie mode-items wat beslis gesien moet word, so moenie huiwer om dit selfs in ’n helder- of pastelskakering of met een of meer versierings te kies nie.

Cotton On Hitch Knotted Mule (R599)
Nicci Boutique Plaited Square Toe Sandal (R750)
ALDO Daniellita (R1399)

6. Reënboogskakerings

Groen, pienk, geel en pers is maar ’n handvol van hierdie seisoen se mees populêre modeskakerings – lees die artikel oor skakerings wat tans groot nuus is hier.

Wenk; As jy graag ’n helder kleur wil dra, maar dit pas nie by jou gelaat nie, is helder skoene (selfs handsakke) die beste manier om dit wel te dra. Omdat dit nie naby jou gesig gedra word nie, sal dit nie beïnvloed hoe jou gelaat/ veltoon voorkom nie.

Zara Heeled Shoe with pointed toe (R1699)
Country Road Reese Mule (R1199)
Zara High Heel Court Shoes (R699)

7. Skoene met versierings

’n Gunsteling skoen-trend hierdie seisoen is beslis skoene met “meer is meer” versierings. Van kettings, tot pêrels en selfs skoene met ’n bonkige gespe bo op.

Wenk; As jy huiwerig is vir hierdie “meer is meer” aanslag tot skoene, hou liefs die res van jou uitrusting minimalisties en neutraal by hierdie uitspattige skoenstyl vir ’n meer moderne voorkoms.

Zara Mules with buckle detail (R799)
Zara Shimmery Slingback Heel (R1099)
Zara High Heel Shoes with Chain (R699)

8. Moderne balletskoene

Hierdie seisoen lyk die balletskoen bietjie anders as die vervelige “pump” styl wat ons dalk mag ken. ’n Dekade nadat hierdie skoenstyl groot was (wie onthou Gossip girl?!) is dit weer gesien op bekende ontwerpers soos Celine, Dior, Valentino en Simone Rocha se lente/somer 21 loopplanke. Hierdie sjiek skoenstyl is nou beskikbaar in helder kleure met interessante afwerkings, versierings en selfs vierkantige voorpunte.

Wenk; As jy graag jou bene langer en slanker wil laat lyk, kies ’n neutrale kleur (met interessante detail!) en ’n effense punt aan die voorkant om jou bene te verleng en vlei.

Mr Price Chain Pointy Pump (R119,99)
Zara Ballerinas with Bow (R459)
Mango Leather Pump (R1199)

9. “Kitten heels”

Koebaai hoë hakke, hallo kitten heels! Ons sien hierdie korter hakskoen styl as die “opvolg” inleiding tot hoë hakke nadat die pandemie getref het. Almal is nog nie heeltemal gereed om terug te keer na stilettostyl skoene nie en ’n laer paar kitten heels maak net soveel meer sin. Dit is meer gemaklik, sagter op jou voete en sommer ook meer modieus. Jou voete gaan beslis dankbaar wees!

Wenk; ’n Kitten heel is daardie paar skoene wat jou uitrusting blitsvinnig meer formeel en afgerond kan laat lyk, dit wat jy gedurende die dag gedra het met ’n paar kittens heels neem jou uitrusting van dag na aand. Dra dit by jou jeans en T-hemp of selfs by ’n somerrok vir ’n netjiese, semi-formele afgeronde voorkoms.

Jeffrey Campbell Eight-y (R3149)
Mango Thin Leather Heel (R1199)
Mango Pastel Orange Kitten Heel (R1199)

10. Bonkige sliders (Chunky sliders)

Die Birkenstock-styl slider bly steeds groot nuus maar hierdie seisoen is dit beskikbaar in plastiek, kleure van die reënboog asook interessante patrone en afwerkings. ’n Unieke paar is dié seisoen se veelsydige moet-hê skoen.

Wenk; As jy nog jou visplakkies dra strand toe, verruil dit gerus vir ’n bonkige slider aanglipskoen met ’n verskil.

Steve Madden Multicolored Slides (R399)
Mr Price Cleated Chunky Slip on (R149,99)
Woolworths Embellished Double Buckle Slides (R249)

Lees ook: 12 Wenke om meer afgerond te lyk

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Maak jy hierdie voorkomsfoute?
error: Content is protected !!